Met sy groot sendingverpligtinge in Suid- en Sentraal-Afrika bly dit moeilik vir die A.S.K. om die nodige fondse vir uitbreiding in Wes-Afrika (Tiviand) te vind. Maar dan kom daar ook meermale vermoënde lidmate van die Kerk na vore om ‘n helpende hand te bied. Van een van hulle maak die Sinode van 1924 melding: “De broeder P. K. Hoffman, van Caledon, die dit werk zeer op het hart draagt” en deur wie se milde bydraes die stasies Sevav, Mkar en Adikpo gestig kan word.
Adikpo lê 80 km suid van Mkar. “Hier het ons die besondere verskynsel dat, alhoewel daar in later jare ‘n bloeiende gemeente op Adikpo opgebou is, die stasie wat daar aangelê is, kort na sy stigting doodgeloop het en daar ook nooit weer Blankes geplaas is nie.” Mnr. Pieter Weyers gaan in Februarie 1923 na Adikpo om met bouwerk te help. Omdat die hoofman, Jato Aka, die Sending so mooi met die bouwerk help, besluit mnr. Weyers om vir hom ‘n seekoei as geskenk te gaan skiet. Eerw. Laurie Roux vergesel hom vir hierdie doel na die Katsina Alarivier. Op 14 Mei 1923 is hulle in ‘n kano op die rivier op soek na seekoeie. “n Seekoei het skielik onder die bootjie verrys en die kant waar eerw. Roux gesit het, uit die water gelig. Hy het uitgeval, maar is deur ‘n Tiv wat in die bootjie was, weer teruggehelp. Met die inklim skep die bootjie egter so water dat dit begin sink. Al uitweg was dat hulle land toe moes swem. Die twee broeders was swaar belaai met hul hele jagtoerusting, steweis en kamaste. Toe een van die Tiv, wat toe ook moes uitswem, naby
die wal kom, kyk hy om en sien dat die twee sendelinge nog aankom. Toe hy egter op die wal kom en omdraai, was daar niks meer te sien nie. Sonder om na huip te roep, het hulle onder die water verdwyn. … Hul stoflike oorskot is later op Sevav ter aarde bestel.”Vir die Sending is dit ‘n groot ramp in ‘n tyd van uitbreiding en met ‘n kroniese tekort aan personeel. Na hierdie ramp werk ds. Japie le Roux en na hom eerw. en mev. J. F. Orffer vir
‘n kort tydjie op Adikpo. In 1927 word dit permanent as stasie gesluit, “aangesien
intussen met twee ander stasies, Kunav en Turan, begin is” Die werk gaan egter met behulp van Tiv voort en in 1952 word ‘n selfstandige gemeente by Adikpo gestig (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 247).