Ackermann, Petrus Basson

GEBORE

12 Feb. 1885

OORLEDE

26 Okt. 1942

UNIVERSITEIT

Universiteit van Stellenbosch

gelegitimeer

1916

ORDEN

1917

standplase

26 Okt. 1917 Ceres (Hpr.)

24 Jul. 1918 Kaapstad (Robbeneiland)

16 Feb. 1922 de Nieuwe Kerk, Kaapstad

12 Feb. 1942 Dosent Sending-Instituut

Ds. Petrus Basson Ackermann is gebore op 12 Februarie 1885. Vir sy hoër onderwys het hy na Stellenbosch gegaan waar hy sy B.A.-graad verwerf het en hom toe vir vier jaar lank aan die onderwys gewy as lid van die aflospersoneel. Gedurende die tyd het hy hom voorberei vir sy admissie tot die Kweekskool. Aan die einde van 1916 het hy sy proponentseksamen afgelê en aan die begin van 1917 is hy te Ceres as hulpprediker georden. Hier was hy tot aan die einde van 1918 werksaam toe hy die werk onder die melaatses op Robbeneiland onderneem het. Na ‘n vrugbare arbeid van vier jaar het hy hom ‘n beroep na die Nieuwe Kerk, Kaapstad laat welgeval en is hy in Februarie 1922 as herder en leraar van gemeente bevestig. Vir 19 jaar het hy die gemeente met getrouheid en toegewydheid gedien. In 1941 het hy die benoeming tot dosent aan die Sending-Instituut te Wellington aangeneem. Hy het gedien op die bestuur van die S.A.B.V. en op die Publikasie-kommissie. Hy was vir jare lank lid en ook voorsitter van die Kerkkantoorkommissie. Hy het ‘n belangrike plek in die Gesangeberymingskommissie ingeneem en met sy digterlike aanleg die grondberyming van ‘n hele aantal gesange gelewer. Daar is met reg veel van hom verwag as dosent aan die Instituut en hy het hom heelhartig in die werk gewerp. Veel sou hy gelewer het as hy gespaar gebly het, maar vir die hemelse Vader was die lewenstaak volbring en so moes ‘n getroue en waardige dienskneg op 26 Oktober 1942 die tyd met die ewigheid verwissel. – (Jaarboek 1943)