Boshoff, Carel Willem Hendrik

Prof CWH Boshoff

Gebore

9 Nov. 1927

OORLEDE

17 Mrt. 2011

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASE

1953 Belfast (sendingopdrag)

1956 Oostelike Laeveld (Meetse-a-Bophelo Sending werkkring)

1960 Johannesburg-Wes

1963 PSD Sending (Suid-Tvl)

1967 Teol. Fakulteit, Univ van Pretoria

EMIRITEER

1988

Carel Willem Hendrik Boshoff is op 9 November 1927 op Nylstroom in die Waterberg gebore. Carel se ouers is Willem Sterrenberg Boshoff en Anna- Maria Boshoff (nee Boshoff); Sy vader is op 17 Des 1885 gebore en word op die plaas Doornfontein, tussen Nylstroom en Vaalwater groot. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog versorg hy as seun sy ma en jonger broers en susters. Na die oorlog word hy skoolmeester, die erenaam vir vandag se onderwyser.

Oupa Willie Boshoff was boer, spekulant, eiendomsagent en op sy oudag burgemeester van Nylstroom. Hy het as jong man, toe Waterberggemeente vakant was en deur ds. HS Bosman van Pretoria bedien is, ‘n beurt gekry om die dominee met sy wa en osse te gaan haal vir ‘n twee weke of so van nagmaal, doop, troues, katkisasie en huisbesoek. Ds. Willem Boshoff, broerskind, vertel: “Toe ek my verstand gekry het, was hy al in die middel sewentigs, maar merkwaardig sterk en fiks. Op 90 het hy nog in die see geswem! Hy is op 93-jarige ouderdom oorlede en my ouma is kort daarna ook vooruit.”

Oupa Willie se eerste vrou sterf en hy bly agter met sewe kinders. As 38-jarige wewenaar trou met ‘n 19-jarige jongmeisie. Sy was net ‘n jaar of drie ouer as haar oudste stiefkind! Saam het hulle 6 kinders gehad: Annatjie (later dr. Verwoerd se sekretaresse); Carel, (later prof in Sendingwetenskap by die Teologiese Fakulteit UP en bekende Afrikanerleier, voorsitter AB, Volksmag, grondlegger van Orania); Gerrie (later getroud met ds. Cas Jackson, NG predikant); Adam (sendeling en predikant van die NG Kerk en AP Kerk); Rita (later getroud met Louis Jacobs, predikant NG Kerk en AP Kerk) en Cobus (later gemeenskapsleier en makelaar in Nylstroom).

Carel begin sy skoolloopbaan in 1935 aan die Laerskool Doornfontein en word in 1942 leerling aan die Hoërskool Nylstroom waar hy in 1945 matrikuleer. Hy neem aktief aan die CSV deel, speel rugby en neem ook deel aan boks. Hy voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1946 na die Universiteit van Pretoria waar hy die BA (Admissie) behaal wat hom toegang gee tot die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan Tukkies waar hy die BD-graad verwerf. Op universiteit dien hy op die CSV-bestuur en is voorsitter van die ASB-bestuur, voorsitter van die Sending kring, Woordkuns en Strewers in die Oos-kerk. Hy speel ook rugby vir die koshuis Sonop. Dit was ‘n besondere oomblik toe hy aan die einde van 1952 as proponent gelegitimeer word. Van sy klasmaats was Johan Heyns, Willie Jonker, Nico Smith en Murray Janson. Elkeen speel in die dekades wat kom ‘n groot rol in die NG Kerk en teologiese opleiding.

Carel trou op 15 Januarie 1954 met Anna Verwoerd, dogter van dr. Hendrik Verwoerd, latere Eerste Minister van die Republiek van Suid-Afrika. Uit die huwelik is sewe kinders gebore. Hulle is ‘n gelukkige en hegte gesin, ‘n voorbeeld van omgee en saamwerk. Prof Carel en Anna beleef ook die bitter toe hulle ‘n seun aan die dood afgee. As kinders van die Here verwerk hulle dit en leer om daarmee saam te leef. Een van hulle seuns, Carel Willem Hendrik Boshoff (IV) en gesin, vestig hulle ook op Orania en beywer hom vir die saak waaraan sy ouers en ander Afrikaners hulle goed en bloed opgeoffer het.

Die jong Carel stel hom beroepbaar vir die sending en hy word op 7 Maart 1953 bevestig as sendeling op Belfast. Hierna loop sy pad na die sendingvelde in die Transvaalse Laeveld waar daar in 4 jaar 22 sendelinge geplaas word. Aan die begin van 1966 word hy sendeling in die swart gemeente Johannesburg-Oos. So word die stedelike sending versterk en word verskeie kerkgeboue in die woongebiede opgerig. In 1963 word hy beroep as predikant in sinodale diens met opdrag sending in Suid-Transvaal. Hy gee unieke inhoud aan die pos en trap diep spore op die kerklike werf.

