NG Gemeente Brandfort

Die NG Moederkerk Brandfort met die gedenkteken ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat in die plaaslike konsentrasiekamp gesterf het, op die voorgrond.

Gestig

17 Junie 1875

Ring

Winburg

Adres

Brandstraat, Brandfort

Sluit in

Brandfort

Eerste predikant

Andries François Malan (1890–1899)

Die NG Gemeente Brandfort is die moedergemeente op die Sentraal-Vrystaatse dorp Brandfort. Die gemeente is in 1875 gestig as die 20ste in die Vrystaatse NG Kerk.

Agtergrond

Jacobus van Zyl van Prins Albert in die Karoo het by die Voortrekkers aangesluit, en ná die moord op Piet Retief in 1838 het hy en ander Trekkers terug oor die Drakensberge getrek. Hy het gekom tot op die plaas wat later Keerom genoem is. Reeds voor 1866 het hy probeer om op sy plaas ’n dorp aangelê te kry; aanvanklik het hy nie daarin geslaag nie, maar op 30 Oktober 1866 is die eerste 47 erwe op Brandfort verkoop. Eers in 1874 is Brandfort tot dorp verklaar.

Die gemeente Brandfort is in 1875 gestig. In die notule van 5 Junie 1875 van die NG Gemeente Bloemfontein staan geskryf: “De eerw. Voorz. deelt mede dat de Ringscommissie op 17 Junie aanstaande te Brandfort zal vergaderen om de grenslijnen dezer nieuwe Parochie te bepalen, en wenscht, dat daarby deze gemeente zal worden vertegenwoordigd.” Die stigtingsdatum van die gemeente is dan 17 Junie 1875. Gevolglik kon die gemeente op 17 Junie 1950 sy 75-jarige bestaan vier.

Eerste leraar

Die Ringskommissie het op 17 Junie 1875 die volgende kerkraadslede aangestel: J. van Zyl, H.J. van der Merwe en J.P. Maree (ouderlinge); H.O. Wilsenach, A.H. le Roux, W.J. Badenhorst, S.C. Vermaak en J.J. Marais (diakens). Ds. P.M. van Heyningen van Winburg is as konsulent benoem en die eerste kerkraadsvergadering op 31 Julie 1875 gehou. Die eerste leraar van die gemeente was ds. E.A.J. du Toit. Hy was predikant van Jacobsdal en ten tyde van sy beroep op 3 April 1879 konsulent van Brandfort. Hy het tot 1894 hier gestaan.

Latere leraars

Ná ds. Du Toit het in die eerste driekwarteeu gemeente se bestaan die volgende leraars hier gedien: Di. J.G. de Bruyn (1894 – 1904), C.H. Stulting (1905 – ’13, wie se seun Jan Daniël Stulting hier gebore is en ook later predikant geword het), D.P. Cillié (1913 – ’20), P.K. Albertyn (1921 – ’26) en E.A. Pienaar (1926 – ’30). Ds. Pienaar het in November 1926 die beroep na Brandfort aangeneem, waar hy net drie jaar kon werk toe hy op 27 Februarie 1930 in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein deur die dood weggeneem is. Dit was sowat drie weke voor sy 47ste verjaardag. Sy laaste kanselboodskap aan sy gemeente was: “Of ons dan lewe en of ons dan sterwe, ons behoort aan die Here” (Rom. 14:8), maar omdat dit in 1930 was, sou hy nog gebruik gemaak het van die Statebybel: “Want hetzij dat wij leven, wij leven den Heere; hetzij dat wij sterven, wij sterven den Heere. Hetzij dan dat wij leven, hetzij dat wij sterven, wij zijn des Heeren.” Ná hom het gekom di. A.J. Olivier (1931 – ’44) en P.N.V. de Lange (1944 – 51).

Die NG moederkerk Brandfort soos dit in 1886 gelyk het. Dit is ontwerp deur Richard Wocke, die Vrystaat se eerste argitek.

Afstigtings

In 1925 is ’n deel van die gemeente by die nuwe gemeente Verkeerdevlei gevoeg en in 1927 ’n deel aan Soutpan. Op 25 Mei 1951 is die gemeente Brandfort in twee gedeel en is die nuwe gemeente Brandfort-Oos genoem.

Met die stigting van die gemeente op 17 Junie 1875 was daar reeds ’n kerkgeboutjie met ’n plat dak, vervaardig uit “riet en kleilaag en brak” met “luggaten onder het plafond”. ’n Nuwe kerk is in 1885 gebou; hierdie kerk is in 1907 vergroot en is vandag nog in gebruik. Dit is ontwerp deur die gebore Duitser Richard Wocke, die Vrystaat se eerste argitek. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • E.A.J. du Toit, 1879-1894
  • J.G. de Bruyn, 1894-1904
  • C.H. Stulting, 1905-’13
  • D.P. Cillié, 1913-’20
  • P.K. Albertyn, 1921-’26
  • E.A. Pienaar, 1926-’30
  • A.J. Olivier, 1931-’44
  • P.N.V. de Lange, 1944-51
  • Jan Jurie Fourie, 22 Maart 1952 – 1958
  • Stephanus Salmon Weyers, 14 Jun. 1958 –