Gebore
22 Jul. 1943
OORLEDE
14 Sept. 2005
UNIVERSITEIT
BA (Dip. Teol.)
gelegitimeer
1970
ORDEN
1971
STANDPLASE
1977 Lydenburg-Suid
EMIRITEER
–
Pieter Lodewickus Bezuidenhout is op 22 Julie 1943 in die hospitaal op Ventersdorp gebore, een van ‘n tweeling. Hy is die oudste en sy broer is Johannes Theodorus Bezuidenhout. Hy was die vierde geslag en naamdraer van die familie, sy grootouers was Pieter en Gertruida Bezuidenhout en Johannes en Wilhelmina Seyffert. Piet se ouers was Pieter Lodewickus (Piet) Bezuidenhout en Susanna Helena (Bettie) Seyffert, wat aanvanklik op die plaas Thyszyndoorns en later op Modderfontein in die distrik Ventersburg boer.
Die tweeling Piet en Hans bring gelukkige kinderjare op die plaas deur. Daar is ook twee ouer suster en een jonger suster. Hulle begin hulle skooljare aan die Laerskool Blesbokfontein, ‘n wonderlike tyd in die plaasskool op die wye vlaktes van Ventersdorp. Hulle presteer goed op skool en toon toe reeds leierseienskappe. In 1957 word hulle leerlinge aan die Hoërskool op Ventersburg. Hans verlaat die skool vroeër om te gaan boer, terwyl Piet geroepe voel vir die bediening. Hy is intens betrokke by die CSV, neem aan debatsverenigings deel en neem geestelik leiding in die koshuis en dien in die leerlingraad van die skool. Na sy matrikulasie in 1961 vertrek hy na Pretoria vir sy weermagdiens op Potchefstroom, Walvisbaai en in Pretoria.
Aan die begin van 1963 begin hy met sy studie aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA (Admissie)-graad behaal en in 1966 toelating verkry tot die Teologiese Fakulteit (Afd B); die Diploma in Teologie behaal en aan die einde van 1970 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer word. Tydens sy studentejare woon hy in Voortrekker-Manskoshuis en dien in verskeie besture wat sy meelewendheid met die studente onderstreep. Die jong Piet trou in sy studentejare op 14 Januarie 1967 met sy jeugliefde Hantie Venter, ‘n spraakterapeut, met wie hy 38 jaar gelukkig getroud is. Uit die huwelik is twee kinders gebore: ‘n dogter Anneri, tydens hulle bediening op Eshowe. Sy is ‘n tandarts en getroud met Ben Vorster, ‘n sitrusboer van Letsitele. Hulle het twee dogtertjies, Lihani en Azel. Hulle seun, Pieter-Lodewickus Bezuidenhout, is ‘n geoktrooieerde rekenmeester, gee klas in Pretoria en het ook privaat kliënte.
Op 18 November 1970 word proponent Piet Bezuidenhout beroep na die NG Gemeente Eshowe in Natal, waar hy op 30 Januarie 1971 met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig word. Dit was ‘n gemeente met verskeie “bedieningspunte” en gemeentesentrums, die leraar het op Eshowe gewoon en dienste is op Eshowe, Mandini, Nkwaleni en Gingindlovu gehou. Die jong ds. Piet het floreer en sy hart was in sy werk, iemand wat sy lidmate met oorgawe bedien en versorg het. In die tyd word ‘n kerkgebou op Mandini ingewy en is ds. Piet kapelaan van die Tugela-kommando. In 1974 vier die NG Gemeente Eshowe hulle 25-jarige fees. Hierin speel ds. Piet ‘n groot rol.
