NG Gemeente Melmoth

NG Gemeente Melmoth

Gestig

15 Junie 1894

Ring

Ring van Melmoth

Adres

Hammerstraat, Melmoth

Sluit in

Melmoth en omgewing

Eerste predikant

C.J. Brink (1920–1944)


Die NG Gemeente Melmoth is ’n gemeente in die Sinode van KwaZulu-Natal.

Die amptelike geskiedenis van die NG Kerk in Zoeloeland het op 15 Junie 1894 begin toe die gemeente Melmoth onder leiding van ds. Former Sypkens (voorsitter), predikant van Newcastle van 1889 tot 1897, en oudl. T. R. Boshoff (secundus), albei lede van “de Kerkelijke Comissie der Ned. Geref. Kerk van Natal”, in die teenwoordigheid van 23 manslidmate afgestig is. Dit is gedoen in opdrag van die Sinode van Natal, wat in April 1894 op Ladysmith sitting gehad het.

Die kerkie van 1894 is vandag nog in gebruik deur die gemeente.

Ten tyde van die afstigting was die kerkgebou, waarvan sir Marshall Clark die hoeksteen op 11 Nov. 1893 gelê het, blykbaar reeds voltooi. Hoewel die gemeente destyds oor die hele Zoeloeland gestrek het, was die lidmate nog te min om aan die beroep van ’n eie leraar te dink. Konsulente moes die bearbeiding behartig langer as twee dekades behartig, want eers op 25 Februarie 1919 is ’n eie leraar beroep in die persoon van ds. C.J. Brink, wie se enigste vorige standplaas Prieska as hulpprediker van 1916 tot 1917 was. Hy is op 24 Januarie 1920 bevestig en kan as die baanbreker van die NG Kerk in Zoeloeland bestempel, volgens die gemeente se medewerker aan Ons gemeentelike feesalbum (1952) . Vyf en twintig jaar lank, tot sy dood einde November 1944 “het hy die werk van die Here in hierdie uitgestrekte gemeente met die grootste ywer en getrouheid behartig”. Hy het in die tuig gesterf. Op 29 September 1945 is hy opgevolg deur ds. J.H. Lourens, wat weer in 1949 deur ds. M. T. S. Zeeman opgevolg is.

In 1942 het die eerste afstigting in die gemeente plaasgevind toe Empangeni ’n selfstandige gemeente word. In November 1949 het nog ’n afstigting plaasgevind, naamlik dié van Eshowe, wat vir eers ’n kombinasie-gemeente met Melmoth sou wees aangesien die twee gemeentes nog te swak was om elkeen ’n eie leraar te onderhou. Aan die vooraand van die afstigting het Melmoth se lidmate sowat 520 getel, wat min of meer gelykop tussen  moeder en dogter verdeel is. Melmoth het destyds ook ’n ruim saal op Nongoma gehad. Eshowe se toringkerk is in 1950 ingewy, terwyl op Gingindlovu ook ’n kerksaaltjie was.

In Ons gemeentelike feesalbum het Melmoth se medewerker geskryf daar kon nog nie vasgestel word wanneer die plaaslike sendinggemeente gestig is nie, “maar ons Kerk het so vroeg as 1900 reeds hier ’n evangelis in diens gehad”. Die eerste sendeling uit die moederkerk se geledere, eerw. J. H. Ries, is in 1948 hier georden, maar het reeds in 1950 vertrek. Die plan was toe om ná die oorkoms van die vyf Noord-Natalse gemeentes – Utrecht, Vryheid, Paulpietersburg, Babanango en Louwsburg – weer ’n sendeling te beroep. Intussen het drie evangeliste die werk behartig.

Predikante

  • Charles John Brink, 1920 – 1944
  • Jacobus Hermanus Lourens, 1945 – 1948
  • Marthinus Theunis Steyn Zeeman, 1949 – 1954
  • Jacobus Daniël van Wyk, 1954 – 1959
  • W H van Niekerk, 1961 – 1964
  • J P Barnard, 1965 – 1972
  • C Lotz, 1972 – 1975
  • T E Carpenter, 1976 – 1996
  • E Uys, 1997 – 2002
  • Hannes Reinecke, 2002 – 2004
  • J L Dippenaar, 2002 – 2007
  • M F Scholly, 2007 – 2010
  • M S van Rooyen, 2010 – 2011
  • Karlien van Wyk, 2011 – 2016
  • Sarel Corrie, 2016 tot hede