Beukes, Abraham Jacobus

gebore

27 Mei 1926

oorlede

2 Julie 2018

universiteit

BA (US)

gelegitimeer

1952

orden

1953

standplase

1953 Umtali

1958 Hopefield

1964 Lambertsbaai

1968 Murraysburg

emeriteer

DS HANNES BEKKER (BA, BTh) 2 November 1936 – 20 Februarie 2019

Abraham Jacobus Beukes is op 27 Mei 1926 gebore op die plaas Bovlei in die hart van die Kamiesberg, naby Bowesdorp. Dit was die vroegste kerksentrum in Namakwaland, toe die gemeente na Springbok geskuif het wat die hoofdorp in die streek word. Sy ouers is Abraham Jacobus Beukes en Aletta Alida Nieuwoudt, wat geboer het en met innerlike vroomheid die gesin naby die Here gehou het. In 1933 begin Apie met sy skoolloopbaan in die Sloot plaasskool in die Kamiesberg en word in 1940 leerling aan die Hoërskool Garies waar hy in 1944 matrikuleer.

In sy kinderjare word hy omring deur ‘n positiewe gelowige omgewing, die CSV en die Sondagskool met die onvergeetlike mnr JPF Ellis. Apie is ook aangeraak deur ds Gawie de Vos se kinderlike boodskappe, wat voorgedra is met geroepenheid, nederigheid en heilige erns. Apie voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1945 na die Universiteit Stellenbosch, waar die BA-graad aan hom toegeken word en hy toegang verkry tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Hy blink uit in amateurstoei en is kaptein van die Maties se stoeiklub. Hy word aan die einde van 1952 as proponent gelegitimeer, ‘n besonderse oomblik vir hierdie seun uit die Kamiesberg. Hy tree op 1 Januarie 1953 in die huwelik met mej. Monica Cilliers en uit die huwelik is drie kinders gebore.

Prop AJ Beukes word op 25 Julie 1953 met handoplegging in die NG Gemeente Umtali in die destydse Suid-Rhodesië ontvang en bevestig. Hier woon en werk hulle vyfjaar lank met oorgawe en daar word hegte liefdesbande gesmee, in wat tans die dorp Mutare in Zimbabwe is. Hier is hy ook in die tyd voorsitter van die Ring van Enkeldoorn. Op 30 Januarie 1958 word hy leraar van die NG Gemeente Hopefield aan die Weskus, waar hy werk totdat hy in 1964 ‘n beroep aanvaar na die NG Gemeente Lambertsbaai, ‘n strandoord aan die seekant van Clanwilliam. Hier is hulle ook baie gelukkig, waar hulle deel het aan die oprigting van “Die Kerk van die See”, ‘n doelmatige kerkgebou te Lambertsbaai.

In 1968 word ds AJ Beukes leraar van die NG Gemeente Murraysburg in die Groot-Karoo, ‘n groot boerderygemeenskap wat hy met liefde bedien. In sy tyd gee hy baie aandag aan die onderwys in die streek. Maar hier kom ook ‘n skerp draai op sy pad toe hy na twee groot rugoperasies, vervroegde emeritaat moes aanvaar en hulle verlaat Murraysburg. Soos elders was ds Apie se bediening ook gekenmerk deur sistematiese huis- en siekebesoek, terwyl buitekerklikes ook nadergetrek word na die noue gemeentekring.

Ds Apie Beukes en sy vrou Monica keer terug na die landstreek rondom Clanwilliam, waar hy op ‘n klein plasie naby die dorp woon. Hy boer op ‘n klein skaal en preek dikwels op Clanwilliam en in omliggende gemeentes wanneer die geleentheid opduik. Hulle raak gou ingeburger op Clanwilliam en sou byna 24 jaar lank daar woon en ‘n groot vriendekring opbou.

Hy sterf op 2 Junie 2018 en ds Jacques Greyling lei op 7 Junie 2018 ‘n herinneringsdiens in die NG Gemeente Clanwilliam. Uit die wye reaksie op die beriggewing oor sy dood op die sinode se elektroniese webblad, is dit duidelik dat ds Apie Beukes ‘n besonderse nalatenskap agterlaat het. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 380)