Hattingh, Johannes Petrus

 

gebore

 2 Desember 1960

OORLEDE

9 Oktober 2013

UNIVERSITEIT

BA, BD

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Johannes Petrus Hattingh is op 2 Desember 1960 op Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek gebore. Piet se vader is Johannes Joost Hattingh, ‘n vervoerkontrakteur en sakeman wat vulstasies besit en motors verkoop het. Sy moeder is Mara Prinsloo. Toe Piet twee jaar oud was, trek die gesin Pretoria toe. Piet begin sy skoolloopbaan in 1967 aan die Laerskool Riviera in Pretoria en is later ‘n leerling aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria. In 1974 word hy ‘n leerling aan die Hoër Tegniese Skool John Vorster, waar hy in 1978 matrikuleer. Op skool toon hy al leierseienskappe, hy is lid van die Voortrekkers en hy leef sy liefde vir stap, kamp en fotografie uit.

Piet studeer in meganiese ingenieurswese aan die Pretoriase Technikon. Hierna is hy vier jaar lank werksaam by Kentron as ‘n tekenaar in die wapen-industrie. In hierdie tyd kom hy tot bekering en hy raak met oorgawe betrokke by die NG Gemeente Riviera. Hy was voorsitter van die BKJA en het gereeld kerkkampe bygewoon, waar hy die klank en die ander tegniese versorging behartig het. In die tyd beleef hy dat die Here hom roep om teologie te studeer. Hy was op daardie stadium besig om ‘n komponent vir ‘n missiel te teken wat so ontwerp is dat dit sou ontplof wanneer dit naby die vlieënier kom. Piet het geworstel met die vraag of dit werklik was waaraan hy sy lewe wou wy.

In hierdie tyd het Piet vir Naomi Smith, ‘n sielsgenoot en sy toekomstige huweliksmaat, ontmoet. Sy is ‘n verpleegster wat op daardie tydstip vir die BCur-graad gestudeer het. Naomi het in haar eerste studiejaar die Here leer ken en sy was intens bewus van sy leiding in haar lewe. Piet en Naomi het sy predikantsroeping as ‘n roeping vir hulle albei beskou. Hulle trou in 1986, en in sy studietyd werk Naomi as verpleegkundige om die pot aan die kook te hou.

Piet se roeping was baie spesifiek vir die Woordverkondiging in die NG Kerk, ten spyte van die sterk charismatiese invloed waaraan hy in sy jong dae blootgestel is. Hy bedank by Kentron en begin in 1985 op 24-jarige leeftyd sy studies aan die Universiteit Pretoria, waar hy ‘n BA-graad verwerf. Hierna kry hy toegang tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies, waar hy ‘n BD-graad ontvang en aan die einde van 1990 as proponent gelegitimeer word. In hierdie tyd woon hulle in die NG Gemeente Riviera se kostershuisie, want hy werk as koster in die gemeente. Boonop doen hy jeugwerk onder die studente in die Technikon se koshuise.

In die lente van 1990 word prop Piet Hattingh na die NG Gemeente Middelburg beroep, die bekende “Witkerk”, waar hy op 21 Maart 1992 met handoplegging bevestig word. Dit is sy eerste en enigste gemeente; hier sou hy dien tot met sy skielike afsterwe. Piet was uit die staanspoor daarvan oortuig dat ‘n predikant slegs inspraak in ander mense se lewe kan hê indien hy naby aan hulle leef. En dit het hy gedoen — al sou dit beteken dat hy moes help om die kerksaal se dak te herstel, om loodgieterswerk te doen of om die eregas by ‘n funksie te wees.

Piet se fokus was op leer, groei en ontwikkeling ingestel. Naomi skryf: “Hy woon oor die jare heen verskillende kursusse by, en sy ingesteldheid was ten alle tye Skrifgefundeerd en Godgerig. Hy het nie waarde geheg aan versuikerde waarhede of verdraaiings nie. Sy laaste preek het gehandel oor

die tema: `Maak seker waar jou skat is, want daar sal jou hart wees’ . Piet het hard gewerk en daar is geen twyfel dat hy die Here met oorgawe gedien het nie. Hy was ‘n mens-mens en hy het ure aan huisbesoek, siekebesoek en berading bestee. Sy passie was om mense op die Bybelse grondslag te leer leef. Piet was ook besonder lief vir tieners en hy het deur middel van berading en godsdiensperiodes by skole betrokke geraak. Hy was geroep om tussen mense te leef en om God se liefde en die blye evangelie uit te dra. Dit het hy in sy gemeente en in die breër Middelburgse gemeenskap gedoen. Die Here het geweet dat Hy vir Piet beperkte tyd op aarde gee, en daarom moes hy die belangrikste doen, naamlik om uit te gaan en mense oor God te leer.”

Piet sterf skielik op 8 Oktober 2013 in Middelburg, toe sy motorfiets teen ‘n bakkie met ‘n sleepwa bots. Sy begrafnis vind die Sondagoggend sy dood in ‘n stampvol kerkgebou op Middelburg plaas. Na sy dood is Naomi omring deur hulle kinders: Jannes (24) ‘n argitek in Pretoria; Ruben (21), ‘n mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat; en Talita (18), ‘n student aan die Universiteit Pretoria.

Ds. Jaco van Rooyen skryf: “Ek en Piet was 22 jaar lank kollegas, vandat hy hier as proponent begin werk het. Daar het deur die jare heen ‘n baie hegte verhouding van Christelike broerskap tussen ons ontwikkel; ons gesinne het mekaar deur dik en dun bygestaan. Daar is ontelbare mooi en goeieherinneringe: ons geestelike werk in die gemeente, die basaars en die vleiswerk, herstelwerk aan die kerkgebou, kampe en Bybelstudies, en ook jag en vuurslaan. Op ‘n dag het ons in my studeerkamer my jaggeweer nagegaan toe daar per ongeluk ‘n oorverdowende skoot geklap het. Die koeël is dwarsdeur ‘n groot glasvenster

en het in ‘n buitemuur vasgeslaan. Dit was die enigste plofbare situasie wat ons ooit saam beleefhet.”—Dr. Gerdrie van der Merwe VDM