Basson, Petrus Jurgen

 

Gebore

23 Okt. 1911

OORLEDE

24 Mrt. 1985

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1943

ORDEN

1944

STANDPLASE

1944 Hopefield

1946 Willowmore

1949 St. Helenabaai

1954 Willowmore-Rietbron

1959 Lambertsbaai

1962 St. Helenabaai

EMIRITEER

1977

Ds. PetrusJurgen (Pieter) Basson (23 Okt. 1911 – 24 Mrt. 1985); wat tot sy aftrede op 29 Okt. 1977 ‘n vrugbare bediening van 33 jaar in verskeie Kaaplandse sendinggemeentes gehad het, is op Hopefield oorlede waar hy ook na sy legitimasie (begin Desember 1943 op Wellington) op 22 Okt. 1944 georden en tot herder en leraar van die sendingwerkkring bevestig is. As ‘n seun van die nabygeleë Velddrif-gedeelte van die destydse gemeente Aurora en as ‘n man wat self van die visserskuite af na die evangeliebediening geroep is, pas hy hom nie alleen gou en goed by die werk in daardie omgewing aan nie, maar vind hy ook geredelik aanklank by die vissersbevolking wat so ‘n groot deel van sy “gemeente” uitmaak. Met sy innige vroomheid van gemoed en besiel met die ernstige verlange om die Meester se saak te dien, lê hy hom met ywer en oorgawe op sy taak toe. Hy kry egter herhaalde beroepe en na skaars twee jaar vertrek hy na die gemeente Willowmore-Rietbron (September 1946); Met sy bevestiging begin Oktober 1949 op Velddrif as leraar van St Helenabaai (Aurora en Velddrif); is hy weer aan die Kaapse Weskus, maar vroeg 1954 keer hy ook na die Willowmore-gedeelte van sy vroeëre Karoogemeente terug. In Maart 1959 kom hy vir goed terug “huis toe”, na die Weskustoe, waar hy eers Lambertsbaai en toe nog ‘n keer St Helenabaai van sy woning op Velddrif af bearbei. Terwyl hy gedurende sy twee dienstermyne in laasgenoemde gemeente daar baie diep spore van Godsvrug en liefde trap, laat sy kenmerkende humor, nederigheid en minsaamheid ook in die moedergemeentes Aurora, Velddrif en later ook Laaiplek onuitwisbare indrukke na. In sy eerste dienstyd in die gemeente St Helenabaai word ‘n nuwe kerksaal op Totheuwel in 1950 voltooi. Na sy terugkeer in 1962 tree daar steeds nuwe verwikkelinge in wat die hoof gebied moet word. Een hiervan was die verskuiwing in die sewentigerjare van Totheuwel se Bruinmense na die nuwe woongebied Noordhoek wat, meebring dat hy, naas die geestelike bouwerk waarmee hy onvermoeid besig is, voor een van sy grootste uitdagings – die bou van ‘n nuwe kerkkompleks – te staan kom. Deur die verkoop van die kerklike eiendomme, die heelhartige samewerking van sy eie gemeente en die daadwerklike ondersteuning van bogenoemde drie moedergemeentes, kan die sendinggemeente teen die einde van sy gewaardeerde leraar se bediening in Augustus1977 sy sierlike kerkgebou op Noordhoek met ‘n klein skuld inwy. Omdat die behoefte aan toereikende onderwysgeriewe vir die Bruin gemeenskap swaar op sy hart gelê het, verrys daar gedurende sy tweede dienstermyn in die gemeente onder sy leiding ook vier dagskole. Na sy aftrede vertrek die egpaar na Hartenbos, maar later woon hulle op Hopefield. (Jaarboek 1986).