Op 8 Februarie 1967 maak sy kerklike pad ‘n geseënde draai toe hy beroep word as dosent in Sendingwetenskap. Tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 31 Maart 1988 trap hy diep spore en raak duisende dominees se hart en lewe aan. Met oorgawe dien hy nie net die kerk van die Here nie, maar sy invloed vloei oor ander gebiede en nuwe horisonne. Hy is voorsitter van Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) en gee sy talente en gawes aan die Afrikaner Volksmag en die Afrikaner Vryheidsin stelling.

In 1993 verlaat hy en sy vrou Anna die Jakarandastad en vestig hulle in Orania. So word die idee van ‘n Volkstaat met woord en daad bevorder. Sedert 1994 is hy lid van die Provinsiale Wetgewer in die Noord-Kaap en leier van die Vryheidsfront. Oral waar hy beweeg dwing hy respek en agting af. Mense oor kleurgrense vertrou hom en beleef sy opregtheid en integriteit te alle tye.

Anna sterf onverwags en daarna word kanker by prof CWH Boshoff gediagnoseer. Soos al die ander dinge in sy lewe dra hy ook hierdie siekte met waardigheid. Hy sterf op 17 Maart 2011 en word op Orania, langs sy vrou begrawe. Met sy dood word die voorblaaie van koerante aan hom gewy, daar is van oral oor waardering vir sy lewensbeeld.

Sy seun, Carel, skryf op my versoek uit Oranja: “Na my pa se dood is daar onder ons Afrikaners nogal ‘n ophef van hom gemaak – en tereg as ek so onbeskeie mag wees, want hy het gedoen wat ander nie die moed gehad het om te dink nie. Dit geld nie net vir die volkstaat en Orania nie, dit kom al van sy jong dae toe hy ‘n onbetrede sendingveld betree het en vriende kon inspireer om daar aan deel te neem. Maar my punt is juis nie om te sê hoe sonderling en onvervangbaar sy bydrae tot volk, kerk en staat was nie, maar om iets anders, wat maklik mens se blik ontsnap, te onderstreep.

“My punt is dat hy ongemaklik sou wees met al die aandag op sy persoon, want hy het homself nooit in die middelpunt van sake gesien nie. Die storie waarin hy ‘n rol gespeel het, sy lewensverhaal, het nie oor hom gehandel nie, maar oor die dinge waartoe hy geroep is en waaraan hy hom met sulke oorgawe kon verbind. Dat hy hom dikwels presies in die middel van gebeure bevind het, dat sy sienings dikwels ‘n wending aan gebeure kon gee, was nie iets wat hy nagejaag het nie, dit was die belang van die dinge wat dit van hom gevra het.

“Hierin was my pa eintlik vreemd aan ons tyd: dat hy in ‘n era van self afgeslotenheid en immanent isme ‘n sin vir die transendente gekoester het. In ‘n era van self geloof en ongeloof het hy die breedte en diepte van ‘n hele lewe en ‘n hele wêreld met geloof tegemoet gegaan. Sy blik was altyd alreeds op iets anderkant homself gerig.”

Die moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk reik op 17 Maart 2011 die volgende verklaring uit: Die moderator, prof Piet Strauss, skryf: “Namens die Moderamen van die Algemene Sinode van die NG Kerk wil ek graag ons diepste medelye uitspreek teenoor die familie van prof Carel Boshoff wat gister oorlede is. Ons het die afgelope paar maande met groot kommer kennis geneem van die agteruitgang van sy gesondheid. Of jy nou met Carel Boshoff saamgestem of verskil het, jy kon altyd respek hê vir sy integriteit en eerlikheid. Hy was karaktervolle Christen-Afrikaner wat in sy standpuntstelling beskaafd gebly en nooit persoonlik geraak het nie. Selfs onder die grootste druk het hy met Christelike ordentlikheid en stylvol opgetree.

Vanuit kerklike hoek het prof Boshoff tot met sy dood daarin geslaag om duidelike onderskeid tussen kerk en politiek te handhaaf. Ten spyte van sy duidelike visie vir Orania as die kernpunt van ‘n eie Afrikaner staat, het hy tot aan die einde predikant van die NG Kerk gebly. Die berigte van sy laaste preek wat hy ‘n week of twee gelede sittende moes lewer, tipeer sy kalm gees en geloofsoortuiging. Sy optrede by kerkvergaderings in die laaste jare is gekenmerk deur lewenswysheid. Vir ons was Carel Boshoff die sending professor wat saam met die NG Kerk deur die stroomversnellings van die laaste dekade of twee beweeg het. Sy stylvolle optrede laat hom met eer uit die stryd tree.” – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2012/388).