
Gebore
–
OORLEDE
7 Januarie 1814
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1798
ORDEN
–
standplase
1798 Graaff-Reinet
1802 – 1803 Swellendam
1803 Tulbagh
Emiriteer
–
Ds. Hendrik Willem Ballot, (1798) Graaff Reinet 1798, Tulbagh 1814, Swellendam 1802-1803, obiit 1814. (Jaarboek).
Hendrik Wilhelm Ballot is in 1767 gebore te Iserlohn, die graafskap Mark in Wesfale in Duitsland. Hy is die seun van JSS Ballot en Maria Anna Visser. Hy studeer vir predikant in Leiden en word op 2 September 1790 gelegitimeer vir die Evangeliebediening en word predikant in Malakka en Batavia in die Ooste. Weens die oorlog tussen Engeland en Nederland wyk hy uit na Suid-Afrika en help in 1797 drie maande lank in die NG Gemeente Roodezand op Tulbagh, in afwesigheid van ds. MC Vos wat op daardie stadium die binneland verken het.
Op eie versoek word hy op 8 Julie 1798 deur die goewerneur aangestel as predikant van die NG Gemeente Graaff-Reinet, as opvolger van ds. JH von Manger. Tydens sy dienstyd brand die kerkgebou in die winter van 1799 af en hy werk hard om ʼn nuwe kerkgebou op te rig. Nog voor die inwyding, breek onrus in die gebied uit en dit word vererger deur die Derde Grensoorlog (1799-1802), wat groot spanning op voetsoolvlak bring. Om alles te kroon sterf sy geliefde vrou. Dit alles en die wilde Oosgrens, was vir hom as opgevoede Europeër net te veel en hy vra die regering om in 1802 verplaas na Kaapstad waar hy met Elizabeth Wilhelmina Cruywagen trou.
Ds. HW Ballot word in 1802 leraar op Swellendam, maar weens probleme word hy ʼn jaar later in 1803 na Kaapstad geskuif. Daar was groot spanning tussen hom en die gemeente, in so ʼn mate dat die vorige leraar ds. JH von Manger teruggeroep word om tydelik die gemeente tot bedaring te bring. In 1803 word hy op eie versoek gestuur na die NG Gemeente Roodezand (land van Waveren) op Tulbagh. Die bekende MHK Lichtenstein vermeld in sy dokumente dat ds. H W Ballot ʼn opgeruimde en goedhartige man is met ʼn vriendelike en minsame vrou uit een van die vooraanstaande Kaapse families. Hulle enigste seun is ds. JSS Ballot, van 1828 tot 1862 leraar van die NG Gemeente George.
Ds. HW Ballot word egter onthou vir sy omvattende boekversameling. Hy neem as jongman ʼn omvattende versameling boeke van Duitsland na Oos-Indië waar hy aanvanklik in die bediening staan. Met sy verhuising na die Kaap bring hy die boeke saam en sy versameling word die hele tyd aangevul met boeke oor klassieke en moderne tale en enige ander onderwerp denkbaar.
Ds. HW Ballot bou ʼn herehuis “Ballotina” op Tulbagh, waar sy vrou bly woon toe hy skielik op 47-jarige leeftyd op 7 Januarie 1814 sterf. Sy seun Johan Ballot is slegs dertien jaar oud en volg later in sy vader se voetspore as predikant in die NG Kerk. Van 1880 tot 1905 is die publieke skool op Tulbagh in Ballotina bedryf. Die huis is vandag Kerkstraat 43, ʼn Konferensie Sentrum op Tulbagh. Ds. H W Ballot word begrawe voor die preekstoel van die geskiedkundige kerkgebou op Tulbagh, vandag die Oude Kerk Volksmuseum, ʼn historiese gedenkwaardigheid in volksbesit. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM