Bester, Albertus Wynand Christoffel

 

Gebore

24 Mrt. 1924

OORLEDE

09 Okt. 2009

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASE

1953 Loeriesfontein

1959 Die Hoogtes

1960 Nieuwoudtville

1967 NGK Warmbad SWA

1971 Calvinia

 1974 Vredendal-Wes

EMIRITEER

1989

Albertus Wynand Christoffel Bester is op 24 Maart 1924 naby Lutzville gebore. Sy vader was JacobusAndries Johannes Bester, ‘n boer, en sy ma was Huibrecht Sarah Jacoba Baard. Albert het sy skoolopleiding op 27 Januarie 1936 in die plaasskool Voorbeeld naby Koekenaap begin, ook genoem Vlermuisklip se skool. In 1947 het hy aan die Hoërskool Nuwerus gematrikuleer. Op skool het hy uitgeblink in redenaars en rugby. Hy het geroepe gevoel om sendeling te word en het in 1948 aan die Sending-Instituut op Wellington begin studeer. Hy het ook die BA-graad aan die Hugenote Universiteitskollege behaal en aan die Strewersvereniging behoort.

Eerwaarde AWC Bester het in 1952 sy studie op Wellington voltooi en is as sendeling gelegitimeer. Hy was besig om op Leeugamka af te los toe drie beroepe hom bereik: na Nuwerus, Garies en Loeriesfontein. Op 10 Mei 1953 is hy in die NG Sendingkerk op Loeriesfontein bevestig. Hier het hy goeie werk gedoen, totdat hy in 1959 na die NG Sendingkerk Die Hoogtes in die Suid-Kaap naby die Wildernis vertrek het. Daar het hy ‘n pastorie op Hoekwil gebou.

‘n Jaar later is hy op 31 Julie 1960 in die NG Sendingkerk in Nieuwoudtville bevestig. Hier was hy gemoeid met die bou van ‘n nuwe NG Sendingkerk en pastorie. Toe kom ‘n roepstem na die Moederkerk as leraar van die NG Gemeente Warmbad in die destydse Suidwes-Afrika, waar hy op 2 September 1967 ontvang en bevestig is.

Op 5 Februarie 1971 het Albert leraar van die NG Moedergemeente op Calvinia in die Hantam geword, waar hy gewerk het totdat hy ‘n beroep aanvaar het as eerste leraar van die nuutgestigte NG Gemeente Vredendal-Wes, waar hy op 5 Oktober 1974 ontvang en bevestig is. Met sy ervaring van bouwerk was hy intens betrokke by die bou van ‘n nuwe NG Kerkgebou en -saal. In hierdie laaste gemeente het hy diep spore getrap en het hy op 18 Junie 1989 demissie en emeritaat weens gesondheidsprobleme ontvang.

Deur die jare het Albert ‘n aftreehuis by Onrusrivier gebou en na sy aftrede op Lambertsbaai weer ‘n huis. Intussen het hy sy eie lewensverhaal geskryf en was hy betrokke by die NG Gemeente Lambertsbaai, waar hy dertien jaar lank voorsitter was van Huis Somerkoelte op Lambertsbaai.

Albert is op 14 Desember 1953 met Maatje Christina Visser, ‘n gekwalifiseerde onderwyseres, getroud. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Andrie, Hennie, Wynand en Annette. Op 26 September 2006 het ds. Albert Bester na die Rotary-aftreeoord op Swellendam verhuis, en op 24 September 2008 na ‘n woonstel in Huis Zenobia du Toit op Heidelberg. Hy is daar op 9 Desember 2009 aan ‘n hartaanval oorlede. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek 2011/384).