Gertenbach, Markus

 

gebore

12 Sep. 1945

OORLEDE

26 Nov. 2009

UNIVERSITEIT

BA, MTh, DTh

gelegitimeer

ORDEN

standplase

EMERITEER

Markus Petrus Gertenbach is op 12 September 1945 op die plaas Northdale in die distrik Fauresmith gebore, en tot met sy afsterwe het hy ‘n trotse Vrystater gebly. Sy pa was Markus Petrus Gertenbach, ‘n boer, en sy ma Helena Elizabeth Boshoff, ‘n opgeleide onderwyseres. Markus het in 1962 aan die Hoërskool Werda op Fauresmith in die eerste klas gematrikuleer. Hy was in die leerlingraad, het uitgeblink as redenaar en was in 1962 hoofseun en die Dux-leerling. Hy het van kleins af geroepe gevoel om ‘n predikant te word.

Markus het in 1963 as ‘n 17-jarige aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer. Hy was sewe jaar lank ‘n inwoner van Huis Dagbreek, waar lewenslange vriendskappe gesmee is. Nadat hy die graad BA (Admissie) behaal het, het hy aan die Fakulteit Teologie begin studeer. Hy was ‘n eerste tenoor in die Kweekskool koor van prof Gawie Cillie, en is aan die einde van 1969 as proponent gelegitimeer. Sy eerste beroep was na die driekoppige NG Gemeente Louwsburg in Noord-Natal, waar hy op 14 Februarie 1970 met handoplegging ontvang en bevestig is. Hy het die Woord op Louwsburg, Nongoma en Magudu bedien, waar ‘n nuwe kerkgebou in 1971 ingewy is en waar die gemeente diep dankbaar was vir ‘n wonderlike herlewing in 1974.

Hierna het ds Markusse pad na die NG Gemeente Luckhoff in die Suidwes Vrystaat geloop, waar hy op 24 Augustus1974 ontvang en bevestig is. Hy het die plattelandse bediening geniet en ook ‘n rol in kultuurverenigings gespeel. Daarna het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Brandfort aanvaar, waar hy op 24 Januarie 1981 ontvang en bevestig is. Hier het hy die gemeente en gemeenskap van Brandfort met oorgawe gedien, terwyl hy ook geleentheid vir verdere studie geskep en die MTh en DTh aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal het. Sy doktorale studie handel oor: “Die rol en aard van huisbesoek in ‘n gemeentebou program op die Vrystaatse platteland.” Sy promotor was prof Mias de Klerk.

Dr Markus was ‘n geliefde kerklike figuur in die Vry staat, iemand wat verknog was aan die Gereformeerde leer. Hy het in verskeie kommissies gedien en was onder meer baie jare lank voorsitter van die Kommissie vir Evangelisasie. Hy dien ook ‘n tyd lank in die moderamen van die Vrystaatse kerk, waar hy ‘n besondere rol op voetsool- en gemeentevlak gespeel het. Hy het gereeld briewe in die Volksblad en ander publikasies geskryf en godsdienstige programme op Radio Rosestad aangebied. Hy was baie j are lank betrokke by die Afrikaner Broederbond en was ses jaar lank ‘n aktiewe lid van die organisasie se uitvoerende bestuur.

Aan die einde van sy studie op Stellenbosch is Markusop 20 Desember 1969 met Susara Johanna le Grange, gebore Meintjies, getroud. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Alna, Esme, Steph en Cista. Daar is agt kleinkinders en dit was sy voorreg om voor sy dood sy eerste kleinkind in die huwelik te bevestig. Die Vrystaatse kerk se weeklikse nuusbrief skryf op 26 November 2010: “Dit is vir die NG Kerk in die Vry staat baie hartseer om bekend te maak dat ons een van ons mees geliefde en gerespekteerde leraars, dr MP (Markus) Gertenbach, verloor het. Hy is na ‘n kort siekbed oorlede.” Sy begrafnis was op 30 November 2010 op die kerkterrein van die NG Moedergemeente Brandfort, en die troos diens is waargeneem deur prof Piet Strauss van Bloemfontein.

Sy dogter, dr Esme le Grange, skryf: “Hy was ‘n dierbare mens, ‘n liefdevolle en versorgende eggenoot, iemand op wie ons ma onvoorwaardelik kon leun en vertrou. Hy was ‘n pa om op trots te wees, om voor raad te vra, maar bowenal ‘n pa wat sy kinders as onafhanklike volwassenes voorberei het vir die lewe. Hy was ‘n oupa duisend, vol grappies en streke. Hy het sy gemeentes met oorgawe bedien. Hy was by uitstek ‘n Godsman.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM.