Holzapfel, Ernst Heinrich

 

gebore

27 Okt. 1916

OORLEDE

24 Feb. 2008

UNIVERSITEIT

BA (Hug Kol)

gelegitimeer

1937

ORDEN

1939

standplase

1939 Bonnievale

1941 Tulbagh

1943 Ceres

1947 Wellington

1947 Ceres

1958 Dosent Teologiese Skool vir die Opleiding van Kleurlingleraars op Wellington

1963 Prof. Teol. Skool van die N.G. Sendingkerk (Wellington)

EMERITEER

Prof Ernst Holzapfel (BA) (27/10/1916 – 24/02/2008)

Ernst Heinrich Holzapfel is op 27 Oktober 1916 gebore in die ou sendingpastorie op Tulbagh. Sy vader was eerw Wilhelm Harry Holzapfel (1876-1940); wat hom in sewe tale onderskei en in die teologie gestudeer het. Sy pa het op 22 Desember 1903 alleen na Suid-Afrika gekom in diens van die Rynse Sendinggenootskap met hulle hootkantoor in Wupperthal-Barmen, Duitsland.

Voor eerw Wilhelm se vertrek in 1903 uit Duitsland het hy sy toekomstige lewensmaat, Anna Maria Martin (1877-1961) van Grosseichholzheim, Baden, ontmoet. Sy het in 1905 met ‘n boot in Tafelbaai aangekom, waar sy kort daama met eerw Wilhelm Harry Holzapfel getroud is.

Eerw Wilhelm en Anna Holzapfel se jongste seun, Ernst Heinrich Holzapfel, is in 1916 gebore. Hy was later leraar, professor en medestigter van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Op 3 November 1933 het hy die roeping gekry om sendeling te word. Daarna het hy die BA-graad aan die Hugenote Universiteitskollege op Wellington verwerf en einde 1937 sy teologiese opleiding aan die Sendinginstituut voltooi. Hy het eers uitgehelp in die NG Gemeente Bonnievale, maar is later beroep en op 23 September 1939 met handoplegging in dië gemeente ontvang en bevestig. Na die tragiese selfmoord van sy vader, eerw WH Holzapfel, is hy in sy plek beroep en is hy in Februarie 1941 as sendeling op Tulbagh bevestig. In sy bediening daar is die Rynse gemeente by die destydse NG Sendingkerk ingelyf.

Ds Ernst is op 13 Mei 1943 as sendeling in die NG Sendinggemeente Ceres ontvang en bevestig. In dië tyd het ‘n groot ramp die gesin getref toe ds Ernst se broer, ds Hans Holzapfel, net soos hulle vader selfmoord gepleeg het. Hy was in diep depressie toe hy op 29 Mei 1954 as leraar van die NG Gemeente Ysterplaat oorlede is.

Op 20 April 1957 is ‘n pragtige kerkgebou op Ceres ingewy. Kort daama het Ernst se pad na Wellington geloop, waar hy dosent van die Teologiese Skool van die NG Sendingkerk geword het. In 1965 is die kampus verskuif na die Universiteit van Wes-Kaapland, waar dit in 1973 ‘n volwaardige Fakulteit Teologie geword het en hy die eerste dekaan was. Onder sy leiding is ‘n nuwe koshuis vir 40 studente ingewy.

Prof Ernst het tot diep in sy tagtigs nog op uitnodiging gepreek. Oor sy werk in die kerk het hy geskryf: “In 1979 is ek ook as skakelbeampte van die Teologiese Skool sowel as die UWK aangestel met die opdrag om inligting oor die Teologiese Skool uit te dra en geld vir beurse- en leningsfondse in te samel. Die beursies het oopgegaan, binne drie jaar is nagenoeg R200 000 ingesamel. Toe ek einde 1981 met pensioen afgetree het, is ek deur die Kuratorium versoek om met skakelwerk voort te gaan. Danksy goeie gesondheid, het ek dit jare lank gedoen. Dit was ‘n voorreg.”

Ernst Holzapfel is op 14 Desember 1940 met Elise Erasmus van Excelsior in die NG Gemeente Bloemfontein-Noord (Klipkerk) getroud. Die bevestiging is deur ds JJ Wasserfall van Excelsior waargeneem, prof Dawid Roode het die orrel gespeel en ds Eben Greyling het die heildronk op Ernst se moeder ingestel, ‘n moeilike taak aangesien haar man ‘n maand gelede oorlede is. Prof Ernst en Maatjie (Elise) Holzapfel was baie gelukkig getroud. HuIle het op 14 Desember 2000 hulle 60ste huweliksherdenking gevier. Na hulle aftrede het hulle in ‘n aftree-oord in die Strand gewoon. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Wilhelm, Johann, Annelise en Louise.

Tydens die naweek van 21 Desember 2003 is ‘n Holzapfel-eeufees op Tulbagh gehou, ter herinnering aan eerw Wilhelm en Anna Holzapfel se aankoms in 1903 in Suid-Afrika. Dit was ‘n wonderlike fees waar ‘n hele geslag byeengekom het om die Here te dank. Die besondere geslag se geskiedenis is opgeteken in Die Holzapfels in Suid-Afrika. Honderd jaar van genade 1903-2003. Gedenkboek ter nagedagtenis van Wilhelm Harry en Anna Maria Holzapfel en hul kinders.

Op 24 Februarie 2008 het prof Emst Holzapfel sy eie lewe geneem. Dit het die gesinslede, familie, vriende en die kerklike gemeenskap diep in die hart getref. Prof Holzapfel is op 29 Februarie 2008 vanuit die NG Moederkerk op Stellenbosch begrawe. “Ernst Holzapfel word onthou vir sy ware menswees, ware omgee vir en meelewing met ander. Hy het dit geleef danksy die genade van Christus. En ander dit laat beleef.”