NG Gemeente Bultfontein

Gestig

11 Januarie 1874

Ring

Boshof

Adres

H.v. Stofberg- en Dickenstraat, Bultfontein

Sluit in

Bultfontein (deels)

Eerste predikant

P.A. Winter (1879–1896)

Die NG Gemeente Bultfontein is ’n gemeente op die gelyknamige Vrystaatse dorp. Met sy stigting was dit die 19ste gemeente in die Vrystaat, maar nadat Bethlehem se moedergemeente by Bethlehem-Wes ingelyf is, het dit die 18de oudste gemeente in die Vrystaatse Sinode geword.

Dorpstigting

Bultfontein se ontstaangeskiedenis hou verband met dié van Hoopstad, 60 km noordwes van hier. Die Vrystaatse Volksraad het in 1862 sy goedkeuring geheg aan die stigting van ’n dorp in daardie geweste, maar daar was langdurige onenigheid omtrent die plek waar die dorp uitgelê sou word. In 1873 is die Volksraad weer genader om die stigting van ’n dorp goed te keur. Die Raad het die aansoekers eenvoudig na die besluit van 1862 verwys waarkragtens die stigting van ’n dorp gemagtig is. Dit het egter duidelik geword dat die stigting van slegs een dorp die mense nie tevrede sou stel nie, en daarom is dorpe gestig op Bultfontein sowel as Hoopstad.

’n Aantal persone (onder andere J. Theunissen, P. van Vrede, M. Prinsloo, G. P. Kotzé) het in 1873 die plaas Bultfontein in die distrik Winburg vir £2 000 van A. McCallum gekoop met die doel om daar ’n dorp uit te lê. Hierdie kopers was tot 1885 die eienaars van die dorp, toe hulle dit verkoop aan die kerkraad van die plaaslike NG gemeente, wat toe sowat 11 jaar oud was. Die kopers het ’n komitee saamgestel om sake in verband met die dorp te behartig. Die kopers wou die naam Fairplay aan die nuwe dorp gee, maar toe die Volksraad Bultfontein in 1874 as dorp erken, wou hulle niks daarvan hoor nie. Nog dieselfde jaar is P.H. van Rooyen as vrederegter van Bultfontein aangestel.

In 1880 is die dorpsregulasies bekragtig wat bepaal dat die dorpsbestuur aan ’n komitee bestaande uit die vrederegter en vier ander opgedra moes word. In die stryd tussen Bultfontein en Hoopstad oor die distriksverklaring het Hoopstad gewen toe die voorkeur in 1882 aan Hoopstad gegee is. Bultfontein het maar stadig gegroei: In 1890 was hier nog net 23 woonhuise en ’n wit bevolking van 97. Volgens die sensus van 2011 was dit 1 269.

Gemeentestigting

In November 1873 het die Ring tot die stigting van ’n gemeente op Bultfontein besluit. Die eerste doopsbediening het op 11 Januarie 1874 onder ’n bokseiltent plaasgevind. Omdat die kerkargief gedurende die Tweede Vryheidsoorlog amper heeltemal vernietig is, is nadere bepaling van die stigtingsdatum onmoontlik. Die gemeente het 200 lidmate getel en is genoem na ’n sterkvloeiende fontein uit ’n nabygeleë bult. Die eerste erwe op die kerkplaas was dan ook waterlei-erwe. Op 6 Februarie 1876 is die eerste kerkie, op £11 na, kontant ingewy. Die prediker was ds. P.A.C. van Heyningen, van Winburg, en sy teks was 2 Kron. 3:7 en 8.

Hendrik Vermooten het die gemeente se kerkgebou ontwerp. Ds. J.D. Cilliers het die hoeksteen op 7 Mei 1949 gelê. (Foto: Morné van Rooyen)

Die gemeente was herderloos tot 6 Desember 1879 toe ds. P.A. Winter hier bevestig is. Op 11 Januarie 1896 is die hoeksteen gelê van ’n nuwe kerkgebou, wat op 22 Januarie 1897 ingewy is. Die prediker was ds. Robertson; sy teks was Gen. 28:19. Op 14 Maart 1897 het ds. Winter van die gemeente afskeid geneem. Prop. J.A. Pienaar is op 29 Januarie 1898 georden en bevestig. Kort hierna het die Driejarige Oorlog uitgebreek en is die pastorie as ’n fort en die kerk as ’n hospitaal gebruik.

Vooruitgang

Ds. Pienaar het die gemeente 44 jaar lank bedien. Onder sy leiding is die huidige pastorie, sendingkerk en kerkkoshuis opgerig. Ná hierdie buitengewone lang en vrugbare bediening tree hy op 1 Maart 1942 af. Die volgende leraar, ds. J.D. Cilliers, is op 1 Augustus 1942 hier bevestig; dit was sy voorreg om die teenswoordige kerk te sien verrys wat op 13 Mei 1950 ingewy is. Die koshuis is onder sy leiding verder uitgebrei. Van 1949 tot 1951 het die gemeente £29 300 vir hul kerklike fondse byeengebring. In die eerste 77 jaar is die gemeente deur slegs drie leraars bedien, en in dié tyd is ’n tiental gemeentes geheel of gedeeltelik van die wyd uitgestrekte gemeente afgestig. Die sendinggemeente is in 1888 gestig. Ook die eerste sendingkerkie is in die Tweede Vryheidsoorlog deur die vyand verwoes.

Die NG Moederkerk Bultfontein. (Foto: Morné van Rooyen)

Op 23 Junie 1951 is die nuwe orrel ingewy. In 1952 het Ons gemeentelike feesalbum berig: “Die distrik het ontwikkel tot ’n florerende landbougebied en die gemeente munt uit in sy milddadigheid. Daarvoor is ons die Here dankbaar.” Twee jaar later, in 1954, het Bultfontein-Oos van die moedergemeente afgestig. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Paul August Winter, 1879 – 1896
  • J.A. Pienaar, 29 Jan. 1898 – 28 Februarie 1942 (emeritus; 10 Febr. 1950 oorlede)
  • Jan Daniël Cilliers, 1 Aug. 1942 – 1951
  • Jacob Abraham Claassens, 1970 – 1974
  • Johannes Antonie Christoffel Erasmus, 1984 – 1989 (oorgegaan na die AP Kerk)