
Gebore
24 Apr. 1910
OORLEDE
11 Okt. 2005
UNIVERSITEIT
BA, MA, D.Phil. (US)
gelegitimeer
1938
ORDEN
1941
STANDPLASE
1941 Umtata (Hpr.)
1942 Heidelberg, Tvl. (Hpr.)
1943 Heidelberg, TvI.
1947 Pretoria-Noord
1950 Capital Park-Oos
1952 Heidelberg, Tvl.
EMIRITEER
1978
Dr Faul Bosman (BA, MA, D.TH.) (24 Apr. 1910 – 11 Okt. 2005)
Alfred Edward Faul Bosman is op 23 April 1910 op Hartebeesfontein in die ou Wes- Transvaal gebore. Sy vader Abraham Daniël Bosman het in die distrik geboer en sy moeder Susanna Johanna Faul het die Here as huisvrou gedien.
Faul vertrek in 1931 na Stellenboseh waar hy die BA-graad in Maatskaplike Werk en Sielkunde verwerf. Hier kom hy in noue kontak met die jong dr HF Verwoerd, eers dosent in Sielkunde en later eerste professor in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Stellenbosch. Dr HF Verwoerd het ‘n groot invloed op die denke van die jong Faul Bosman gehad. Dit was in die tyd van die bekende Camegieverslag, toe die armblanke-vraagstuk deur die NG Kerk in Suid-Afrika aangespreek is. In 1934 verwerf hy die MA-graad met die titel: “Werkloosheid gedurende die depressiejare”. Later kruis hulle paaie weer toe dr HF Verwoerd as eerste minister in 1965 ‘n feesboodskap bring met die eeufeesviering van die NG Gemeente Heidelberg (Transvaal); Destyds was dr Faul Bosman daar predikant.
In 1935 word hy student aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch. Dit is kort na die Du Plessis-saak wat ‘n beroering in die NG Kerk bring. Aan die einde van 1938 word hy as proponent gelegitimeer, maar studeer verder en behaal in 1940 die DPhil-graad op Stellenbosch, met die titel: “Behuising vir Werkersklas”. In die jare 1939-1940 was teologiese student Faul Bosman ook ‘n tydelike lektor in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Stellenbosch. In Matieland dien hy in die redaksie van die Studenteblad, is hy ‘n bestuurslid van die CSV en dien hy in die Studenteraad.
Op 11 Januarie 1941 word hy bevestig as leraar in die NG Gemeente Umtata, die bevestigingsrede word deur prof GBA Gerdener van Stellenbosch waargeneem. Alhoewel dit in tydelike hoedanigheid is in die plek van ds. G de C Murray wat as kapelaan diens doen gedurende die Tweede Wëreldoorlog, word hy georden omdat dit so ‘n afgeleë gemeente is waar hy ook die sakramente moet bedien. In die winter van 1942 word hy hulpprediker in die NG Gemeente Heidelberg (Tvl); waar hy op 13 Maart 1943 as tweede leraar beroep is. Op 16 September 1944 gee die kerkraad aan hom die status as medeleraar van ds. PJ Viljoen, legendariese kerkman wat diep spore eers op Oudtshoorn en tot met sy dood op Heidelberg in die Transvaalse Kerk trap. Na ‘n dienstyd van vyf jaar neem hy in 1947 ‘n beroep aan na die NG Gemeente Pretoria-Noord, waar hy werk tot hy in 1950 leraar van die NG Gemeente Capitalpark-Oos word.
Hier kom ‘n roepstem terug na Heidelberg (Tv1); Eers na ‘n tweede beroep aanvaar hy dit en word op 3 Mei 1952 vir die tweede keer bevestig as die herder van die NG Gemeente Heidelberg (Tvl.); hierdie keer saam met ds. AM Meiring wat die bevestigingsrede lewer. Hy aanvaar op 1 Oktober 1978 sy emeritaat en doen net soos sy voorgangers uitstekende werk op Heidelberg. Hy skryf twee boeke oor die gemeente Heidelberg, dit verskyn met die eeufees van die gemeente in 1965 en met die eeufeesviering van die kerkgebou in 1991. Op Heidelberg dien die leraarspaar die gemeente met oorgawe en beleef besondere tye. Hy is betrokke by die restourasie van die historiese kerkgebou na die brand en beleef die hartseer met die sluiting van die kerkkoshuise en die Heidelbergse Onderwyskollege in 1967 met sy 750 studente.
Faul Bosman trou in 1942 met Dora Coetzee, die begin van ‘n besondere huweliksverbintenis van 56 jaar. Sy sterf op 31 Augustus 1998. Uit die huwelik is twee kinders gebore: ‘n dogter, Liza, en ‘n seun Faul. Daar is 5 kleinkinders vir dr en mev Faul Bosman gebore. Na sy aftrede op 1 Oktober 1978 vestig die egpaar hulle op Stellenbosch, waar hy nog 27 jaar woon tot met sy dood op 11 Oktober 2005. Aanvanklik woon hulle in ‘n eie huis, maar die laaste jare in Huis Azaleahof in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch.
Sy kleinseun Dawid-Pieter skryf uit Amsterdam: “As ek aan oupa Faul dink, is daar so baie maniere om te beskryf wie hy was: Dominee, man met ‘n natuurlike en sensitiewe oog vir mooi kuns, amateur fotograaf, roos- en krismisroosplanter met immergroen vingers, entoesiastiese leser van kookboeke van regoor die wêreld, innoverende kok, versamelaar van posseëls en antieke blou porselein, hoedemaker, geskiedskrywer en vertaler. Oupa Faul was ‘n liewe, saggeaarde, energieke en optimistiese mens. Maar die belangrikste was oupa Faul se voorbeeld van hoe ‘n man in ‘n huwelik moet optree. Hoe ‘n mens geluk daaruit kan put om so ten volle vir iemand lief te wees dat jy altyd, sonder om te skroom, die ander persoon se belange belangriker ag as jou eie.” (Jaarboek 2008/387).