Bell, George Johannes Viljoen

 

Gebore

04 Mrt. 1916

OORLEDE

17 Jun. 2003

UNIVERSITEIT

A. Dipl. Teol. (US)

gelegitimeer

1940

ORDEN

1941

STANDPLASE

Charl Cilliers

1944 Paardekop

1946 Vryheid

1951 Durban

1956 Pierneef

1962 Hoofsekr. Afrikaanse C.S.V. van S.A.

EMIRITEER

1981

Johan Bell is op 4 Maart 1916 op Frankfort gebore. Sy vader, George Henry Turner Bell, was die later bekende en gewaardeerde bestuurder van die Kerklike Koshuis van die NG Kerk op Heidelberg (Transvaal); Sy moeder was Magdalena Viljoen, ‘n onderwyseres.

Johan het vir twee jaar die laerskool op Frankfort bygewoon, waarna hy sy skoolopleiding aan die Laer en Hoër Volkskool op Heidelberg voltooi het.

Reeds vroeg in sy lewe het hy bewusgeword van die hand van die Here in sy lewe en God se roepstem om voltyds vir Hom te werk. Op skool het Johan ywerig getuig, daarom was niemand destyds verbaas toe hy besluit het om teologie te gaan studeer nie. Op skool het hy in die eerstespan krieket gespeel en graag in die Suikerboschrante gestap.

Ds. Bell was tussen 1934 en 1940 ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het die graad BA in 1936 verwerf. As student het hy hom op verskillende gebiede onderskei, en het hy ook in die Studenteraad gedien. Hy was ‘n lid van die berg-en-toerklub, het vir Maties se eerstespan krieket gespeel, asook tennis vir die koshuisspan van Wilgenhof.

Aan die einde van 1940 is ds. Bell op Stellenbosch gelegitimeer. Na sy legitimasie het sy ouers en aanstaande skoonouers, ds. en mev. Henri Murray , dieselfde Skrifgedeelte aan hom gegee. “En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees” (Fil. 4: 8-9); Hierdie Bybelvers het ds. Bell se lewensleuse geword.

Prop GJV Bell het die bediening op Standerton as hulpprediker begin. Hy is egter enkele maande later na die NG Gemeente Charl Cilliers beroep nadat twee beroepe van die kerkraad onsuksesvol was. Hy is op 29 Junie 1941 met handoplegging bevestig. Hier het hy hard gewerk en diep spore getrap.

Op 10 Junie 1944 is hy op Paardekop bevestig en op 15 Junie 1946 in die Vryheid-gemeente. Sowat vyfjaar later het hy na Durban verhuis en 1956 het hy ʼn beroep na die Pierneef gemeente in Pretoria aanvaar. Deur al die jare was ds. Bell baie betrokke by jeugwerk, en het hy sy deel in die sinodale jeugkommissie gedoen. In 1956 is hy deur die Ring van Eloffsdal (Pretoria) afgevaardig om as deel van ‘n komitee by die hoofbestuur van die KJV te gaan voorbrand doen vir die stigting van Junior KJV-takke. Die komitee het bestaan uit die di. JG Bezuidenhout van die Riviera-gemeente, Bell, en ds. Mike Smuts (snr); destyds predikant van die gemeente Rietfontein-Noord in Pretoria. Di. Bell en Smuts het later hoofsekretarisse, van die CSV geword, wat ironies is aangesien die Junior KJV en die CSV destyds as “opponente” gesien is.

In Pretoria en omgewing het ds. Bell se jeugwerk die oog gevang en die CSV het hom in 1963 as mede-hoofsekretaris aangestel. Die hoofsekretaris was ds. Fred Liebenberg.

Ds. Bell en sy gesin moes van die Jakarandastad na die Eikestad verhuis om daar sy bediening voort te sit.

As nederige en toegewyde dienskneg het hy op Stellenbosch waardevolle diens vir die CSV en die koninkryk verrig totdat hy in 1981 daar afgetree het. As hoofsekretaris het hy ‘n besondere verhouding met elke personeellid aangeknoop en ‘n blywende indruk op elkeen gemaak. Hy het die leuse van die CSV – “Jesusis Koning” – met woord en daad uitgeleef.

Na sy aftrede het ds. Johan en mev. Hannah Bell hulle in Lynnwoodrif, Pretoria, gevestig. Hy het nie net sy tyd met staptogte en tennis verwyl nie, maar steeds diensbaar gebly en as hulpleraar van die gemeente Pretoria-Wes gedien. Daar het hy besondere en uiters pligsgetroue pastorale werk gedoen, ook in die baie woonstelle waar meestal minder gegoedes gewoon het. Hy het ook twee keer die Zimbabwiese gemeente Chipinge uitgehelp toe hulle leraarspos vakant was.

Hy en Johanna Murray, dogter van ds. Henri Murray, is op 7 Februarie 1942 getroud en het drie kinders gehad, Ilse (1942); George Murray (1946) en Jeanette (1950); Daar is ses kleinkinders.

In Julie 1999 het hy ‘n groot hartomleidings-operasie gehad. Hy het egter baie goed daarvan herstel en weer met sy daaglikse aktiwiteite voortgegaan. Sy kragte het egter geleidelik al minder geword en in die laaste week het dit vinnig afgeneem totdat hy in die nag van 17 Junie 2003 oorlede is. ‘n Dankdiens is vir hom in die Lynnwoodrif-gemeente gehou.

In die diens is alle eer aan God gegee vir ds. Bell se getuienis.

(Dr Gerdrie van der Merwe, aangepas uit die CSV-feesbundel, “Jesus is Koning” . Effens aangevul deur ds. Dirk Viljoen.) (Jaarboek 2004/344).