Gebore
22 Augustus 1931
OORLEDE
1 Maart 2014
UNIVERSITEIT
BA, POS
gelegitimeer
1962
ORDEN
1963
standplase
1963 Swellendam
1968 Vredendal
1973 Paarl-Vallei
1982 Goudini
1987 Gordonsbaai
Emiriteer
30 April 1992
Hendrik Daniel Barnard is op 22 Augustus 1931 op Gansbaai gebore. Sy vader is Johannes Rudolph Barnard, ‘n skoolhoof op Gansbaai en later Napier. Sy moeder is Elizabeth Johanna Nel, ‘n huisvrou.
Hennie, soos hy in sy skooljare genoem is, begin in 1937 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Gansbaai en matrikuleer in 1948 aan die Hoërskool Napier. In sy skooljare blink hy uit in rugby, tennis en atletiek. Na matriek studeer hy van 1949 tot 1951 aan die Paarlse onderwyserskollege, waar hy op die studenteraad dien en vir die eerste rugbyspan speel. Hierna gee hy skool aan die Maitland Public School, later by Hoërskool Maitland, Hoërskool Jan van Riebeeck, die Sekondêre Skool Groot-Brakrivier, en uiteindelik aan die Hugenote Laerskool op Wellington, waar hy in 1957 uit die onderwys tree.
Henk is intussen (19 Desember 1953) met Johanna Catharina (Jossie) van Dyk getroud — ‘n skoolkys. Hulle sou uiteindelik 60 jaar lank saam wees. Uit die huwelik is daar ‘n seun en twee dogters gebore.
Reeds voor sy uittrede uit die onderwys, het Henk hom tot die evangeliebediening geroepe gevoel. En nadat hy ‘n BA-graad aan Unisa verwerf het, word hy in 1958 ‘n student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Henk dien op die redaksie van Polumnia, die kweekskoolstudente se jaarblad. In 1962 word hy as proponent gelegitimeer en op 19 Januarie 1963 met handoplegging in die NG Gemeente Swellendam bevestig. Hy is nie meer ‘n jong man nie, en dit is die begin van ‘n baie besonderse bediening in die historiese dorp. Op 19 Januarie 1968 word hy leraar by die NG Gemeente Vredendal, waar hy vyfjaar lank die Woord van die Here met oorgawe verkondig. Hierna loop sy bedieningspad na die NG Gemeente Paarl-Vallei, waar hy op 11 Mei 1973 bevestig word. Dit is die gemeente waar die onderwyskollege geleë is waar hy vroeër afgestudeer het. Die studente kan met hom identifiseer, en hy geniet dit ook om met die gemeente se skoolgaande jeug te werk.
Op 23 Julie 1982 loop sypad oor die groot Drakensteinberge tot by Rawsonville naby Worcester, waar hy leraar word by die NG Gemeente Goudini en ‘n verdere vyf jaar lank daar dien. Op 3 Januarie 1987 word hy in die NG Gemeente Gordonsbaai bevestig. Hier teen die Valsbaaise kus werk hy heerlik saam met sy kollegas en hulle put uit sy lewenskennis en innerlike wysheid. Dit was vir Henk en Jossie ‘n laaste standplaas voor sy emeritaat op 30 April 1992.
Die egpaar vestig hulle in Hermanus, waar hy op die kerkraad dien en preek wanneer die geleentheid hom voordoen. Hy sterf op 1 Maart 2014; die roudiens word op Hermanus gehou, en waargeneem deur sy oud-kollega op Gordonsbaai, ds. Strydom Bruwer.
Laasgenoemde skryf : “Henk Barnard het na ‘n kort loopbaan in die onderwys die roeping ontvang om predikant te word. Dit was ‘n roeping wat hy met groot toewyding en liefde uitgeleef het. Hy was ‘n wyse man wat moeilike situasies met groot rustigheid kon hanteer. Sy fyn humorsin en sy liefdevolle, rustige geaardheid het van hom ‘n baie gewilde en geliefde predikant gemaak. Hy het die gawe gehad om moeilike Bybelse waarhede in sy prediking op ‘n baie eenvoudige wyse te verduidelik.
“Hy was ‘n ware herder, iemand wat met graagte en met vreugde die ekstra myl saam met sy mense gestap het. Hy was ook ‘n sportiewe mens, wat nie minder nie as tien keer die Bergrivierkanomarathon aangepak en voltooi het. Hy het vir lank bekend gestaan as `die roeiende dominee’.
“Wat my altyd sal bybly, is dat nadat demensie in sy vroeë tagtigs by hom gediagnoseer is, hy net twee woorde gereeld gebruik het “vreugde” en “toe-wyding”. Hier was dit ‘n geval van `waar die hart van vol is, loop die mond van oor’ .
“Dit was ‘n baie groot voorreg om my bediening saam met hom te kon begin. Ons eer sy nagedagtenis.” Dr Gerdrie van der Merwe VDM
(Jaarboek 2015).