Alheit, Wilhelm Adolph *1922

Ds WA Alheit

gebore

17 Mrt. 1922

OORLEDE

30 Jul. 2009

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1947

ORDEN

1948

standplase

1949 Prins Albert

1951 Carnarvon

1963 Worcester-Vallei

1968 Selcount

1972 CARFO

 1980 MEMA

EMERITEER

1992

Wilhelm Adolph (Willie) Alheit is op 17 Maart 1922 in Rustenburg gebore, die nasaat van ‘n geslag Alheit predikante wat diep spore in die NG Kerk getrap het. Hy was die seun van ds. Berthold Alheit en Adelaide Jane van Noorden, leraarspaar van die NG Gemeente Rustenburg. Willie was in 1937 en 1937 ‘n leerling aan die Hoërskool Vosburg, voordat hy in 1939 na Paul Roos op Stellenbosch is, waar hy in 1940 gematrikuleer het. Willie wou predikant word en het eers die BA-graad op Stellenbosch behaal, voordat hy van 1944 tot 1947 aan die Teologiese Seminarium gestudeer het.

Hy het ‘n belangstelling in fotografie en filmwerk gehad, en het met die halfeeufees van die CSV in 1946 ‘n reeks van ses dokumentêre films oor die werk van die vereniging voltooi. Hy het aktief deelgeneem aan die CSV, die Berg-en-Toerklub en was die hart van die Stellenbosse Fotografiese Klub. Na sy legitimasie aan die einde van 1947 het hy ‘n jaar lank vir CARFO (die Christelike Afrikaanse Rolprent en Fotografiese Organisasie) gewerk.

In die tyd het hy drie beroepe ontvang, en die een na die NG Gemeente Prins Albert aanvaar, waar hy op 6 Augustus 1949 as ongetroude proponent in die gemeente as medeleraar bevestig is. Sy vader, ds. B Alheit, het die rede gelewer. Ds. Johan Botes skryf oor sy dienstyd: “Hy was ‘n baie presiese predikant, sy beplanning en administrasie was uitstekend. Hy het baie aandag aan Gamkaskloof (Die Hel) se mense gegee, en deur sy toedoen het ‘n skat van fotografiese materiaal oor Gamkaskloof bewaar gebly.”

Ds. Willie Alheit is op 1 Oktober 1949 met Magrietha Johanna van Eden van Touwsrivier getroud. Hy het Rita beskryf as ‘n uiters bekwame en mensgerigte lewensmaat wat die pad van die Here saam met hom gestap het. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Berthold, Johan, Wilhelm en Anneke.

Op 1 September 1951 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Carnarvon aanvaar, die plek waar sy voorvader, eerw. CW Alheit van die Rhynse Sendinggenootskap, in 1847 ‘n sendingstasie gestig het. Een van sy grootste nalatenskappe op Carnarvon was die bou van ‘n nuwe kerkgebou, nadat die historiese klipkerk gesloop is. Hy het ook twee kerkgeskiedkundige films oor die sendingwerk in Njassaland (Malawi) voltooi. In sy dienstyd op Carnarvon het hy ernstig siek geword, maar merkwaardig herstel na gebedsgenesing.

Op 19 Januarie 1963 het hy leraar van die NG Gemeente Worcester-Vallei geword, waar hy benewens gemeentewerk ook films oor die Instituut vir Blindes op Worcester geskiet het. Sy pad het na die destydse Witwatersrand geloop, waar hy op 20 Januarie 1968 in die NG Gemeente Selcourt op Springs bevestig is.

Op 1 Januarie 1972 het hy die aktiewe bediening verlaat en direkteur van Carfo in Pretoria geword, waar hy voltyds dokumentêre en storie films, ook op video, gemaak het. Met die koms van televisie het hy die mark suksesvol betree, ook toe Carfo en MEMA saamgesmelt en ds. Willie sy werk as draaiboekskrywer, kameraman, klank kenner, tegnikus, film outoriteit, regisseur en redakteur voortgesit het. In die tyd het hy ook verder gestudeer en ‘n honneursgraad in film kommunikasie verwerf. Op 27 April 1987 het hy op Hermanus afgetree, maar steeds werk vir MEMA gelewer. Later was hy ook gebiedsorganiseerder van die CAD in die Wes-Kaap, tot met sy tweede aftrede in 1992.

Intussen het hy oral gepreek en afloswerk op Biesiesvlei in die Wes Transvaal gedoen, ook in Parow en Stanford. Op die ouderdom van 80 jaar het hy plegtig sy toga aan Prins Albert teruggegee met die boodskap: “Nou tree ek finaal af” om kort daarna weer te begin help in sy tuisgemeente op Hermanus. Tydens ‘n besoek van ds. Willie en Rita Alheit aan Pretoria, het hy skielik op 30 Julie 2009 in die ouderdom van 87 jaar gesterf. Daar is twee huldiging dienste vir hom gehou, die eerste in die afwesigheid van sy drie seuns wat toe oorsee was, en ‘n tweede diens drie weke later toe die familie op ‘n besondere wyse kon afskeid neem.

Ds. Charel Nel, leraar van Hermanus, skryf: “Ds. Willie Alheit is een van die merkwaardigste mense wat ooit my pad gekruis het. Hy was ten spyte van sy 87 jaar steeds geseën met ‘n helder, skerp verstand en ‘n onblusbare entoesiasme vir die lewe. Sy deeglik voorbereide boodskappe en helder, sterk stem het tot die einde in diens van God gestaan.” – (Jaarboek 2010/382).