Beukes, David Petrus Matthys

 

Gebore

1 Mei 1915

OORLEDE

30 Sept. 1981

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1940

ORDEN

1941

STANDPLASE

1941 Molteno

1945 Cradock

1952 Cradock-Oos

1961 Linden

1962 Linden-Park

EMIRITEER

Ds. David Petrus Matthys (Dawie) Beukes (1 Mei 1915 – 30 Sept. 1981) was die jongste van die drie moderators van agtereenvolgende vergaderings van die NG Kerk se Algemene Sinode wat in minder as vyf maande oorlede is. In die distrik Winburg gebore, gaan hy eers na ‘n plaasskool en daarna na Bultfontein se dorpskool waar hy st. 8 as een van die tien beste leerlinge in die Vrystaat slaag. Op Ventersburg matrikuleer hy as dux-leerling met onderskeiding in verskeie vakke. Met ‘n President Brand-beurs studeer hy vanaf 1934 aan die destydse UKOVS in Bloemfontein om na drie jaar sy BA te behaal. Ook kom sy leiershoedanighede daar reeds na vore toe hy in sy tweede en derde jaar tot die studenteraad verkies word. Van 1937 tot 1940 ontvang hy sy teologiese opleiding aan die Stellenbosse Kweekskool, waar hy die kandidaatseksamen met lof aflê en ook die MTh verwerf. Daarby dien hy gelyktydig as voorsitter van die Kweekskoolstudente-vereniging Polumnia sowel as drie ander kerklik-godsdienstige verenigings. Einde 1940 word hy tot die bediening toegelaat en nadat hy hulpprediker in Pretoria-Wes was, volg sy bevestiging as leraar van Molteno op 23 Aug. 1941. Vier jaar later gaan hy na die groot gemeente Cradock en toe Cradock-Oos in 1951 met sy medewerking van die Moedergemeente afstig, is hy die haas vanselfsprekende keuse om vanaf Februarie 1952 die ywerige eerste leraar van die nuwe gemeente te wees. So kan die jong gemeente onder sy leiding reeds in Junie 1953 sy sierlike kerkgebou in gebruik neem. Na meer as 50 beroepe, gaan hy in 1961 Transvaal toe om leraar van Linden te word en toe Lindenpark die jaar daarna afstig, neem hy nog ‘n keer die leiding van ‘n nuwe gemeente op sy skouers. Hier arbei hy met sy kenmerkende geesdrif voort totdat hy op 5 Jul. 1981 – enkele maande voor sy heengaan en na ‘n bediening van iets oor die 40 jaar – sy emeritaat aanvaar. Gedurende sy laaste paar jaar op Cradock dien hy as een van Kaapland se verteenwoordigers in die Raad van die NG Kerke. Die Suid-Transvaalse sinodes van 1968 en 1975 kies hom tot moderator, terwyl hy in die sinode van 1972 as assessor optree. Nadat hy in 1966 in Bloemfontein hulpskriba van die Algemene Sinode was, word hy September 1968 (na die aftrede van ds. A J V Burger) skriba van die Breë Moderatuur – ‘n betrekking wat hy tot die Algemene Sinode van 1970 beklee. Van die Algemene Sinode van 1974 in Kaapstad word hy moderator. Dit was ‘n moeilike taak in ‘n moeilike tyd, veral weens die onderhandelings met die Gereformeerde Kerk van Nederland en die betrekkinge met die Dogterkerke. Waar hy dikwels belangrike vergaderings moes lei, het hy steeds vriendelik opgetree en hom op die samewerking van die lede beroep om sake te laat vlot. Nogtans was hy ‘n man van vaste beginsels en sterk oortuigings wat nie geskroom het om sy standpunt met beslistheid te stel wanneer dit nodig was nie. Met ‘n welluidende stem begaaf, was hy ‘n knap prediker en met sy kenmerkende minsaamheid, beskeidenheid en hoflikheid besonder gewild in die omgang. Daarby het hy met die toewyding waarmee hy sy roeping vervul het, met die opregtheid en die beskeidenheid wat hom eie was, sowel as met sy nette voorkoms en waardige optrede, allerweë agting afgedwing. Ook in die breër gemeenskapslewe het hy sy plek volgestaan, onder meer as voorsitter (1949-1961) van die Kaaplandse Helpmekaarstudiefonds se hoofbestuur en later ses jaar as voorsitter van die FAK. Tot sy dood het hy ook in die raad van RAU gedien. Buitenshuis was hy ‘n uithalerskut en binnenshuis het hy houtwerk as ‘n stokperdjie beoefen. Ondanks al sy ander bedrywighede het hy egter end-uit sy herderlike werk voorop gestel. (Jaarboek 1983/259).