Erasmus, Ockert Cornelius Opperman

 

GEBORE

25 Mrt. 1931

OORLEDE

09 Jan. 2007

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1959

ORDEN

1960

STANDPLASE

1960 Mafeking

1966 Lefika

EMERITEER

Dr Ockie Erasmus(BA, MA, BA (Hons); DPhil) (25 Mrt. 1931- 09 Jan. 2007)

Ockert CorneliusOpperman Erasmusis op 25 Maart 1931 op die plaas Tussenpan in die distrik Wolmaransstad gebore.

Ockie se vader was Eduard Christiaan Kriel Erasmusen sy moeder Maria Glaudina Opperman. Toe Ockie agt jaar oud was, koop sy ouers die plaas Witpan in die distrik Schweizer-Reneke, naby die klein dorpie Migdol in Wes-Transvaal. Sedert 1938 tot 1945 is hy in die Laerskole Vleeschkraal, Wildehondspan en op Migdol. In 1946 word hy leerling aan die Laerskool Schweizer-Reneke, waar hy in 1949 matrikuleer. Na skool werk hy drie jaar by die magistraatskantoor op Schweizer-Reneke en Ladybrand, ook in die koëperasies op Randfontein en Lichtenburg. In die tyd beleef hy die dringende roeping om sendeling te word. In 1953 begin hy met sy opleiding as sendeling aan die Sending-Instituut op Wellington, waar hy op 25 November 1959 as sendeling gelegitimeer word, ‘n groot oomblik in sy lewe. Hy hou aan met studeer, tot in 1974 ontvang hy ses grade, onder meer ‘n doktorsgraad in Volkekunde. Dit het gehandel oor “Die Tswana se Godsbegrip en godsdienstige uitlewing”.

Op 16 Januarie 1960 word hy bevestig as sendeling vir die NG Kerk in Afrika (NGKA) vir Mafikeng, Piet Plessis, Vergelegen, Stella en die tuisland Bophuthatswana. Destyds was dit gebruiklik dat ‘n sendeling in sy tuisgemeente bevestig en afgesonder word vir die taak. Dit geskied in die die NG Gemeente Migdol, sy moeder hang sy toga om en sy vrou speel die orrel, die bevestigingsrede word gelewer deur ds JG Louw. Op 2 Junie 1967 word hy as leraar bevestig in die NG Kerk in Afrika-gemeente op Delareyville met die Kunanatuisland. Hy speel ‘n enorme rol in die Sinode van Phororo en daar is ‘n oplewing in sendingwerk in die hele gebied. Hierna loop sy pad op 1 Mei 1971 na die Mamelodi NG Kerk in Afrika, met opdrag Pretoria Middestad. Op 1 Mei 1975 betree hy ‘n nuwe arbeidsveld as sendeling te Mamelodi, die bearbeiding van die terdoodveroordeeldes. Na twintig jaar in die NGKA Mamelodi, en na 35 jaar in die bediening ontvang hy demissie op 2 April 1995.

Ockert trou op 30 November 1957 met Dorothea Phillippina Barnard van Parow. Tokkie is ‘n maatskaplike werker wat haar man en sy roeping oor jare heen met oorgawe ondersteun. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Dorothea Phillippina (Rothea); Maria Glaudina (Miem); Hester Magdalena (Hester); Orpha Comelia (Nelia) en Eduard Christiaan Kriel (Eduard); Na sy aftrede vestig die egpaar hulle op Kleinmond, waar ‘n nuwe hoofstuk in sy lewe begin. Hy is hierna tot met sy dood ‘n pastorale raadgewer by Bybelkor om in Tswana, Sotho en Pedi gevangenes se vrae te beantwoord. Hy skryf jaarliks meer as 900 briewe. ‘n Paar dae voor sy dood het hy steeds 12 briewe gereed gehad om te pos. Een was in Engels, nie sy voorkeurtaal nie, dit het gehandel oor ‘n lid van ‘n geldroofbende wat vergifnis vra en deur dr Ockie by die Here uitkom.

Dr Ockie Erasmussterf op 9 Januarie 2007 en die begrafnisdiens vind vanuit die NG Kerk Kleinmond plaas. Ds Schalk van Wyk neem 2 Tim 4:7 as teksvers vir sy troos- en dankdiens. Dr Hennie Moller, vriend en kollega sedert hulle studentedae 54 jaar gelede, skryf oor hierdie merkwaardige boom in God se tuin: “Ockert het sy sendingroeping na die swartmense in Suid-Afrika baie emstig opgeneem en bly sy hele bediening by NGKA-gemeentes, later is hy ook by die Verenigende Geref Kerk. Die Here het aan hom gawes gegee wat hy uitmuntend kon gebruik. Hy het akademiese gawes en ervaring oor jare opgedoen. Dit alles het hy aan ander by talle werkswinkels oor Suid-Afrika heen aangebied. Dit is merkwaardig dat Ockie deurgaans deur swartmense vertrou was. Hy was ses jaar in die sinode van Phororo en was lid van die moderatuur. Ons dank die Here vir die boodskap uit die lewe van hierdie merkwaardige en nederige dienskneg van die Koning.”