Basson, Matthys Johannes

Gebore

21 Jun. 1928

OORLEDE

28 Mrt. 1993

UNIVERSITEIT

Sending Instituut

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASE

1953 Piketberg Sendingkerk

1960 Moorreesburg Sendingkerk

1971 De Doorns Sendingkerk

1975 Vishoek

26 Jul. 1985 Saakgelastigde Sinode Wes-Kaapland

EMIRITEER

Ds. Thys Basson was die bekwame en vriendelike Saakgelastigde van die Wes-Kaapse Sinode en is op 01 Apr. 1993 onder blyke van groot belang stelling uit die NG Kerk Parow-Panorama begrawe.

Thys Basson is op Darling aan die Weskus gebore waar hy tot st. 8 in die skool was. Daarna het hy sy skoolopleiding voortgesit aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl. Sy teologiese opleiding het hy aan die Sending-Instituut op Wellington gekry. Toe hy die graad BA (Hons) in Kerkgeskiedenis met onderskeidings behaal het, is ‘n beurs vir verdere studie Duitsland aan hom toegeken, maar hy het dit van die hand gewys omdat by gevoel het dat die Here hom toe reeds nodig gehad het in die bediening.

Ds. Basson is in 1953 georden as leraar van die NG Sendingkerk Piketberg. Daarna het hy ook as sendingleraar gedien in die gemeentes Moorreesburg en De Doorns. Op die sinodes van die NG Sendingkerk het hy veral ten opsigte van finansies en administrasie leiding geneem. Die liefde en belangstelling in die getuienistaak van die kerk het kenmerkend van sy amp gebly. In 1975 het hy leraar geword van die NG Kerk Vishoek, en tien jaar later is hy benoem tot Saakgelastigde van die NG Kerk in Suid-Afrika. Hy het die nuwe taak met kenmerkende ywer aangepak, en daarin geslaag om die administrasie en fondse van die kerk op ‘n hoë standaard te bring. Die tydperk van rekenarisering was ‘n uitdaging wat op die ou end tot ordening en sinvolle beheer en kontrole gelei het.

Die Pensioenfonds het in sy tyd besondere groei beleef – dis jammer dat hy self nooit die voorreg gehad het om die vrugte daarvan as pensioenaris te pluk nie. Die begrotings en befondsing van alle sinodale werk is op ‘n vlak gebring wat uitstekend vergelyk met die heersende standaarde in die handel. Maar by al die nougesette ywer en ekonomiese insig, het ds. Basson steeds in die eerste plek leraar en herder gebly.

Op die gebied van die Algemene Sinode se Fondsekommissie, het hy as lid van die dagbestuur geywer vir beter samewerking tussen die verskillende sinodes en ook die drie pensioenfondse.

Hy word oorleef deur sy eggenote Maria en drie dogters: Annemarie Visser – boervrou van Moorreesburg, Karina  Briers-Louw – boervrou van die Agter-Paarl, en Marielouw van der Merwe van Parow-Panorama.

Sy eggenote Maria (‘n nooi Louw) het hom in die gemeentes waarin hy gestaan het, getrou ondersteun. Ook in die afgelope jare toe hy as saakgelastigde ‘n sinodale pos beklee het, was sy ‘n steunpilaar. Dat sy vir hom baie meer as net ‘n lewensmaat was, het veral in die laaste jaar van sy lewe al hoe meer sigbaar geword nadat ontdek is dat hy ‘n ongeneeslike nierkwaal opgedoen het.

By sy begrafnis het ds. S G Malherbe namens die Sendingkerk hulde gebring aan iemand wat diep spore getrap het.

Die diens is gelei deur die moderator van die Kaapse Sinode, ds. Kobus van der Westhuyzen, wat hulde gebring het aan ds. Basson as ‘n dienskneg wat met ywer en toewyding in die Here se wingerd gearbei het.

Sy heengaan het ‘n groot leemte gelaat, maar sy arbeid, toewyding en doelgerigte beplanning het meegebring dat die werk van die Sinode en die kerk steeds voortgaan en groei. (C W Alheit) (Jaarboek 1994/376).