Grobler, Petrus Andries Hendrik

 

gebore

13 Mrt. 1921

OORLEDE

07 Sep. 2005

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Petrus Andries Hendrik Grobler is op 13 Maart 1921 op Ventersburg in die Vrystaat gebore. Sy ouers was Pieter Andries Hendrik Grobler en sy moeder Gezina Elizabeth Cornelie Kotze wat die Here as boere in die distrik gedien het. Hy begin sy skoolopleiding in 1929 aan die Laerskool Ventersburg, is van 1936 tot 1939 aan die Hoërskool Ventersburg en matrikuleer in 1940 aan die Hoerskool op Bultfontein.

Hy voel geroepe om hom te bekwaam vir die evangeliebediening en studeer van 1941 tot 1943 aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO waar hy die BA graad behaal. Hy blink uit in geskiedenis en stel tot die einde van sy lewe daarin belang. Hy studeer in 1944 aan die Universiteit van Pretoria, maar vertrek in 1945 na die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch, waar hy einde 1948 as proponent gelegitimeer word. Aan die begin van 1949 help hy as rondreisende sekretaris van die Strewersvereniging tot hy op 10 September 1949 met handoplegging ontvang en bevestig word as leraar van die NG Gemeente Vergelegen in die wye beeshemel rondom Vryburg. Hier leef hy naby die grond en ervaar die unieke gasvryheid van hierdie omgewing.

In die lente van 1952 word hy 1 eraar van die NG Gemeente Kensington in Port-Elizabeth, waar hy met oorgawe werk. In 1957 kom ‘n roepstem terug na die Noordkaap as herder en leraar van die NG Gemeente Piet Plessis, die begin van ‘n besondere dienstyd in die lewe van die leraarspaar. In 1964 word hy leraar van die NG Gemeente Noorderharts, waar hy tussen die vrugbare waterryke grond en mense die evangelie van JesusChristusuitleef. In 1969 ondervind ds Piet Grobler gesondheidsprobleme en moet die bediening tydelik verlaat. Maar sy gesondheid verbeter in so ‘n mate dat hy aan die begin van 1972 herder en leraar word van die NG Gemeente Witrivier, waar daar in 1978 ‘n nuwe kerkgebou en saal gebou word. Aan die einde van 1978 word hy hospitaalleraar op Nelspruit en op 15 Maart 1981 aanvaar hy emeritaat en bly woon op Witrivier.

Hy is op 20 Augustus 1949 getroud met Bertha Johanna van Schalkwyk. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Bema, Nelia, Pieter en Johannes. Na die dood van sy eerste vrou trou ds PAH Grobler met Susan Evans. (Ons wou graag ‘n meer volledige skets plaas, maar na verskeie pogings het die familie in gebreke gebly om die nodige biografiese inligting te stuur – dr Gerdrie van der Merwe.)