Gebore
25 Apr. 1934
OORLEDE
17 Mei 1998
UNIVERSITEIT
BA, BD, MA (Grieks/Latyn) (UP); D.Th. (Leiden)
gelegitimeer
1966
ORDEN
1966
STANDPLASE
1966 Benoni-Oos
1970 Unisa
1976 Teol. Fakulteit, Univ. Van Pretoria
EMIRITEER
1995
Prof Carl Frederick August Borchardt (BA, BD, MA (Grieks/Latyn); D.Th.) 25 Apr. 1934 -17 Mei. 1998
Die onverwagse heengaan van prof. Carl Borchardt op 17 Mei 1998 was vir almal ‘n skok, te meer nog vir sy eggenote, Sanet, wat hom in die vroeë oggendure na die hospitaal op Port Shepstone moes neem vanaf hulle huis in Uvongo waarheen hulle pas verhuis het.
Carl Borchardt is op 25 April 1934 in Germiston gebore waar sy vader ‘n tandarts was. Hy het sy skoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoërskool van Germiston voltooi en matriek met eersteklas en met ‘n onderskeiding in Geskiedenis geslaag. In 1952 is hy na die Universiteit van Pretoria waar hy ‘n BA- (1954); en BD-graad (1957) verwerf het. Terwyl hy sy proponentsjaar in 1958 gedoen het, het hy ook verder studeer en sy MA-graad in Grieks en Latyn in 1960 behaal. Hierna is hy na die Rijksuniversiteit in Leiden waar hy sy DTh-graad behaal het. Hy is in 1966 gelegitimeer.
In Junie 1966 is hy in die NG Gemeente Benoni-Oos bevestig nadat hy tydelik behulpsaam was in die NG Gemeente Johannesburg-Wes. In 1970 is hy as senior lektor in Kerkgeskiedenis by UNISA aangestel en in 1976 word hy senior lektor en later professor in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.
Dat hy uitmuntend toegerus was vir hierdie taak, getuig die temas van sy verhandelings en proefskrifte: BD: `Die herkoms van die Apostolicum’ ; Proponents: `Die gekombineerde kerkraad in die NG Kerk’ ; MA: `Die voorsetsel DIA in die Nuwe Testament’; en DTh: ‘Hillary of Poitier’ s roll in the Arian Struggle’ (laasgenoemde onder promotorskap van die vermaarde prof Barkhuizen van den Brink).
Op 14 Desember 1962 is Carl Borchardt met Sanet Viljoen getroud en uit die gelukkig huwelik is vier kinders gebore: Frederick, Esmaria, Freda en Carlien. By sy afsterwe was daar reeds een kleinkind. Die gesin is gekenmerk deur ‘n besondere intieme verhouding.
Carl se kennisse sal hom altyd onthou vir sy minsame geaardheid en rustige voorkoms, verweef met sy innerlike verfyndheid en onbetwisbare geloofsoortuigings. Toe hy in die laaste paar jaar van diens gebuk moes gaan onder intensiewe behandeling teen kanker, was sy absolute oorgawe aan en vertroue op die Here ewe opmerklik. En sy geloof het nie beskaam nie, want tot die laaste toe was die siekte onder beheer sodat hy en sy eggenote inderdaad met dankbaarheid en verwagting vier jaar van aftrede (sedert 1994) kon geniet.
Teenoor sy talle studente was hy uiters hoflik en begripvol. Waar hy vir die Algemene Kerkgeskiedenis verantwoordelik was, het hy nougeset sy taak verrig en sy doktorale studente het hom in sy vakbelesenheid en kennis van Latyn, as ‘n besondere wetenskaplike ervaar. Sy akademiese belangstelling het verder as net die Patristiek en die Reformasie-tydperk gestrek – hy het ook in die Ekumene en die Dogmageskiedenis gedoseer en artikels daaroor geskryf, meegewerk aan publikasies oor teologiese biografieë en ‘n insiggewende bydrae oor die `Afrikaanse kerke en die Rebellie’ gelewer. Hy was ook nou betrokke by die Kerkhistoriese Werkgemeenskap terwyl sy gewetensvrae rondom die destydse politieke bestel aangeteken staan in sy en sewe ander teloë se `Hervormingsdag getuienis’ in 1980. In hierdie opsienbarende dokument is onomwonde gepleit vir die uitskakeling van liefdelose en rassistiese gesindhede, sosiale praktyke, ekonomiese wanverhoudinge en politieke maatreëls waardeur miljoene mense in omstandighede van nood en lyding gedompel is en waardeur onteenseglik die boodskap van Gods versoenende genade onkragtig gemaak is.
Naas sy doseertaak, was hy steeds betrokke by kerklike werksaamhede, onder andere as ‘n getroue ouderling in sy plaaslike gemeente en in breër verband as lid van verskeie kommissies. Daaruit het sy besondere meelewing, lojaliteit en toewyding aan die NG Kerk geblyk.
Hy sal egter veral as mens onthou en waardeer word vir sy beskaafde lewenstyl, sy ewewigtige persoonlikheid, sy opregte hoflikheid en sy gedurige bedagsaamheid. Hierdie lewenskwaliteite, gepaard met sy opvallende vroomheid en saam met sy vermoë tot spanwerk en kollegialiteit, bring ‘n gevoel van diepe dankbaarheid vir hierdie besondere mens se lewe in die harte van almal wat met hom in aanraking was. – prof Flip van der Watt, aangevul en verwerk deur Dirk Viljoen. (Jaarboek 1999/344).