Bester, Ferdinand

 

Gebore

06 Nov. 1949

OORLEDE

24 Jan. 2009

UNIVERSITEIT

1986, BA, BTh

Lis Teol. 1986, US

gelegitimeer

1986

ORDEN

1987

STANDPLASE

1987 Klerksdorp-Flimieda

EMIRITEER

Ferdinand Bester is op 6 November 1949 op Beaufort-Wes gebore. Sy vader was Jims William Bester, ‘n stasievoorman in diens van die SA Spoorweë op Noupoort, en sy moeder was Elizabeth Johanna Faasen. Ferdi was die jongste van drie kinders, sy suster Esmé was agt jaar ouer as hy en sy broer Herman vier jaar ouer.

Toe Ferdi nog jonk was, het die gesin na Goodwood (Vrijzee) verhuis, waar Ferdi aan die Hoërskool JJ du Preez in Parow gematrikuleer het. Na skool het Ferdi eers diensplig verrig, waarna hy jare lank in die boubedryf gewerk het.

Ferdi het egter die roeping gekry om predikant te word en het in 1979 aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer. Hy het in 1982 die graad BA (Admissie) voltooi terwyl hy snags by die Vrugte navorsingsraad in die Eikestad gewerk het om die pot aan die kook te hou.

In 1983 het hy aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch begin studeer, en aan die einde van 1986 is hy as proponent gelegitimeer.

Ferdi is in 1973 met Roelien van Eck getroud, en hulle het twee seuns gekry, Dieter (1976) en Ulrich (1978); Albei het later ingenieurswese gestudeer.

Op 1 Oktober 1987 is proponent Ferdi Bester met handoplegging in die NG Gemeente Klerksdorp-Flimieda bevestig. Dit was ds. Ferdi se eerste en enigste gemeente, en hy het 21 jaar lank as leraar in die gemeente gedien. Dit was vir almal ‘n groot skok toe hy skielik op 24 Januarie 2009 aan ‘n hartaanval oorlede is.

Oor haar man skryf Roelien: “Hy het ‘n groot liefde vir die seniors in die gemeente gehad en het dit geniet om by hulle te kuier. Met sy bou-agtergrond was Ferdi altyd self betrokke by die instandhouding van die kerk se geboue. Hy was persoonlik betrokke by alle aksies en projekte wat in die gemeente aangebied is en het baie belanggestel in die kerklike administrasie. Ferdi se vaste geloof was altyd die rots in ons huis.” (Jaarboek 2010/383).