NG Gemeente Durbanville

Die NG Gemeente Durbanville se kerkgebou.

Gestig

1826

Ring

Durbanville

Adres

H.v. Kerk- en Weyersstraat, Durbanville

Sluit in

Durbanville (deels)

Eerste predikant

John Edgar (1828–1830)


Die NG Gemeente Durbanville is die sewentiende oudste gemeente van die NG Kerk in Suid-Afrika en is in die gelyknamige noordelike stadsgebied van Kaapstad geleë.

Ontstaan

Op 23 September 1824 het 11 boere van die Koeberg wat  besitters van plase aan en naby die Tygerberg was, wat lang reise na die kerke van Kaapstad, Swartland en Stellenbosch moes aflê, ’n versoekskrif aan goewerneur lord Charles Somerset gerig ten einde ’n kerk te vra aan die uitspanning Pampoenkraal, wat geleë was aan die hoofweg na die binneland.

Die versoek is toegestaan en op 1 April 1825 is die hoeksteen van die kerkgebou op Pampoenkraal gelê. Op 6 Augustus 1826 is die inwydingsrede deur ds. J.C. Berrangé, Kaapstadse predikant, waargeneem.

Aanvanklik is die kerkplaas en die dorpie wat begin ontwikkel het Pampoenkraal genoem. Daar is egter sedert die begin na “de gemeente aan de Tijgerbergen” of die “tijgerbergsche gemeente” verwys.

Toestemming is gegee dat al die plase in die Tygerberg, Koeberg, Blouberg en De Kuilen binne die grense van die Tygerbergse Gemeente sou val. Volgens Sinodebesluit was die noordelike grens by Klipheuwel, Oortmanspoort, Boterberg, Driefontein, Haarmeyerskraal en Buffelsrivier. Die suidelike grens met Kaapstad was vanaf die Zoutriviermond in ‘n reguit lyn tot by Vergenoegd, aan die Eersterivier, Stellenbosch. (Later omskryf as vanaf Soutrivierstasie, verby Maitlandstasie). Die westelike grens was die kus en het Blaauwberg, Rietvlei, Rozendal en Seven Pannetjies ingesluit. Die oostelike grens was met Stellenbosch en Paarl distrikte langs die hardepad van Malmesbury na Stellenbosch.

Op 1 Augustus 1836 het 49 inwoners die goewerneur Sir Benjamin D’Urban versoek om die dorp na hom te vernoem. Hy het ingestem en op 2 September 1836 is dit so in die Staatskoerant afgekondig. Ons dorp vier dus ook vanjaar dan sy 180ste verjaarsdag. Dit was eers vanaf 1841 wat daar na die dorp verwys is as “gemeente van Tijgerberg te D’Urban.” Dit het egter baie verwarring veroorsaak en die Sinode het in 1886 goedgekeur dat die gemeente voortaan as Durbanville bekend sou staan.

Eerste leraar

Op 26 Mei 1828 is ds. James Edgar, een van die Skotse predikante wat in die 19de eeu na Suid-Afrika gekom het om die tekort aan leraars in die NG Kerk te verlig, as eerste leraar van wat toe as die gemeente Tijgerberg bekend gestaan het, teen ’n salaris van 200 pond per jaar aangestel. Hy het gebots met die kerkraad omdat hier nie ’n pastorie was nie en hy dus sy eie huishuur moes betaal en hy het ook moeilikheid met die koster en voorleser, H.F. Mellet, gehad en boonop kon die gemeentelede nie ds. Edgar se Hollands verstaan nie. Hy het dus die gemeente ná net twee jaar verlaat.

Tweede leraar

Die gemeente bly vier jaar lank herderloos met oudl. Marthinus Laurentius Neethling wat feitlik as predikant optree. ’n Ringmuur, wat vandag nog staan, is in 1833 voltooi om te verhoed dat waens teen die kerkgebou uitspan. In 1834 is ds. J.J. Beck as leraar bevestig. Die dorpie was toe nog Pampoenkraal, maar volgens ’n skrywe aan sir Benjamin D’Urban, goewerneur, sou die dorpie van 30 Augustus 1834 as D’Urban bekend staan ter ere van die geliefde goewerneur.

