Bam, Gustav

Ds G Bam

Gebore

07 Des. 1928

OORLEDE

10 Nov. 1996

UNIVERSITEIT

BA, BD, MPhil, DTh (US)

gelegitimeer

1954

ORDEN

1955

standplase

1955 Kaapstad

1967 Hospitaalleraar

1982 UWK

Emiriteer

Prof Gustav Bam BA, BD, MPhil, DTh 07 Des. 1928 – 10 Nov. 1996

Gustav Bam sal onthou word vir sy baie skerp intellek, sy vermoë om te onderskei en te formuleer en sy selfstandige denke. Daar word veral na hom verwys as die `vader’ van die Belhar-belydenis van die destydse Ned Geref. Sendingkerk. Hy was inderdaad ‘n baanbreker. Hy was gehoorsaam aan die stem van sy gewete, al het dit hom ‘n prys gekos. Hy was byna altyd sy tyd vooruit, ‘n oorspronklike denker met sterk oortuigings. Hy was ‘n Bybelstudent, eksegeet en ‘n prediker van formaat. Hy het nie na die paviljoen gekyk voordat hy standpunt ingeneem het nie. In sy preke was hy soms profeties reguit.

Gustav Barn is in Nigerië gebore waar sy vader in daardie stadium sendeling was. Sy kinderjare bring hy onder andere op Montagu en Villiersdorp deur waar sy ouers gewerk het. Hy matrikuleer in die Nassau-Hoërskool in Kaapstad waarheen hy gegaan het sodat hy ook beeldhoukuns-klasse kon neem.

Hy is in 1954 gelegitimeer aan die Kweekskool op Stellenbosch en is op 30 April 1955 in die NG Gemeente Kaapstad (Groote Kerk) georden. Behalwe sy BA- en BD-grade, verwerf hy ook later sy MPhil en DTh-grade aan die Universiteit van Stellenbosch.

Hy het ook in VSA gestudeer.

In Desember 1955 tree hy in die huwelik met Johanna Catharina (Rinie) van Zyl. Hulle het later ses kinders (vier seuns en twee dogters) en daar is reeds ses kleinkinders.

In 1967 word hy Hospitaalleraar vir Kaapstad en Wynberg. In hierdie tyd beoefen hy veral ‘n sterk pastorale bediening. Die sinode dra toe aan hom ook die uitreik na immigrante op. Hierdie mense bring hy bymekaar tot ‘n liggaam van Christusen ‘n gemeente word gestig. Vanaf 1970 was hy dus leraar van die Cape Peninsula Reformed Congregation.

Hy het ‘n belangrike rol in verskillende kerklike kommissie gespeel. onder meer die Algemene Komitee van die Kerk Jeugaksie, Diens van Barmhartigheidskommissies, Evangelisasiekommissies en die Prakties Teologiese Werkgemeenskap. Daarom lewer hy ook besondere bydraes in die verskillende sinodes en is sy voorstelle soms ingrypend.

Hy het ‘n sterk akademiese aanslag, en belangstelling gehad. Daarom was dit nie ‘n verrassing dat hy in 1982 professor aan die Teologiese Skool van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in Diakoniologie word nie. Hy het in die Praktiese Teologie, veral die prediking en pastorale Sorg, gespesialiseer.

Toe die NG Sendingkerk in 1982 die ‘Status Confessionis’ aanvaar (die Skriftuurlike regverdiging van  apartheid is in botsing met die Skrif, was dit hy wat die sinode daarop gewys het dat die aanvaarding van so Status Confessionis noodwendig moet lei tot die formulering van ‘n belydenis. Hoewel hy gekant was teen die Status Confessionis, het hy die gevolge daarvan besef en ‘n belangrike rol gespeel in die aanvaarding van die Belhar-belydenis. Daarom word hy ook die “vader” van die Belhar-belydenis genoem. In die Sendingkerk is ook van hom gepraat as die ‘profeet van Belhar’ .

In ooreenstemming met sy belangstellings, was hy ook grootliks verantwoordelik vir die herskrywing van die Formuliere van die NG Sendingkerk om gemeentelede meer daarby te betrek.

Vir meer as 12 jaar dien hy ook in die Kommissie vir Diakonale Dienste van die Verenigende Geref. Kerk (VGK); Hy was ook voorsitter van die Skiereilandse Welsynsdienste en ‘n leier in veral die Noordelike voorstede van Kaapstad.

Hy emeriteer in 1991 en die Bams woon aanvanklik in Monte Vista in Kaapstad, maar trek later na ‘n kleiner woonplek in Welgelegen. In hierdie tyd werk hy by Mfecane, ‘n gemeenskapsontwikkelingsprojek in Kruispad. Hy tree op as skakelpersoon tussen die verskillende kerke en hersien onder meer hulle grondwet om dit in ooreenstemming met nuwe omstandighede te bring. Baie probleme en verhoudings word deur hom daar aangepak en reggestel.

Kanker is reeds 23 jaar gelede by hom gediagnoseer, maar hy het in so ‘n mate herstel dat hy voluit kon lewe. Sowat twee jaar voor sy dood het hy weer siek geword en kon daar geleidelik al minder vir hom gedoen word. Na ‘n lang siekbed en worsteling, het die Bams na sy skoonseun, wat narkotiseur op Mosselbaai was, gegaan waar besondere intensiewe aandag aan hom gegee is in die private hospitaal Bay View. Hy is daar oorlede.

Gustav was ‘n stil persoon wat ‘n mens eers moes leer ken om te waardeer. Sy werk het altyd vir hom eerste gekom. Tog was hy ‘n goeie man en vader en hy het ‘n baie mooi verhouding met sy kinders gehad. Hy kon heerlik met sy kleinkinders speel.

Een van die huldigings wat aan hom betuig is, haal die volgende woorde aan: ‘It is true, great men must die, but death cannot kill them.’ – (DJ Viljoen, aan die hand van gegewens verkry uit verskeie berigte en van mev. Rinie Bam.) (Jaarboek).