Bosch, David Jacobus

Prof DJ Bosch

Gebore

13 Des. 1929

OORLEDE

15 Apr. 1992

UNIVERSITEIT

BD; MA (UP); Th.D (Basel),

gelegitimeer

1957

ORDEN

1957

STANDPLASE

Madwaleni Transkei-Sending

1966 Dosent Teol. Skool Decoligny

1956 Oostelike Laeveld (Sendingwerkkring)

1960 Johannesburg-Wes

1963 Predikant in Sinodale Diens met Opdrag Sending (Suid-Tvl.)

EMIRITEER

Prof David Jacobus Bosch, BD, MA, ThD, (13 Des. 1929-15 Apr. 1992); Kuruman, die dorp wie se naam deur die beroemde Robert Moffat onuitwisbaar in die sendingannale geskryf is, is ook die geboorteplek van David Jacobus Bosch. In ‘n klein vierkamerhuisie gebou van granietklippe wat sy vader self in die berg moes gaan haal, is die seuntjie op 13 Desember 1929 gebore. Sy skooljare het hy in Wes-Transvaal deurgebring, voordat hy na die Universiteit van Pretoria is om as predikant opgelei te word. Daarna is Bosch Switserland toe, waar hy twee jaar lank in Basel onder leiding van Karl Barth en Oscar Cullmann verder gestudeer het. Na die behaling van sy doktorsgraad is die jong proponent terug na Suid-Arika, waar ‘n beroep om die eerste sendeling van ‘n nuwe sendingstasie by Madwaleni in die Transkei te word, op hom gewag het. Nege jaar later is hy aangestel as dosent aan die teologiese skool van die NG Kerk by De Coligny, naby Umtata. Sedert 1971 was David Bosch professor in sendingwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy was sedert die stigting van die Suid-Afrikaanse Werkgemeenskap vir Sendingwetenskap (SAWS) in 1968 as hoofsekretaris verantwoordelik vir ‘n reeks jaarlikse kongresse van hoogstaande gehalte, wat wye belangstelling ook vanuit die buiteland ontlok het. Die lyfblad van SAWS, Missionalia, waarvan hy redakteur was, geniet internasionale erkenning. Daarby het hy nog tyd gevind om by talle plaaslike inisiatiewe betrokke te wees. Tydens die bekende SACLA-byeenkoms in 1979, wat so ‘n groot impak op die kerklike lewe in ons land gehad het, was hy een van die leiersfigure. Van die Nasionale Inisiatief vir Versoening, wat die afgelope jare probeer het – en dikwels daarin geslaag het om mense van totaal verskillende agtergronde en oortuigings bymekaar uit te bring, was Bosch die voorsitter. Oor die akademiese prestasies van David Bosch sal in die jare wat kom, nog heelwat geskryf word “Hy was ‘n baie groot man met ‘n baie groot hart en ‘n ewe groot intellek, ‘n persoon wat ‘n enorme invloed in ons land sowel as in talle ander lande op aarde uitgeoefen het,” het prof Johan Heyns in ‘n huldeblyk aan David Bosch gesê. Sy talle artikels en boeke word wêreldwyd gelees en waardeer. Van sy heel laaste werk, Transforming Mission, in ‘n sekere sin sy magnum opus, skryf die bekende Engelse sendingwetenskaplike, Leslie Newbigin: “Bosch se werk sal vir baie jare die fondament wees vir die bestudering van Sendingwetenskap.” Alan Neely, sendingwetenskaplike van Princeton (VSA); stel dit selfs nog sterker: David Bosch se boek is nie maar een van die beste boeke op die gebied van die sending van die afgelope geslag nie, dis die beste boek wat die afgelope eeu geskryf is! Geen wonder dat David Bosch die afgelope jare oorval is met eervolle aanbiedings nie: leerstoele in Princeton, Yale, Utrecht, Munster.

Waarom word David Bosch so hoog aangeslaan? In die voorwoord van een van sy werke wat in Nederlands verskyn het, skryf ‘n bekende missioloog dat die een ding wat hom bo alles van David Bosch tref, sy seldsame openheid is teenoor al die verskillende groepe wat in die Suid-Afrikaanse samelewing aangetref word. “Paulus, die groot sendeling, het in 1 Kor. 13 gesê dat die kern van alle missionêre aktiwiteite in die liefde lê. Dit moet die geheim van hierdie liefde wees wat aan hierdie man (Bosch) die moontlikheid gee om so diep te luister, mee te voel; saam te dink en saam te wees . . . Daarby moet ‘n mens melding maak van sy ontwapende opregtheid. Hy laat hom nie in een bepaalde keurslyf vang nie. Hy leen sy oor nie net aan een bepaalde ideologiese groep nie, nog na links nog na regs. Vir hom is die laaste kriterium waaraan alle dinge getoets moet word, die eis van die evangelie van Jesus Christus.” Deur die jare het baie mense met David Bosch verskil, soms hewig verskil. Die drie passies van sy lewe – die bevordering van eenheid onder alle kerke, die stryd om reg en geregtigheid in die samelewing en die bou van brûe van versoening tussen mense – is nie altyd ewe hoog waardeer nie. Al het hy tot aan die einde van sy lewe ‘n lojale lidmaat van die Ned Geref. Kerk gebly, het hy dikwels standpunte gestel wat in botsing met die tradisionele standpunt van die kerk was. Dikwels moes hy verguising verduur. Maar oor sy integriteit en sy eerlikheid was daar nooit enige twyfel nie. “Hy was ‘n man vir wie ‘n mens die grootse eerbied en respek gehad het”, vertel die moderator van die jongste Algemene Sinode van die Ned Geref. Kerk, prof Pieter Potgieter. “Hy het sy standpunt eerlik en konsekwent gestel – maak nie saak watter teenstand hy verduur het nie”. Dr Willem Nicol het dit mooi gestel: “David Bosch was ‘n vroeë swael, ‘n teken van die toekoms.” Die Ned Geref. Kerk en die hele kerklike gemeenskap in ons land en in die buiteland, is baie armer sonder David Bosch. Sy plek sal nie maklik gevul word nie – daarvoor sal drie of vier persone nodig wees. Maar hoe dankbaar kan ons nie wees vir sy lewe nie. Die Here God het in sy kneg David Bosch aan ons almal ‘n reusegeskenk gegee. In die volgepakte Universiteitsoord-kerk in Pretoria, waar honderde begrafnisgangers byeengekom het om die laaste eer aan David Bosch te bring, het die een spreker na die ander kansel toe gestap. Afrikaanse, Engelse en Xhosa-liedere is gesing, al was dit ook met ‘n knop in die keel. Die tragiese dood van David Bosch as gevolg van ‘n motorongeluk in Oos-Transvaal het die kerklike gemeenskap in ons land geskud. Want, menslikerwys gesproke, was David Bosch onvervangbaar. – Prof Piet Meiring (Jaarboek 19 ).