Groenewald, Werner

 

gebore

31 Julie 1968

OORLEDE

29 November 2014

UNIVERSITEIT

(BA, BD, MDiv)

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Werner Groenewald is op 31 Julie 1968 te Rosettenville in Johannesburg gebore. Sy grootouers aan vaderskant is Bernard en Coena Groenewald en aan moederskant Hermanus en Jacoba Liebenberg. Werner se ouers is Barend Christoffel (Barry) Groenewald en Aletta Johanna Martha (Lettie) Liebenberg. Hy is hoofrekenmeester by Hoechst. in Johannesburg en sy sekretaresse van die destydse Evkom. Hy sterf skielik in 1975 weens beroerte toe Werner slegs sewe jaar oud is.

Werner begin sy skoolopleiding in 1975 aan die Laerskool Dr Havenga in Witpoortjie en matrikuleer in 1986 aan die Hoërskool Die Adelaar. Hy was ‘n ywerige leerling en het aan die Voortrekkers behoort en uitgeblink in toneelspel. Hy was ‘n goed gebalanseerde persoon met wye belangstelling in verskeie rigtings. In Werner se matriekjaar het hy die roeping ontvang om predikant in die NG Kerk te word.

In 1987 begin hy met sy studie aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1990 sy BA verwerf en toegang verkry tot die Fakulteit Teologie (Afd B). In 1993 wen hy die “Ds AM Meiring-prys” vir die beste kandidaat in Sendingwetenskap. Na sy legitimasie op 18 November 1993 doen hy diensplig as gevangeniskapelaan in Pretoria.

Terwyl Werner studeer, trou hy op 30 Junie 1990 met Hannelie du Plessis in die Gereformeerde Kerk Brooklyn, Pretoria. Hy werk vanaf 1988 tot 1994 by die Departement Binnelandse Sake as sekuriteitsbeampte. In 1995 tot 2000 is hy kapelaan in die Vloot en is bevoorreg om Antarktika te besoek. Prop Werner Groenewald aanvaar in 1995 ‘n proponentspos in die NG gemeente Pierre van Ryneveld in Pretoria. Op 23 Maart 1997 word hy tentmakerleraar in die NG gemeente Moreletapark in Pretoria, en vanaf 1 Februarie 2000 voltydse leraar. Hier in die hart van Moreletapark, ‘n gemeente wat as uitreik op mense in die Midde-Ooste gefokus het, vind ‘n wonderwerk plaas toe Werner en sy vrou, dr Hannelie Groenewald (‘n mediese dokter), geroepe voel om Afghanistan toe te gaan om die Here Jesus met hulle lewe op voetsoolvlak te dien.

Op 31 Augustus 2003 vertrek die egpaar met hulle seun Jean-Pierre (6) en dogter Rode (4) as gestuurdes uit die NG gemeente Moreletapark na Kabul in Afghanistan. Werner het baie sterk gefunksioneer in kerkplanting met ‘n visie oor 2 Timoteus 2 vers 2. Toe Hannelie Groenewald en haar gesin Afghanistan toe is, het hulle geweet dit is ‘n oorlogsone. Hulle moes die koste vooraf bereken en die pad met geloofsmoed en oorgawe stap.

Ds Dirkie van der Spuy getuig: “Dit was ‘n oorloggeteisterde land vir baie jare. Almal van ons het verbaas gevoel toe hy gesê het hy voel geroep om na moeilike plekke te gaan. Werner het net gevoel die nood van mense was daar so groot. Hannelie het gesukkel met die besluit om met haar jong gesin te gaan woon in ‘n land geteister met konflik en geweld. Ek weet dit was nie vir haar maklik nie, maar uiteindelik is sy daarheen met haar hele hart. Werner was ‘n man wat werklik lief vir die Here was en bereid om sy geld te sit waar sy mond is.” Ds Werner het op sy sosiale profiel geskryf: “Ek is ‘n agent vir verandering. Waar ek kan, probeer ek om positiewe verandering te beinvloed. Ek vind groot vrede in die wete dat ek bygedra het tot die bevordering van iemand anders se lewe.”

Op Saterdag, 29 November 2014, is dr Hannelie ontbied vir ‘n vergadering in die stad omdat hulle ‘n aanval van die Taliban verwag het en sy as mediese dokter bystand moes gee. Sy het vertrek en haar man en twee kinders by die huis gelos, min wetend dat die aanval op hulle huis beplan word.

Die hekwag het eerste gesien hoe twee Taliban-aanvallers met bomme om hulle lyf oor die huis se muur spring. Hy het hulle gekonfronteer en is geskiet. Die aanvallers is toe die huis binne en het ds. Wemer Groenewald en sy twee kinders Jean-Pierre Groenewald (17) en dogter Rode Groenewald (15) trompop doodgeskiet. Die aanvallers het op twee stoele gaan sit en gewag vir die Afgaanse polisie om op te daag, want hulle wou die bomme laat ontplof. Die polisie het egter ‘n vuurpyl by die huis ingeskiet, wat dit in vlamme laat uitbars het.

Die liggame is gerepatrieer vanuit Afghanistan en op 12 Desember 2014 is ‘n begrafnisdiens in Moreletapark gehou. Ds Hendrik Saayman het vertel dat die Groenewalds hulle godsdiens uitgeleef het deur mense te dien. Dr Hannelie Groenewald getuig tydens die begrafnis: “Ons gesin was gelukkig in Afghanistan en ek het geen berou dat my kinders daar grootgeword het nie. As ek weer moes kies, sou ek dieselfde keuse gemaak het. Dit was vir ons ‘n voorreg om Jesus se hande en voete vir die Afghaanse bevolking te wees. Ek wil die boodskap van liefde en vergifnis uitleef.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM