Gebore
30 Mrt. 1912
OORLEDE
18 Okt. 1998
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1935
ORDEN
1938
STANDPLASE
1938 Soedan
1950 Steinkopf
1956 Riversdal/Albertinia (Werkkring)
1968 Riversdal/ Albertinia
1972 Heidelberg, KP
EMIRITEER
1977
Anthonie Botes is op 30 Maart 1912 te Wamakerskraal in die distrik van Prins Albert langs die Dwykarivier waar sy ouers skaapboere was gebore. Hy het die laerskool (1921-1927) en hoërskool (1928-1931) op Prins Albert bygewoon waar hy ‘n eersteklas-matriek behaal het. Hy het later vertel hoe hy en sy broers dikwels sy vader se donkies in die oop veld moes gaan soek het wanneer hulle weens die droogte met die skape moes trek. Omdat hy soos Saul sy vader se donkies moes gaan aankeer, het sy studentemaats hom later die bynaam van “Saul” gegee. In 1935 het hy sy studies by die Hugenote-Kollege op Wellington voortgesit waar hy die BA-graad behaal het. Sy kursusas sendeling aan die Sending-Instituut het hy met onderskeiding voltooi.
Terwyl hy sendingwerk in Nigerië gedoen het, het hy ‘n sendelingdame, Susanna Francina Johanna van der Merwe ontmoet. Hulle is op 7 Julie 1941 getroud. Hulle het ‘n lang en gelukkige huwelik van 57 jaar gehad. Sy is op 30 Januarie 1999 oorlede. Uit die huwelik is vyf kinders gebore, Johannes, Susanna, Andreas, Pieter en Hendrik. Daar is ook reeds vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Die Botes-egpaar was bykans lewenslank sendelinge in diens van die NG Kerk eers in Nigerië en later in Namakwaland. Hulle eerste gemeente was Kunav in Nigerië/ Soedan (30 Oktober 1936); In hierdie werkkring moes hy en sy vrou (soos baie ander sendelinge in daardie tyd) ook die mediese versorging van die Soedanese behartig aangesien daar bykans geen dokters was nie. Hy het dusin 1936 ‘n kursusin tropiese siektes en algemene mediese behandeling aan die Livingston College in Londen deurloop. Totdat ‘n dokter na ses maande daar aangestel is, moes hy en sy vrou alle mediese behandeling in die hospitaal waarneem en selfs operasies uitvoer.
Van Soedan is hulle na Steinkopf (17 Desember 1949) en later na die sendingwerkkring Riversdal/Albertinia in Junie 1956. In 1968 het Riversdal en Albertinia egter twee selfstandige sendinggemeentes geword. Op 14 Oktober 1972 het hy ‘n beroep aangeneem na die sendinggemeente van Heidelberg in die Kaap.
Hy was ‘n doelgerigte mens in sy bediening. Hy het nooit geskroom om iemand aan te spreek wanneer dit nodig was nie. Van die egpaar kan gesê word: “Hulle het gelewe sonder aardse ophef, maar in die oë van God was hulle kosbaar.”
Ds. Botes het op 11 Junie 1977 sy emeritaat aanvaar weens verswakte gesondheid. Hulle het op Montagu gaan woon waar hy nog in verskeie gemeentes preekbeurte waargeneem het en ook twee maande in die moedergemeente op Carnarvon aflosdiens gedoen het. Hy is daar oorlede op 18 Oktober 1998. – Dirk Viljoen, met gebruikmaking van sy biografiese vorm en ‘n berig van ds. André Scheffler. (Jaarboek 2000/327).