NG Gemeente Napier

Die huidige kerkgebou, ontwerp deur Wynand Louw, is op 14 April 1928 ingewy.

Gestig

26 Januarie 1848

Ring

Caledon

Adres

Sarel Cilliersstraat 77, Napier

Sluit in

Napier en omgewing

Eerste predikant

A.M.G. Kuys (1852–1863)


Die NG Gemeente Napier is die 36ste oudste bestaande gemeente in die hele Kerk en die 25ste oudste in die Sinode van Wes-Kaapland.

Die gemeente is op 26 Januarie 1848 gestig, maar reeds sedert 1838 is verskeie pogings aangewend om tot ’n afsonderlike gemeente gevorm te word. Die Goewerneur, sir George Thomas Napier, was die saak van die inwoners van Napier en omstreke goedgesind, en het selfs so ver gegaan om die Ring van Swellendam te gelas om in 1842 ’n buitengewone Ringsvergadering te hou om die stigting van ’n gemeente te Napier kerklik deur te voer. Die Goewerneur het selfs in sy opdrag aan die Ring as predikant van die nuwe gemeente ds. P.B. Borcherds genoem.

Die Ring het egter, ten spyte van die feitlike bevel van die Goewerneur, met een teenstem (dié van ds. H.A. Moorrees) teen die gevraagde stigting besluit. In 1847 het Napier hom eindelik op die Sinode beroep. Sy versoek is verwys na ’n kommissie. Die advies van die kommissie was eenparig teen die stigting van die gemeente, maar die Sinode “besloot . . . dat het verzoek der memorialisten zal worden toegestaan”.

Die eerste leraar van die gemeente, ds. A.M.G. Kuys, is op 19 September 1852 bevestig. Nêrens is ’n aanduiding dat hy deur die gemeente beroep is nie. In die Julie-uitgawe van De Kerkbode (1852) verskyn egter ’n beriggie: “De Weleerw. Heer A.M.G. Kuys is door Sijne Edelheid den Luit. Gouverneur aangesteld tot Predikant te Napier.” Sy salaris was slegs £100 per jaar. Ruim 10 jaar het hy die belange van die gemeente met groot ywer en toewyding behartig.

Die gemeente het in 1854 besluit om die ou kerkgebou te vergroot en op 19 Augutus 1857 is die vergrote gebou toe ingewy. Nadat die nuwe kerk, ontwerp deur Wynand Louw, in 1928 voltooi is, is dit ingerig as kerksaal.

Ds. C.T. Scholtz was die tweede leraar. In Julie 1863 is hy bevestig en het hy sy emeritaat in 1889 onder tragiese omstandighede aanvaar. Sy bediening was nie baie vrugbaar nie. Met die koms van die derde leraar het ’n nuwe tydperk – ’n tydperk van bloei op geestelike sowel as op tydelike gebied – vir die gemeente aangebreek. Langeras 35 jaar het die gemeente van Napier die voorreg gehad om voordeel te trek van die geloof, toewyding en liefde van ds. A. Brink Cilliers.

Sy opvolger, dr. C.C. Nepgen, is op 28 November 1925 bevestig. Die gemeente het dus in die eerste eeu van sy bestaan net vier predikante gehad. Gedurende die dienstyd van dr. Nepgen is onder meer ’n nuwe kerk – een van die sierlikste in die land – ’n nuwe pastorie en groot moderne koshuise deur die gemeente opgerig. Ook is ’n sterk opvoedingsfonds, wat teen 1951 reeds meer as £5 000 beloop het, in die lewe geroep.

Predikante

  • Arnoldus Gerhardus Marthinus Kuys, 1852–1863
  • Carel Trappes Scholtz, 1863–1889
  • Andries Brink Cilliers, 15 Maart 1890 – 23 Junie 1925
  • Cornelis Christiaan Nepgen, 28 November 1925 – 16 April 1955
  • John David Fuchs, 25 Februarie 1956 – 1960