Bekker Theo Nico

Ds Theo Bekker

gebore

30 Aug 1957

oorlede

22 Augustus 2021

UNIVERSITEIT

 BA BD MA (UP)

gelegitimeer

1998

ORDEN

1992

standplase

1992 Germiston-Suid

2000 Demissie

2001 Kemptonpark (Tentmaker)

2003 Kemptonpark

emeriteer

2012

DS NICO BEKKER (BA, MA, BD) 30 Augustus 1957 — 22 Augustus 2021

Theo Nico Bekker is op 30 Augustus 1957 gebore te Kroonstad op die walle van die Valsrivier. Ons het geen gegewens oor sy ouers, kinderjare en skooljare nie, maar weet dat hy hom bekwaam het as rekenkundige. Nico behaal die BA- en MA grade en voel later geroepe om predikant te word. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit (Afd B) en Nico behaal die BD-graad en word aan die einde van 1988 as proponent gelegitimeer.

Dit was moeilike tye en beroepe skaars en hy help tydelik as jeugleraar in die NG Gemeente Kempton-Kruin, waar hy en sy studentevriend ds Bert van Zyl mooi werk in die gemeente doen. Dr Johan Botha getuig: “Ek sal Nico onthou vir sy toewyding aan die kerk en sy helder roepingsbewustheid, veral in tye toe dit swaar gegaan het en hy vir ‘n tyd sonder ‘n standplaas op ‘n beroep gewag het.”

Op 29 Februarie 1992 word prop TN Bekker met handoplegging in die NG Gemeente Germiston-Suid ontvang en bevestig, ‘n Oos-Randse gemeente wat weens demografiese verskuiwings in ‘n halfeeu van ‘n 1 000 lidmate na 393 geval het, met tans minder as 100 lidmate. In die NG Gemeente Germiston-Suid werk ds Nico met groot vrug, maar moet weens ‘n egskeiding sy demissie neem en die bediening in 2000 verlaat. Hy was by uitstek ‘n gesinsman, iemand wat baie lief was vir sy drie dogters. Ds Nico Bekker en sy nuwe lewensmaat Adri, wat ‘n maatskaplike werker is, keer terug na sy wortels in die NG Moedergemeente Kemptonpark, waar hy op 29 Julie 2001 bevestig word as leraar van die gemeente wat die geestelike broeikas was van die gebied. Dit is die oudste NG gemeente in die Oos-Randse dorp en in die Hoëveld Sinode. Die laaste twintig jaar het die lidmaattal en kerk-bywoning drasties afgeneem, want al meer Afrikaanse gesinne het weggetrek na veiliger woonplekke.

In 2012 moes hy op vroeë aftrede gaan omdat die gemeente nie meer sy salaris kon bybring nie. Die kerk se pastorie is ook vroeër aan MES, die Christelike welsynsorganisasie, verkoop om ‘n oornagskuiling vir haweloses te word. Maar ds Nico het as tentmakerleraar voortgegaan terwyl hy voltyds skoolgehou het om die pot aan die kook te hou. Adri het as maatskaplike werker gewerk en saam het hy en die gemeentelede kliphard gewerk met fondsinsamelings, sodat die gemeente kon voortbestaan. Sy vrou Adri onthou: “Hy moes altyd die kerrie maak en sou al soggens vieruur begin kook om seker te maak die kerrie is reg as die basaar begin en hy het tot die laaste gebly om te help opruim.”

In die Covid-19-tydvak aan die einde van Augustus, tref in een week ‘n groot en dubbele hartseer die NG Gemeente Kemptonpark, toe ds Nico Bekker en die orrelis, Hettie Viljoen, enkele dae na mekaar sterf aan Covid-19. Hy sterf op 22 Augustus 2022 in die Life Glynwood-hospitaal se intensiewe-sorgeenheid in Benoni weens longinfeksie, lae suurstofvlakke en water om die hart.

Op 27 Augustus 2022 neem sy vriend ds Bert van Zyl (Kemptonpark-Noord), sy intieme roudiens waar. Weens die Covid-beperking, kon die gemeente wat uit meestal ouer mense bestaan, nie sy roudiens bywoon nie. ‘n Deurrydiens is gehou waar lidmate blomme op sy kis kon sit. Bert getuig: “Nico se hart was opreg. Hy kon moeilik wees, maar hy was opreg. Hy het sy geloof diep uitgeleef en het soos ‘n kind geglo in die Heilige Skrif as Woord van God.”

Sy vrou Adri, wat saam met hom 17 jaar lank die gemeente bedien en lief-gekry het, praat uit die hart: “Ek kon nie glo hoeveel lidmate gekom het om vir `ons dominee’ tot siens te sê nie, waar die lidmate soos familie is. Nico was op sy gelukkigste as hy met kerksake besig was. Hy het die gemeente en sy gesin altyd eerste gestel. Hy was ‘n omgee-mens en het net sy beste gegee vir die Here se werk.” Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 351)