Gebore
20 Jun. 1923
OORLEDE
29 Des. 1997
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1948
ORDEN
1949
STANDPLASE
1958 Witzieshoek
1960 Dosent Teologiese Skool Witzieshoek en sendeling Witzieshoek Sendinggem
1964 Witzieshoek
EMIRITEER
1990
Ds. Nicolaas Willem Basson 20 Jun. 1923 – 29 Des. 1997
Die bekende en beminde ds. Nico Basson is op 29 Desember 1997 in die hospitaal op Parys (Vrystaat) oorlede aan nierversaking. Hy het sy bediening in geheel aan die NG Kerk in Afrika gewy en diep spore daar getrap as ‘n teoloog en kerkleier. Hy was ‘n gesant van die Here wat tot aan die einde besig was om die goeie boodskap oor te dra.
Nico Basson is op 20 Junie 1923 op Darling gebore. Hy het in 1940 aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl gematrikuleer en het daarna aan die Sendinginstituut op Wellington studeer waar hy in 1948 gelegitimeer is. Sy eerste gemeentes was Parys en Parys-Oos van die NGKA. Daar het hy vir nege jaar gewerk voordat hy in 1958 ‘n beroep na Witsieshoek ontvang het waar hy uiteindelik 32 jaar lank gewerk het. Van 1960 tot 1964 was hy dosent aan die Teologiese Skool van die NGKA aldaar sowel as sendeling. In 1964 het hy teruggegaan na die NGKA-gemeente van Witsieshoek. Hy het egter ook dosent gebly tot met sy emeritaat op 20 Januarie 1990.
Hy was ‘n baie besondere en bekwame man. Daarom het die kerk dit ook erken en hom vertrou met baie verantwoordelike posisies. Hy was vir twintig jaar voorsitter van die Moderatuur van die NGKA in die Vrystaat en veertien jaar aktuarius. Hy was ook vir twaalfjaar ‘n voortreflike moderator van die Algemene Sinode van die NGKA – inderdaad ‘n groot leier van sy kerk, ʼn begenadigde van die Here. Na sy aftrede het hy en sy vrou, Mollie, met wie hy 47 jaar getroud was, op Parys gaan woon. Ook daar het hy aktief en bedrywig gebly as ouderling en het hy gereeld dienste in die NGKA-gemeente, die hospitaal en die gevangenis gehou.
Hy word oorleef deur drie kinders (mev. Riekie van der Merwe, mev. Carien Kruger en Willem) en vier klein-kinders. Sy begrafnisdiens is gelei deur ds. Samuel Kuekue, leraar van die NGKA-gemeente op Parys. Hy het met groot liefde en waardering van hierdie ‘gesant van die Here’ gepraat.
Kenmerkend van hierdie besondere man was sy deeglikheid, sy minsaamheid en sy toewyding aan die Koning van die Kerk. Vir baie was hy ‘n vertroueling en vader, ‘n raadgewer en geestelike leier. Hy was nie net ‘n kerkleier nie, maar ook ‘n sendingstrateeg wat groot agting geniet het en baie gedoen het om goeie verhoudings tussen kerke te bevorder. – Dirk Viljoen, onder andere na aanleiding van ‘n berig deur Anton Herholdt. (Jaarboek 1999/342).