
Gebore
23 Okt. 1923
OORLEDE
21 Apr. 2001
UNIVERSITEIT
BA BD (UP)
gelegitimeer
1951
ORDEN
1952
standplase
1952 Gravelotte
1958 Roedtan
1969 Quaggapoort
1978 Koedoesrand
EMERITEER
20 Nov 1988
Casper, of “Callie”, is in 1923 op Pietersburg gebore. Sy pa, Gerhardus Johannes Badenhorst, was ‘n beesboer van die omgewing. Hy is eers na die Laerskool Louis Trichardt (1931 – 1932) en toe na ‘n plaasskool Welgevonden (1933 – 1936); Vir sy hoërskoolopleiding het hy na Louis Trichardt teruggekeer (1937 – 1938) waar hy lid was van die skool se eerste rugbyspan. Hy moes egter op die plaas met die boerdery gaan help en het met die hulp van die Helpmekaar-korrespondensie kursusmatriek in 1944 geslaag.
Casper was dus effens ouer as sy klasmaats toe hy in 1945 na die Universiteit van Pretoria is vir sy teologiese opleiding. Vandaar sy studente bynaam “Oubaas”. Hy het in 1947 ‘n BA-graad behaal en in 1950 die graad BD voltooi. Ds. Badenhorst is op 21 November 1951 gelegitimeer.
Aangesien hy, in sy eie woorde, moes “spook om sy vakke te slaag”, was hy nie baie betrokke op kampusnie, behalwe by aktiwiteite van die manskoshuis, Sonop, waar hy tuisgegaan het. Hy was ‘n toegewyde en ernstige student, hoewel hy ook ‘n kenmerkende humorsin gehad het. Die tema van sy BD-verhandeling was: “Die outeurskap en datering van die boek Prediker” en die tema van sy Proponent verhandeling: “Die stelsel van troonsbestyging in die state van Israel en Juda.”
Sy eerste beroep was na die gemeente Gravelotte in die destydse Noord-Oos-Transvaal. Hy is daar op 26 April 1952 georden en bevestig.
Hy het met ywer gewerk en het die gemeente gehelp om in 1954 ‘n kerksaal en ‘ ʼn pastorie bou. Na 6 jaar het hy ‘ ʼn beroep na die Roedtan-gemeente aanvaar waar hy op 28 November 1958 bevestig word. Hy was elf jaar in die gemeente en het in die tyd ook gehelp dat hulle ‘n kerkgebou oprig.
In 1969 het hy na Pretoria verskuif toe hy na die gemeente Quaggapoort beroep is. Hier het hy gehelp dat ‘n tweede pastorie gebou word en is twee gemeentes van Quaggapoort afgestig. Na nege jaar in die stad, is hy terug beroep na sy geliefde noordelike Bosveld-wêreld en is hy op 24 Januarie 1978 op Koedoesrand bevestig. Hy was tot met sy aftrede op 20 November 1988 in die gemeente.
Ds. Badenhorst was baie ywerig in die bediening van sy gemeentes en sy grootste prioriteit was om mense vir Christuste wen. Hy was baie getrou in sy huisbesoek en pastorale werk. Daarbenewens het hy vir 25 jaar in die Begrotings kommissie van Noord-Transvaal gedien en ook hier baie getrou sy bydrae gelewer. Hy het geen vyande gehad nie.
Na sy aftrede het hy op ʼn deel van die familieplaas by Louis Trichardt gaan woon. Hierdie plaas het aan sy oupa behoort en toe dit later verkoop is, het hy ‘n deel daarvan gekoop. Hy het met mango’s en avokadopere begin boer, of soos hy dit gestel het: “Ek probeer ʼn bietjie met vrugtebome boer.” In hierdie tyd het hy ook preekbeurte waargeneem in verskeie van die omliggende gemeentes soos Louis Trichardt, Soekmekaar en Levubu. Die jongmense van die omgewing het in hom ‘n vriend en raadgewer gevind en hom graag op sy plasie besoek. Van sy kleinseuns het ook daar per fiets gaan kuier.
Kort na sy legitimasie, op 5 Januarie 1952, is hy in die huwelik verbind met Catharina Elizabeth Coetzer. Die Here het vir hulle vier kinders gegee, Gerhardus Johannes (1952); Lambertus Albertus(1955); Casper Hendrik (1960) en Hester Aletta (1961).
Al vier hulle kinders is getroud en ds. Badenhorst het met sy afsterwe agt kleinkinders gehad. Gert is predikant in Wonderboom-Suid, Bertus in die gemeente Blouberg op Alldays, Casper is ‘n onderwyser en Hester en haar man, Francois van Huyssteen, is betrokke by ‘n operaskool. Sy kinders getuig dat hy ‘n pa en gesinsman by uitnemendheid was. Weens die pragtige voorbeeld wat hulle vader gestel het, was dit amper vanselfsprekend dat twee van die kinders ook die roepstem sou voel om in die bediening te tree.
Sy eggenote is op 6 Maart verlede jaar op Louis Trichardt oorlede weens diabetes. Cas het haar tydens haar lang siekte met liefde alleen versorg, totdat sy sowat drie weke voor haar dood in die versorging afdeling van die plaaslike huis vir bejaardes opgeneem is. Na haar dood het hy na die plaas teruggekeer, maar die eensaamheid was maar moeilik.
‘n Jaar later, op 21 April was hy op pad om vir sy kleinseun, wat pas uit die hospitaal ontslaan is na ‘n ernstige motorongeluk, te gaan kuier, toe hy by ‘n vierrigting-stopteken deur ‘n swaar vragmotor getref is. Hy is op die toneel oorlede. Ds. Casper Badenhorst was 77 jaar toe hy gesterf het. – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 14 Februarie 1997 ingevul het en ‘n gesprek met ds. Gert Badenhorst. – (Jaarboek 2002/333).