Gebore
23 Julie 1938
OORLEDE
22 September 2015
UNIVERSITEIT
BA (UP), BTh (US)
gelegitimeer
1975
ORDEN
1976
STANDPLASE
1976 Cradock
1980 Utrecht
1987 Greytown
EMIRITEER
1991
Abraham Jacobus Britz is op 23 Julie 1938 op Balfour in die ou Transvaal gebore, die derde van ses kinders. Sy ouers is Wynand M Britz en Sannie MC Britz. Hy was ‘n boukontrakteur op Balfour. Toe Ampie sewe jaar oud was, koop hulle grond in Villiers in die Noord-Vrystaat waar hy ‘n vooruitstrewende boer word.
Ampie se grootouers en ouers was meelewende lidmate van die NG gemeente Villiers. Hulle hou gereeld huisgodsdiens en deel geloofswaarhede en -belewenisse in gesprekke met hulle kinders, vriende en gemeentelede.
Ampie beleef in sy tienderjare ernstige nierprobleme en ondergaan verskeie operasies. Dit bring ‘n verdieping in sy geloofslewe en die begeerte het toe al in sy hart geleef om predikant te word.
Ampie begin sy skoolopleiding op Villiers, waar hy ook matrikuleer. Hy is aanvanklik betrokke in die boerdery. In hierdie tyd trou hy met Susanna Maria Christina de Jager, ‘n Iewensmaat wat dieselfde lewenswaardes as hy huldig en hom met oorgawe bystaan.
Na die huwelik verhuis hulle Pretoria toe waar hulle al twee gaan werk en deeltyds studeer. In die tyd kom sy roeping om predikant te word weer sterk na vore en hy volg die BA-graad buitemuurs terwyl hy by die Buite Stedelike Raad in Pretoria werk waar hy na ‘n kursus ‘n kenner word van rekenaars en die eerste rekenaar van die Raad in die Jakarandastad beheer.
Ampie behaal in 1971 sy BA-graad aan die Universiteit van Pretoria. Sy pad loop in 1972 na Stellenbosch waar hy student word aan die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier. Hy spesialiseer in diakoniologie, is in sy finalejaar die primarius van die klas en word einde 1975 as proponent gelegitimeer.
‘n Beroep kom na die NG Moedergemeente Cradock waar hy op 30 Januarie 1976 met handoplegging in die historiese gemeente in die hart van die Oos-Kaapse platteland bevestig word. Prof David de Villiers van die Kweekskool, ‘n geestelike mentor in sy lewe, het dit waargeneem.
Die jong leraar verkondig die Woord suiwer, sistematies en dit is ‘n groot passie die res van sy bediening. Hy het in Cradock saam met ds. F Maritz gewerk. Daar was groot seën op hulle arbeid in die groot gemeente en die kerkbywoning was buitengewoon hoog in een van die geskiedkundige kerkgeboue in Suid-Afrika.
Op 26 Januarie 1980 word hy leraar in die NG gemeente Utrecht, een van die oudste gemeentes in Natal. Soos Cradock, het dit een van die mooiste klipkerke in die land. Hier werk hy agt jaar lank in Noord-Natal, totdat hy op 27 November 1987 as leraar van die NG gemeente Greytown bevestig word en na vier jaar weens swak gesondheid in 1991 sy emeritaat aanvaar.
Hierna verhuis die gesin na Vrede in die Noordoos-Vrystaat waar hulle gaan woon het tot en met sy dood.
Nadat sy gesondheid verbeter het na ʼn hartomleidingsoperasie, doen hy afloswerk op Hartskroon, Hartswater en Jan Kempdorp. Hy preek ook in gemeentes rondom Vrede en doen uitstekende werk in die tehuis vir bejaardes op Vrede.
Ds Ampie Britz sterf onverwags op 22 September 2015 aan ‘n breinaneurisme, wat groot hartseer in die lewe van sy dierbares bring. Hy word oorleef deur sy vrou, ‘n seun, Wynand en ‘n dogter, Susna Venter. ‘n Begrafnisdiens is vanuit die NG gemeente Vrede-Wes deur ds. Dawie Botes waargeneem.
Susna skryf: “Ds Ampie Britz was baie liefdevol en geseën met ‘n aangename geaardheid. Hy kon goed met gemeentelede kommunikeer met ‘n uitstekende insig in die Woord. Hy is dikwels gekies om as vredemaker op te tree, ook in gemeenteverband. Daarom onthou ons hom graag as ‘n ware vredemaker in die Here se diens.” —Dr. Gerdrie van der Merwe VDM