Bester, Paulus Stefanus

 

Gebore

30 Jul. 1926

OORLEDE

29 Sept. 2006

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASE

1953 Kanoneiland

1958 Thornton

1963 Gochas

1966 Williston

1974 Jeffreysbaai

EMIRITEER

29 Mei 1988

Paulus Stephanus Bester is op 30 Julie 1926 gebore en het sy eerste twee lewensjare op die plaas Soutkloof naby Koringberg deurgebring, waar sy vader geboer het. Sy ouers was Ben Bester en Anna Catharina Johanna Theron. Paul se vader is in 1942 na ‘n lang siekte en te midde van finansiële probleme oorlede en sy moeder het alles in haar vermoë gedoen om die gesin te laat oorleef. Hieroor skryf hulle seun Andre: “As mens was Paul skugter. Die trauma van sy kinderdae: sy ouers se bankrotskap, die siekte en dood van sy pa, sowel as die onsensitiewe en onsimpatieke optrede van hardvogtige onderwysers, het ‘n lewenslange indruk op hom gemaak.”

Paul het sy eerste skoolopleiding op Koringberg ontvang en het in 1943 belydenis van geloof in die gemeente afgelê.

In 1945 het Paul aan die Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg gematrikuleer en het hy die roeping ontvang om predikant te word. Daar was nie studiegeld nie, maar met die hulp van sy broer Cornelis het hy in 1946 aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer en die BA-graad verwerf. In 1949 is hy toegelaat tot die Teologiese Seminarium. Hy het sy prakties in die NG Gemeentes Grabouw en Durban afgelê, waar ds. HCJ Flemming diep spore in sy menswees getrap het. Aan die einde van 1952 is hy as proponent gelegitimeer en het hy daarna ‘n tyd lank in die NG Gemeente Rustenburg gewerk voordat hy op 15 Januarie 1954 as leraar van die NG Gemeente Kanoneiland met handoplegging bevestig is. Hier het hy Albie Viljoen ontmoet, ‘n maatskaplike werker van Upington, met wie hy op 5 Januarie 1955 op Richmond getroud is. Sy het haar Meestersgraad in Maatskaplike werk voltooi.

Ds. Paul en Albie Bester en klein Andre het daarna na die Kaapse Skiereiland vertrek, waar hy op 10 Mei 1958 as leraar van Thornton bevestig is. Hier het hulle nog twee kinders, Albertusen Susan, gekry. In 1963 is ds. Paul. in die NG Gemeente Gochas in die destydse Suidwes bevestig, en in 1966 is hy na die NG Gemeente Williston beroep. Onder sy leiding is ‘n nuwe sendingkerk in 1975 gebou op Amandelboom, wat hom groot vreugde verskaf het.

Na nege goeie jare waarin hy ook die ekstra myl in belang van sendingwerk op die dorp en distrik geloop het, het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Jeffreysbaai aanvaar, waar hy die naweek van 30 Augustus 1974 ontvang en bevestig is. Die rede is gelewer deur ds. Wentzel van Huyssteen van die Universiteit van Port Elizabeth. Hier het die leraarspaar gewerk totdat hy in die winter van 1988 emeritaat aanvaar het. Op 29 Mei 1988 het hy sy afskeidspreek gelewer, met Handelinge 20:24 as teksvers.

Sy seun ds. Andre Bester skryf: “Hy was ‘n persoon wat sy kinders van geleerdheid voorsien het en sonder skuld die lewe ingestuur het, ondanks die feit dat hy in armoede grootgeword het. Die geestelike waardes wat hy in sy kinders gevestig het, sal ‘n waardevolle nalatenskap vir sy nageslag wees. Na sy aftrede het ds. Paul Bester en sy vrou op Jeffreysbaai gebly en later na die Jeffreysrus-huis vir Bejaardes getrek. Vroeg in 2005 is kanker by hom gediagnoseer en sedert April 2006 was hy bedlêend in die oord se siekeboeg. Hy is op 29 September 2006 oorlede en op 4 Oktober 2006 uit die plaaslike NG gemeente begrawe.

Sy seun Andre skryf verder: “Hy was akademies baie talentvol en het met die talente wat hy gekry het, sy werk met toewyding gedoen. Hy was diep geestelike mens volgens die Christelike mistiek wat deur dr Andrew Murray in die NG Kerk gevestig is. Die geestelike krag wat hy gereelde stiltetyd en die gebed van lojale lidmate van die Here gekry het, het hom in staat gestel om sy werk toegewyd en nougeset te doen. Sy prediking was weldeurdag en in sy pastorale werk het hy goed omgesien na diegene wat aan sy sorg toevertrou is. Sy lewensleuse het hy gevind in die woorde van Paulus in Filippense 1:21: Want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.'” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek 2011/385).