NG Gemeente Krugersdorp

Die kerkgebou in 2012. (FOTO: GGSA)

Gestig

7 Junie 1890

Ring

Krugersdorp

Adres

Joubertstraat, Krugersdorp

Sluit in

Krugersdorp (deels)

Ingelyf by

NG Gemeente Luipaardsvlei

Eerste predikant

H.C.J. Becker (1890–1898)


Die NG Gemeente Krugersdorp was die moedergemeente in Krugersdorp aan die Wes-Rand, maar is in 2010 ingelyf by die NG Gemeente Luipaardsvlei.

Voor 1890 het die lidmate van die NG Kerk in hierdie gebied onder die gemeente Pretoria geressorteer. Op 7 Junie 1890 is die gemeente Krugersdorp afgestig en is prop. Becker as leraar op 6 September 1890 bevestig. Die kerkgebou, wat al die jare in gebruik was, is in Januarie 1895 ingewy. Ds. Becker se opvolger was ds. F.G.T. Radloff van Hoopstad wat op 17 Desember 1898 hier bevestig is. Tydens sy bediening het hierdie gemeente, weens die oorlog en naoorlogse ellende, donker dae deurleef.

Die kerkgebou omstreeks 1917.

Besonder veel is deur hierdie getroue dienskneg van die Here en deur sy gade ter ondersteuning van die noodlydendes in die konsentrasiekamp asook die krygsgevangenes op die dorp gedoen. Hy het nie net hul geestelik bearbei nie, maar onder sy leiding is ’n kommissie in die lewe geroep wat in die noodsaaklikste behoeftes van die noodlydendes in die kamp en dorp voorsien het.

Nadat ds. Radloff op 11 Oktober 1914 sy emeritaat aanvaar het, is hy opgevolg deur ds. P.J. van Vuuren, wat die gemeente van 1915 tot 1921 gedien het, en toe ’n beroep na Vredefort aangeneem het. Onder sy ywerige leiding is die knellende kerkskuld gedelg.

Die volgende leraar van die gemeente was ds. J.J. Krige wat op 21 April 1922 hier bevestig is. Veertien jaar lank het hy in die gemeente gearbei, totdat hy onverwags op 29 Oktober 1936 tot hoër diens opgeroep is. In November 1937 is ds. A.T. Martinson in die gemeente bevestig. Op 29 November 1941 is ds. C.C. van Dyk as eerste medeleraar van die gemeente bevestig. In 1944 is hy na die jongste dogtergemeente, Krugersdorp-Noord, beroep.

Danksy die ywer van die verskillende leraars en in besonder dié van ds. Martinson het die gemeente sy plek t.o.v. die sending, armesorg, Sondagskool, kerklike verenigings en onderwys volgestaan. Met die snelle ontwikkeling van die Wes-Rand, het die ledetal van die gemeente herhaaldelik so toegeneem dat die volgende dogtergemeentes afgestig moes word: Roodepoort in 1905, Magaliesburg in 1910, Randpoort (Randgate) in 1918, Burgershoop (Krugersdorp-Wes, later genoem Suiderlig) in 1920, Krugersdorp-Noord in 1943.

Die moedergemeente van die Ring van Krugersdorp het in 1952 ’n ledetal van nagenoeg 1 350 gehad, terwyl die kerkraad 56 getel het. Prop. T.J. Hanekom is in Oktober 1951 tot medeleraar van die gemeente bevestig.

Nes die moedergemeentes van Klerksdorp, Alberton, Benoni, Springs, Germiston, Boksburg en Randfontein, het Krugersdorp se lidmate so afgeneem dat die gemeente by ’n buurgemeente ingelyf is, in dié geval in 2010 by Luipaardsvlei.

Dogtergemmentes

Predikante

  • H.C.J. Becker, 6 September 1890 – 1898
  • F.G.T. Radloff, 17 Desember 1898 – 11 Oktober 1914 (aanvaar sy emeritaat)
  • P.J. van Vuuren, 1915 – 1921
  • Jacobus Joubert Krige, 21 April 1922 – 29 Oktober 1936 (oorlede in die amp)
  • Archibald Thomas Martinson, 1937 – ?
  • C.C. van Dyk, 29 November 1941 – 1944 (word eerste leraar van die dogtergemeente Krugersdorp-Noord)
  • T.J. Hanekom, Oktober 1951 (medeleraar)
  • P.W. Marais, 1954 – 1955 (medeleraar)
  • Pieter Willem Marais, 1962 – 1964