Horn, Georg Frederick

 

gebore

27 Jul. 1927

OORLEDE

16 Jan. 2009

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1954

ORDEN

1955

standplase

1955 Rustenburg

1957 Groot Marico

1961 Randfontein

1964 Randfontein-Noord

EMERITEER

Ds Frik Horn (BA) (27/07/1927 – 16/01/2009)

George Frederick Horn is op 27 Julie 1927 op die plaas Witnek naby Val in die distrik Standerton gebore. Frik se pa was Hendrik Matthys JacobusHorn, wat in 1869 as burger van die Zuid-Afrikaanse Republiek gebore is.

Frik het sy eerste skoolopleiding in plaasskole op Hartbeeskuil en later op Val by Standerton ontvang, waarheen hy met ‘n perd en “treppie” gery het. In 1947 het hy aan die Hoërskool Hugenoot op Springs gematrikuleer. Hy het hom geroepe gevoel om teologie te studeer en die graad BA (Admissie) aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Hierna het Frik na Stellenbosch vertrek, waar hy aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad gestudeer en aan die einde van 1954 as proponent gelegitimeer is. Hy is op 3 Julie 1954 met Bertha du Plessis, ‘n onderwyseres, getroud, en sy het getrou tot sy dood saam met hom in die bediening gestaan.

In 1955 het Frik afloswerk in die NG Moedergemeente Rustenburg gedoen nadat hy met opdrag sending na die gemeente beroep is. Daar was hy ook ‘n tyd lank konsulent van die sendingstasie Saulspoort. In 1957 het hy teruggekeer na die Moederkerk as leraar van die NG Gemeente Groot Marico, ‘n streek waarvoor hy baie lief geword het. Kort daarna is hy na die NG Gemeente Randfontein aan die Wesrand beroep. Die gebied het vinnig uitgebrei en in 1964 is die NG Gemeente Randfontein-Noord gestig, met ds Frik Hom as konsulent. Hy is beroep na die nuwe gemeente en het die volgende 25 jaar, tot met sy aftrede op 31 Oktober 1988, daar gedien. Frik was intens betrokke by die lief en leed van gemeentelede, was betrokke by die bou van ‘n nuwe kerkgebou, voorsitter van verskeie beheerrade van skole en het leiding geneem in die Ringe van Randfontein en Losberg. Ds Frik was ‘n man wat ‘n pad met die Here geloop het. Sy geloof en deurwinterde verhouding met die Here was vier almal sigbaar. Hy was ‘n pastor-predikant in hart en siel en het selfs op Vrydagaande huisbesoek gedoen.

Ds Frik Horn is jare lank deur baie mense beskou as die “vader van Randfontein”. ‘n Oudkollega, Marais Strydom, skryf dat dit nie net is omdat hy byna dertig jaar lank op Randfontein gewoon en gewerk nie of omdat hy spreekwoordelik ‘n vaderfiguur vir sy mense is nie. “Hierdie eretitel het hy ontvang vanweë sy rustige geaardheid, wat hom in staat stel om ‘n saak van albei kante af te beskou en ‘n gebalanseerde opinie te gee.”

Na sy aftrede het ds Frik en Bertha op Randfontein bly woon en hy het nog daar gepreek, berading en siekebesoek gedoen en Bybelstudie aangebied. Hy het ook ‘n paar keer in die vakante NG Gemeente Chivu/Enkeldoorn in Zimbabwe uitgehelp. Sedert 1994 het hulle in die aftreeoord Golfpark in Naboomspruit gewoon, waar sy gesondheid die laaste twee jaar vinnig verswak en hy na ‘n ernstige beroerte op 16 Januarie 2009 oorlede is. ‘n Broerskind, ds Hennie Horn, het ‘n treffende begrafnisrede op 21 Januarie 2009 op Naboomspruit gelewer. Ds Frik word oorleef deur sy vrou Bertha en vier kinders: Matie Horn, eiendomsagent en oudleraar, ds Albert Horn van Potchefstroom, Ester van Rensburg en Retha Prozeske.