Na ses gelukkige jare op Eshowe word ds. Bezuidenhout op 16 Januarie 1977 met volstrekte meerderheid beroep as herder en leraar na die NG Gemeente Lydenburg-Suid, ‘n beroep waarin hy die hand van die Here sien. Hy aanvaar die nuwe uitdaging. Die naweek van 18-20 Maart 1977 word ds. Piet en Hantie Bezuidenhout in die gemeente ontvang en bevestig, die gemeente waar hy tot met sy dood op 14 September 2005 met oorgawe in die Koninkryk werk. ‘n Nuwe era breek vir die gemeente aan, ‘n nuwe insamelingsmetode met dankofferkoevertjies en die bou van ‘n nuwe kerksaal en kategeselokale word ‘n werklikheid. In 1982 is die gemeente betrokke by die totstandkoming van die Dienssentrum vir Senior Burgers op Lydenburg. Hier speel hy ‘n groot rol. Ds. Piet raak ook intens betrokke by die NGKA en VGK se geestelike werksaamhede, terwyl ‘n “dagsorg” satelliet-dienssentrum ‘n werklikheid word op Rietfontein. Ds. Piet het die gemeente Lydenburg-Suid 28 jaar lank gedien en dit uitgebou as ‘n besondere liefdesgemeenskap, terwyl sy gebedsbediening en die krag daarvan ‘n integrale deel geword het van die gemeentelike aktiwiteite. Hy was ‘n mens-mens, iemand met groot deernis en omgee vir elkeen wat sy lewenspad gekruis het. Ds. Piet se menseverhoudinge was een van sy uitstaande karaktereienskappe. Mense onthou sy werksvermoë as eindeloos.
Op die breë kerklike terrein is hy geliefd onder sy kollegas en speel ‘n groot rol op ringsvlak en in die Sinode van Oos-Transvaal, iemand wat met oorgawe lojaal was aan die NG Kerk wat hy tot die einde liefhet. Hy dien in die moderatuur as assessor en aktuarius, iemand wat as kenner van die kerkreg die gemeentes, ringe en sinode op ‘n besondere manier adviseer. Hy dien in die Algemene Sinode se Regskommissie. Sy fenomenale kennis van die kerkreg en die regte hantering van kerksake in moeilike tye, ook sy ingebore humor om situasies op te vrolik beteken baie vir die kerk. Hy was ‘n evangeliese mens en iemand met ‘n onkreukbare karakter.
In die herfs van 2005 doen ds. Piet Bezuidenhout longontsteking op, maar hy herstel en kon voortgaan met sy gemeentelike werksaamhede. Maar op 23 Augustusword hy weer siek en word gehospitaliseer. Oor sy skielike dood skryf sy vrou Hantie: “Woensdag, 14 September 2005, staan hy vroeg saam met my op, ons maak bed op, ek moet 7:30 oopsluit by die kantoor. Om 10:00 bel my huishulp, die moruti is nog nie by die kamer gekom en kom eet nie’. In angs ry ek huis toe ek kry Piet dood op die bed! ‘n Hartritme-steuring met ‘n momentale hartstilstand.” Ds. Piet word onder blyke van groot belangstelling op 17 September 2005 vanuit die NG Gemeente Lydenburg-Suid begrawe, ‘n jare lange vriend, ds. Carel Lotz, het die diens waargeneem. Daar is diep en innig getreur oor hierdie Godsman wat gebid, gewerk en gewaak het, wat die lewe vir ander so soet gemaak het.
Na die dood van ds. Piet Bezuidenhout is baie oor hom geskryf en gepraat. Net soos sy lewe was sy dood ook tot eer van die Here. Ds. Pieter de Wet, een van die NG Kerk se geliefde afgetrede leraars, skryf soos volg oor sy vriend Piet: “Dit sal my baie lank neem om te besef my ou groot vriend is nie meer daar nie. Vir my het ou Pieta veel beteken, veral as vriend maar ook as iemand na wie ‘n mens in kerksake kon opsien. Sy en-toesiasme vir die lewe en vir alles wat hy aangepak het, was ooglopend. Ek stort baie trane, want vir my is dit ‘n groot verlies. Tog is ek dankbaar oor ‘n groot nagedagtenis. Mag julle daarin vertroos word, en mag julle sterk wees in die dae wat voorlê – dae van alleen wees en van groot gemis.” (Jaarboek 2007/361).