Jooste, Pieter Cornelis

Ds. Jooste Pieter

gebore

17 Mrt. 1921

OORLEDE

07 Aug. 2005

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1961

ORDEN

1962

standplase

1962 Oranjevallei

1965 Ysterplaat

1967 Riebeeckpark

1973 Newcastle-Suid

1982 Newcastle Die Parke

EMERITEER

1988

Ds Pieter Jooste (BA) (17/03/1921 – 07/08/2005)

Pieter Cornelis Jooste is op 17 Maart 1921 gebore. Na sy skoolopleiding en matrikulasie in 1938 aan Grey Kollege in Bloemfontein, studeer hy aan die UOVS en behaal die B-Com-graad en kwalifiseer hy as rekenmeester. Pieter behaal as jongman soveel sukses dat hy op 28-jarige ouderdom aangestel word as hoofrekenmeester in sy werk. Hy deurkruis die destydse Suidwes-Afrika en is ook rekenmeester by die ko-operasie in Outjo, iemand met ‘n kop vir syfers. Hy is ook bestuurder van Sonop in Port-Elizabeth en Bloemfontein, ‘n pos waar hy met waardigheid sy Christenskap uitleef. Hy trou op 7 Januarie 1949 met Catharina Johanna Magdalena Jooste in Bloemfontein en uit die huwelik is vier kinders gebore. Etta Coetzee is ‘n bibliotekaresse; Marlien Barnard en Corlia Nel is albei onderwysers en Petria Smit is ‘n argitek in Bloemfontein. In 1953 is die roeping om predikant te word is so sterk dat Pieter met ‘n vrou en twee kinders, besluit om gehoorsaam te wees en predikant te word. Na die verkryging van die BA (Admissie) -graad studeer hy sedert 1958 aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy aan die einde van 1961 as proponent gelegitimeer word. Hy word op 10 Februarie 1962 in die NG Gemeente Oranjevallei aan die Oranjerivier by Upington met handoplegging ontvang en bevestig. Na ‘n kort dienstyd verhuis die gesin na die NG Gemeente Ysterplaat naby Tafelbaai, waar hy op 23 Januarie 1965 ontvang en bevestig word. Na twee jaar se arbeid in die Kaap kom ‘n roepstem na Transvaal, waar hy op 26 Augustus 1967 in die NG Gemeente Riebeeckpark in Kemptonpark bevestig word, ‘n stadsgemeente waar hy ses jaar lank met oorgawe werksaam is.

Hierna loop sy pad na Natal, waar hy op 18 Augustus 1973 in die NG Gemeente Newcastle-Suid ontvang en bevestig word. Sedert 1978 is hy betrokke by Nywerheidsbediening en Bybelgenootskap in Natal. Met sy bevestiging op 19 Oktober 1982 as leraar van die gemeente Die Parke in Newcastle, behartig hy die Nywerheidsbediening in Natal. Met sy werk as PSD was hy ook vanaf 1978 tot 1982 betrokke by die Bybelgenootskap van SA en aanvaar hy in 1988 sy emeritaat. Hierna woon hulle in Port Elizabeth waar hy saakgelastigde van die Moedergemeente word. In 1994 word hy hulpleraar van die NG Gemeente Port Shepstone en vanaf 1995 tot 1998 in die gemeentes Bloukrans en Colenso. Hierna werk ds Pieter Jooste in die NG Gemeente Paul Roux in die Vrystaat, tot hulle in 2000 verhuis na ‘n aftree-oord op Newcastle waar hy pastoraal betrokke is by die afdeling vir verswakte bejaardes. Hierna word hy ernstig siek en wond met liefde opgepas deur sy dierbares, die laaste tyd in Windhoek, waar hy op 7 Augustus 2005 in die ouderdom van 84 jaar sterf. Hy word begrawe uit die NG Ge-meente Windhoek-Oos en ds Hendrik Koekemoer lewer ‘n troosdiens.

In ‘n huldeblyk beskryf ds Matthys van der Merwe van Windhoek hom soos volg: “Ek het oom Piet leer ken as ‘n mens met deernis en ‘n passie vir mense in nood. Hy kon met begrip en empatie omgaan met mense, maar kon ook ferm optree. Hy het groot ems gemaak met die prediking, dit was deurleef en passievol! Hy het altyd ‘n sagte, ‘n amper skalkse glimlag gehad, ja ‘n gesonde sin vir humor. By hom het ek geleer wat dit beteken om gereformeerd te wees. Hy het ‘n mens onder geen wanindruk gelaat oor jou eie posisie van verlorenheid voor God nie, maar hy het almal diep onder die indruk gebring oor die genade van God in ons Here Jesus Christus.”