NG Gemeente Hendrina

NG Gemeente Hendrina

gestig

4 Oktober 1916

ring

Ring van Ermelo

Adres

Beukesstraat 38, Hendrina

Sluit in

Hendrina

Eerste predikant

Ds JWG Strasheim

 

Die NG Gemeente Hendrina is ‘n gemeente in die Oostelike Sinode.

Die NG Gemeente Hendrina is op 4 Oktober 1916 gestig, o.l.v. Ds. A.P. Burger van Middelburg, Ds. Paul Nel (snr) van Ermelo en Ds. J.H.M. Stofberg van Belfast. ‘n Blok erwe in die dorpie, wat skaars ‘n jaar vantevore gestig is, word tot die nuut-gestigde gemeente se beskikking gestel en daar is die vooruitsig van ongeveer 1350 lidmate, uit die gemeentes Middelburg, Carolina, Ermelo en Bethal.  Daar is geen kerkgebou nie, en dus word Die Tabernakel gebou. Die Tabernakel was ‘n struktuur van pale, met bokseile bo-oor getrek, en het op die suidelike vlak van Kerkplein gestaan.

DIe Tabernakel

 

Die eerste kerkgebou, of Noodkerk, soos dit ook genoem is, se hoeksteen word op 13 Junie 1917 deur Ds. Paul Nel (snr) van Ermelo gelê en op 1 Februarie 1918 ingewy. Die argitek was W. Kool en is in die vorm van ‘n kruis gebou, met spits vensters en mooi olielampe. In 1920 word die Tabernakel-struktuur op ‘n publieke veiling verkoop.

Die Noodkerk

Op 11 Oktober 1941 word die hoeksteen van die nuwe (huidige) kerkgebou gelê, die Noodkerk word nou ingespan as die kerksaal, en dien as kulturele sentrum vir die dorpie – begrafnisse, huweliksonthale, speletjies, ens. Na vele vergaderings en wik-en-weeg, word die pragtige ou gebou, wat nou begin verniel, in 1962 met ‘n laag sierstene oorgetrek. In 2015 en 2016 word herstelwerk aan die byna eeu-oue saal weer aangebring met die oog op die gemeente se Eeufeesviering.

Hoeksteenlegging 1941

Die hoeksteen van die huidige Kerkgebou is op 8 November 1941 deur Ds. H.J. Piek gelê en word oor die naweek van 24-26 April 1942 ingewy. Die argitekte was Geers en Geers  en die kerk is van siersteen (verkry van Kirkness Pretoria) gebou, in die neo-Bisantynse styl, met sitplek vir sowat 800 mense. Die kerkorrel het 620 pype, 8 eenhede en 37 registers, asook ‘n klokkespel en Vox Humana.

Deurentyd was daar te min plek vir die Sondagskoolkinders – later kategesekinders genoem. In 1985 word ‘n staalkonstruksie agter die kerksaal opgerig, met die voorneme dat dit later in kategeselokale omskep sal word. Daar is egter bloot nie geld vir bouwerk nie. Intussen word die jaarlikse kerkbasaar groter en die hoeveelheid kategesekinders al hoe minder. In 1993 word die staalkonstruksie toegebou – kategeselokale is nou onnodig, maar ‘n goed-toegeruste basaarlokaal is broodnodig! Die gebou word slegs een keer per jaar gebruik, tot aan die begin van 2018, wanneer ‘n kleuterskool en nasorgsentrum hul intrek daar neem.

Die adres van die NG Kerk: die Kerkplein was geleë op die hoek van Beukesstraat en Kerkstraat of Beukesstraat 38. Die Noodkerk is egter op Beukesstraat 44 gebou, omdat Kerkplein te nat is om te op te bou. Later is die huidige kerkgebou op Beukesstraat 42 gebou. Na meer was ‘n 100 jaar het die kerk se fisiese adres steeds Beukesstraat 38 gebly – dis so aangedui in die Jaarboek en die kalender. Dit het nooit gepla nie, want mense het maar gekyk waar is die kerktoring en daarheen gery. Toe begin koeriers bedrywig word, en kla dat hulle nie die N G Kerk se adres kan opspoor nie. Toe eers, in Oktober 2019, gaan die lig skielik op: vir meer as ‘n eeu word die verkeerde fisiese adres aan die kerk gekoppel – die adres van die oorspronklike Tabernakel, nl Beukesstr 38 Die eintlike fisiese adres van die kerkgebou is inderdaad Beukesstraat 42. (Geskryf deur ds T Roux).

Lees ook Die Storie van die Preekstoel

Predikante

Sendinggemeente

Die sendinggemeente is op 7 Desember 1935 gestig. Dit is gemeenskaplik saam met Carlina, deur ds Awie de Clercq bedien. Op aanbeveling van die Plaaslike Sending Kommissie besluit die Kerkraad op 20 November 1942 om ‘n eie sendeling te beroep. Die volgende sendelinge sou Hendrina bedien:

  • 1929-1939 Ds AJ de Clercq
  • 1945-1949 Ds HA Müller
  • 1954-1960 Ds CJJ van Rensburg
  • 1960-1965 Ds TJ Basson
  • 1965-1968 Ds MS van Rooyen
  • 1969- 1975 Ds IHR Kilian
  • 1979-1994 Ds S de Wet