Beck het die gemeente ’n volle 52 jaar lank bedien, waartydens hy ’n uitval gehad het met die boere van die Koeberg, toe hulle ’n eie gemeente (Philadelphia) in 1863 afstig, en met die ring en sinode omdat hy geweier het om sittings van die liggame by te woon. Nietemin was hy bemind onder die lidmate.

Ds. Lückhoff

Sy opvolger was ds. A.D. Lückhoff in 1886. Gedurende sy dienstydperk is die kerkgebou vergroot en die plek se naam na Durbanville verander om verwarring met die stad in die indertydse Natal te vermy. In 1903 is die gemeente Kuilsrivier afgestig. Lückhoff het in 1904 afgetree.

Afstigtings

Ds. D. Bosman is bevestig in September 1904, die jaar nadat die NG Gemeente Kuilsrivier afgestig het, en in 1926 is die gemeente se honderdjarige bestaan plegtig gevier. In 1917 is die gemeente Parow-Goodwood afgestig en Bellville in 1934. In 1944 het Kraaifontein gevolg.

Die volgende gemeentes het van Durbanville afgestig:

Fasiliteite

Kerkgrond

Met die versoek om ‘n nuwe kerk in die Tygerberg te begin is daar ook twee stukke grond aan die kerk vir die doel gegee. Op die een erf is die kerkgebou opgerig. Die ander stuk grond kon die kerkraad in erwe laat opsny en verkoop as inkomste vir die kerkkas. Die stuk grond was geleë tussen Kerk-, Hoog-, Vrede- en Gladstonestrate. Die eerste erwe is op 26 Oktober 1836 opgeveil. Die groot erf naaste aan die kerkerf is uitgehou om die eerste pastorie op te bou. In 1975 is die ou pastorie-erf van 35 000 vierkante voet vir R39 000 verkoop.

Kerkgebou

Die oorspronklike kerkgebou was ‘n tipiese kruiskerk. Oorspronklik het die gebou ‘n rietdak gehad. Die konsistorie was aanvanklik as skooltjie gebruik en as vergaderplek vir die kerkraad. Daar was ook drie galerye, soos ons dit vandag ken. In 1859 is die voorportaal aangebou en in 1891 die twee syportale. Met laasgenoemde verbouings is die kerk ook vergroot deur die buitemure in boë uit te slaan, nuwe buitemure verder weg te bou en die oorspronklike vensters in die nuwe mure te plaas. Hierdie nuwe dele is met skuinsdakke aan die hoofdak verbind en die hele dak is met teëls vervang. Die ou banke is in die nuwe dele teen die kante geplaas en nuwe langer banke is vir die middel van die skip geplaas. In 1912 is gasligte geïnstalleer en in 1933 elektriese ligte. Die kerk is in 1953 en weer in 1968/9 gerestoureer.

Kerkmuur

Die kerkterrein was onomhein en daar is reeds in 1828 bydraes per “circulaire” gevra om ‘n ringmuur op te rig ten einde die kerk “te secureeren voor brand en te dien tot eene begraafplaats”. Op 29 Augustus 1832 is ‘n ossewa baie naby aan die suid-oostelike muur van die kerk en konsistorie uitgespan, vlak voor die venster, en met renosterbosse is ‘n baie groot kampvuur aangesteek. Ter oordeel aan die “mist der beeste” was die voorosse nog aan die deurknop van die konsistorie ook vasgemaak. Die broeders was “met afgrijsen vervul” oor die ontheiliging van die bedehuis. Nou is daar met erns begin om geld by mekaar te maak vir die muur en teen 1834 is dit voltooi.

Kerksaal en kantoorblok

In 1891 het die Kerkraad die ou skoolgebou in Gladstonestraat gekoop met die doel om dit vir gemeentelike doeleindes te gebruik, soos bv. vir die weeklikse bidure, Sondagaanddienste en basaars. Dit is toe bekend as die kerksaal van die gemeente. Nadat die kerkraad dit van 1946 aan andere verhuur het is dit in 1954 aan die Hebreeuse gemeente verkoop. Omdat die saal te klein geword het is ondersoek ingestel na die bou van ‘n nuwe kerksaal. In 1951 is die nuwe kerksaal voltooi teen ‘n koste van £21 000 en op 18 en 19 Augustus 1951 in gebruik geneem. Dit het saamgeval met die gemeente se 125ste verjaarsdagviering. In 2018 is die hele kompleks in samewerking met ‘n ontwikkelaar omskep in ‘n kleuterskool – Durbieland.

Predikante