Basson, Willem Francois

 

Gebore

15 Apr. 1914

OORLEDE

4 Aug. 1984

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1940

ORDEN

1941

STANDPLASE

1941 Barkly-Oos

1944 Brandvlei

1945 Williston

1946 Demissie

1947 Murraysburg

1964 Jansenville

1967 Philipstown

1968 Jansenville

EMIRITEER

1970

Ds. Willem Francois (Willie) Basson (15 Apr. 1914 – 4 Aug. 1984); wat reeds op 29 Nov. 1970 weens swak gesondheid moes aftree, het as ‘n toegewyde sendingleraar bekend gestaan. Na die voltooiing van sy studie aan die destydse Sendinginstituut op Wellington in 1940 tot die bediening toegelaat, word hy in Maart 1941 deur die sendingkommissie van die moederkerkraad as werker onder die Swart- en Bruinmense in die sendingwerkkring van Barkly-Oos, sowel as onder die van die aanliggende gemeente Rossville (Rhodes); verwelkom. Op Barkly-Oos staan hy aan die sy van wyle ds. G J Barnard wat self ‘n oud-sendeling was en ‘n man wat steeds sy geesdrif vir die groot saak behou het. Twee maande na sy aankoms word die sendingwerkkring tot ‘n volwaardige gemeente gestig en op 6 Sept. 1941 word hy georden en as die gemeente se eerste leraar bevestig. In die hoë bergstreek in die skilderagtige hoek van Noordoos-Kaapland laat die jong leraar, ten spyte van sy liggaamsgebrek en die moeilike tydsomstandighede, geen gras onder sy voete groei nie. Hy begin dadelik met die hou van meer buitedienste en ook met dienste in die gevangenis en ofskoon die gemeente se geldsake aanvanklik groot sorg baar, werk hy met soveel ywer dat die nadelige banksaldo teen middel 1942 in ‘n kredietbalans omgesit kan word. In April 1944 verlaat hy Barkly-Oos om gedurende die volgende twee jaar die Karoogemeentes Brandvlei (Mei 1944) en Williston (Junie 1945) te bedien, totdat hy op 27 Apr. 1946 demissie kry. In September 1947 word hy na ‘n lang vakature as leraar van Murraysburg bevestig, waar hy vir nagenoeg 18 jaar die bouwerk van baie jare met toewyding voortsit en sedert 1951 ook skriba-kassier van die Moedergemeente is. Vervolgens staan hy in Jansenville (1964); in Philipstown (Mei 1967) en eindelik weer in Jansenville van April 1968 totdat hy sy emeritaat aanvaar. Daarna woon hy in die Solheim (Germiston) – en Vergenoeg (Pretoria)-tehuis vir bejaardes en in die Abraham Kriel-kinderhuis op Nylstroom, waar sy sorgsame gade as matrone/huismoeder optree. Hy is op Nylstroom oorlede. (Jaarboek 1986).