Gebore
23 Mrt. 1915
OORLEDE
20 Jul. 1978
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1939
ORDEN
1942
STANDPLASE
1940 Steytlerville
1945 Soedan
1956 Burgersdorp (Sending- en Bantoegemeentes)
1968 Piketberg (NGSK)
EMIRITEER
1954
Ds. Gideon Johannes (Gielie) Basson (23.3.1915 – 20.7.1978) se lewenswandel het van sy jeugjare af die stempel van ware vroomheid en opregte toewyding gedra en sy lewe en werk was vir almal wat hom geken het ‘n besieling. Met sy bediening het hy groot erns gemaak en hy het veral die Bruinmense goed geken en verstaan. Oral waar hy werksaam was, is goeie verhoudinge bevorder. Hy is op Darling gebore, waar hy ook skoolgaan, totdat hy vir die senior sertifikaat na die Paarlse Gimnasium gaan. Na die voltooiing van sy studie aan die ou Sendinginstituut op Wellington, word hy einde 1938 tot die bediening toegelaat. Eers arbei hy in Vredefort (1939) en 1942 word hy as leraar van die sendinggemeente Steytlerville georden en bevestig. Sy groot ideaal om na ons Soedansendingveld te gaan, word 1945 verwesenlik, maar 1954 verplig verswakte gesondheid hom om sy emeritaat te aanvaar en na sy vaderland terug te keer. Hy herstel egter sodanig dat hy 1956 ‘n beroep na Burgersdorp kan aanvaar, waar hy die gemeentes van die NGSK en die NGKA behartig. Vanaf Maart 1968 doen hy geseënde werk in die sendinggemeente Piketberg totdat hy vier maande later oorlede is. Hy was ‘n nederige man wat ondanks swak gesondheid met besondere pligsgetrouheid in die Heiland se diens volgehou het soos een wat die onsienlike sien. Di. N W Basson (Witsieshoek); aktuarius van die NGKA-Sinode, en M J Basson (NGK Vishoek) wat vroeër oa. ook in die sendinggemeente Piketberg gestaan het, was sy jonger broers. (Jaarboek 1979/266)