
Gebore
14 Des. 1910
OORLEDE
1 Sep. 1978
UNIVERSITEIT
BA (UOVS); US
gelegitimeer
1938
ORDEN
1939
standplase
1939 Namakwaland (Hpr.)
1942 Upington (Hpr.)
1944 Niekerkshoop
1947 Ladismith, K.P.
1960 Salisbury-Suid
1970 Hendrina
Emiriteer
27 Nov 1977
Ds. Willem Thomas Badenhorst (14.12.1910 – 1.9.1978); wat sy emeritaat 27.11.1977 na ‘n bediening van 39 jaar aanvaar het, is op Thaba Nchu gebore. As seun van ‘n posmeester wat dikwels verplaas word, gaan hy op verskeie Vrystaatse dorpe skool, voordat hy op Rouxville matrikuleer. Hy verwerf ‘n BA-graad aan die destydse UKOVS in Bloemfontein en ontvang sy teologiese opleiding aan die Stellenbosse Kweekskool. Na sy legitimasie 1938 dien hy as hulpprediker in die groot gemeentes Namakwaland (1939) en Upington (1942) en vanaf April 1944 agtereenvolgens as leraar van Niekerkshoop, Ladismith (1947); Salisbury-Suid (1960) en Hendrina (1970); Dan vestig hy en sy eggenote – die enigste dogter van wyle ds. en mev. P J B Shaw van Kakamas – hulle in Pretoria, waar die jongste van hul drie seuns jeugleraar in die gemeente Harmonie is en waar die einde van sy aardse lewensreis skielik maar ook kalm en rustig aanbreek. Sy bediening is deurgaans deur ‘n noue persoonlike omgang met sy gemeentelede gekenmerk en daar het dan ook ‘n mooi werkie oor Huisbesoek van sy hand verskyn. Sy prediking was sterk evangelies en evangelisasiewerk en jeugarbeid het sy besondere aandag geniet. Deur sy persoonlike belangstelling en arbeid het baie soekers die Here Jesusontmoet. In kerklike vergaderings en op alle terreine van die kerklike lewe het sy kalme optrede en positiewe leiding opgeval. Uit sy pen het ons ook ‘n verdienstelike gedenkboek wat by geleentheid van die gemeente Ladismith se eeufeesviering in 1951 uitgegee is. (Jaarboek 1979/266).
