Gestig
10 November 1892
Ring
Jagersfontein
Adres
Weilstraat 1, Jagersfontein
Sluit in
Jagersfontein en omgewing
Eerste predikant
A.J. Malherbe (1894–1903)
Die NG Gemeente Jagersfontein is ’n Vrystaatse gemeente in die Ring van Fauresmith. Die gemeente is op 1 November 1892 van die Fauresmith afgestig as die 34ste gemeente in die Vrystaatse Kerk.
Ontstaan van Jagersfontein
Jacobus Jagers het die plaas Jagersfontein in 1854 vir 1 000 riksdaalders verkoop aan C.F. (Cornelis) Visser, eienaar van die plaas Schraalfontein. Die plek ontleen dan ook sy naam aan die Griekwa-familie, die Jagers, wat by die fontein bokant die teenswoordige myn gewoon het. In 1870 het J.J. de Kock ’n diamant op dié plaas opgetel, en baie gou is nog gevind.
Op 29 Augustus 1870 is die diamantvelde van Jagersfontein gedeeltelik as ’n delwery oopgestel. Interessante bepalings van die eerste delwersregulasies was dat alle delwers die familiebetrekkings van die Vissers en burgers van die Vrystaat moes wees. Artikel 17 lui soos volg: “Het Committee zal toezien dat geene negotiewaren, wynen, sterke dranken en ander spiritualiën op de delverijen worden verkocht, en dat sterke dranken ook niet bij eenige groote hoeveelheden worden aangevoerd; dat des Sondags niet worden gegraven en geene onbehoorlijke vrolijkheden plaats vinden.”
Die delwers moes ’n vyfde van die opbrengs aan diamante afstaan aan die weduwee Visser, eienares van die plaas. L.B. van der Walt het in Die Volksblad van 5 Oktober 1929 geskryf ná die oopstelling van die delwery is Charles Hutton tot inspekteur van die delwery benoem. Aanvanklik het die werk langsaam gevorder weens die primitiewe werkwyse, asook weens gebrek aan water en kapitaal; dus is die inspekteurskap in 1872 weer opgehef. Omstreeks 1878 het persone soos W.H. Beddy, Charles Wiele en C. Ried stelselmatiger begin werk. ’n Maatskappy, die “Fauresmith Diamond Mining Company” is gevorm met C. Hannan as bestuurder.
Die diamanthoudende grond is met skotskarre na ’n toestel vervoer bekend as die “whim”, en daar is dit gewas. Perde het dié toestel getrek. In 1879 is Marthinus G. Keyter as goewermentsinspekteur aangestel; hy het ook as vrederegter diens gedoen. ’n Delwerskomitee is benoem met Keyter as voorsitter en J.G. Brink as sekretaris.
In 1880 het sake nog beter gevorder. Die suiwer inkomste wat die regering geniet het, was £2 620. Die eerste stoomwerktoestelle het nou ook hul verskyning op die delwery gemaak. Die delwers het in 1881 ’n versoekskrif aan die Volksraad gestuur waarin gevra is dat die lokvinkstelsel wat destyds op Kimberley in gebruik was, ook op Jagersfontein toegepas word. Die delwers was van mening dat dit die doeltreffendste metode was om die onwettige diamanthandel te bekamp wat op uitgebreide skaal plaasgevind het. Die versoek is nie toegestaan nie; as enigste alternatief is voorgestel ’n goeie polisiemag, en £500 is op die begroting geplaas daarvoor. In 1882 is ’n assistent-landdros aangestel in die persoon van J.J. Wilson. In dieselfde jaar is Jagersfontein as dorp erken.
Intussen het die plek weer gely weens die dobbelgees wat sy verskyning gemaak het. Maatskappye is gestig en aandele teen ongehoorde pryse verkoop. Talle mense is geruïneer. In 1893 is die grootste wit diamant wat tot op daardie datum ontdek is, in dié myn gekry. Die totale gewig was 971 karaat en die grootste maat was 129,5 cm in omvang. Dit is Excelsior genoem. Twee jaar later is ’n foutlose wit diamant van 637 karaat gevind. Dit is beskou as die mees volmaake diamant wat al ontdek is. Dit is “Reitz” genoem ter ere van pres. F.W. Reitz. Die myn was toe nie meer in die hande van die Vissers nie, want hulle het dit in 1888 aan die Jagersfontein Mine and Estate Co. vir £90 000 verkoop.
Vanaf 1886 was die sake van die dorp in die hande van ’n dorpsbestuur, maar in 1904 is ’n dorpsraad ingestel. J.J. Wilson die eerste burgemeester. In Oktober 1900 het ’n klein afdeling troepe uit die kommando van genl. J.B.M. Hertzog die dorp binnegetrek. ’n Geveg het plaasgevind, maar die aanvallers het later weer padgegee. Op 25 Desember 1900 het die Engelse die dorp ontruim.
Gemeentestigting
Die gemeente het sy ontstaan te danke aan die ontdekking van diamante op die plaas Jagersfontein, want vanweë dié ontdekking het die gewone toeloop gekom van mense met die doel om hul fortuin te soek. Onder hulle was ’n aanmerklike getal wat tot die NG Kerk behoort het. Hulle is ’n tyd lank getrou bedien deur ds. H.J. Lückhoff, leraar van Fauresmith. As gevolg van die gestadigde toename van lidmate hier in die “mynkamp” het dit noodsaaklik geword om ’n hulpleraar aan te stel en ’n kerkgeboutjie op te rig. Die eerste hulpleraar wat hier gearbei het, was ds. J.W. Daneel, wie se werk nie sonder seën was nie. Hy was hulpprediker van Fauresmith van 1891 tot 1892 en daarna tot sy emeritaat in 1935 verbonde aan die Zoutpansberg-sending.
Nadat ds. Daneel na die sendingveld vertrek het, het ds. W. Robertson as hulpprediker opgetree tot hy die beroep na Petrusburg aangeneem het. Hoewel die eerste diamant reeds in 1870 deur ene De Klerk hier opgetel is en die myn reeds in 1871 begin werk het, is eers omstreeks 1890 aan afstigting gedink.
Volgens ds. P.A. Roux se mededeling in Ons Kerk Album (1917) het die Ringskommissie van die Westelike Ring die gemeente Jagersfontein op 10 November 1892 as selfstandige gemeente gestig. Maar volgens Ons gemeentelike feesalbum is ’n vergadering op 21 November 1892 in die konsistorie van die kerkgebou van Jagersfontein gehou, bestaande uit afgevaardigdes van die kerkraad van Fauresmith. Die doel was om aan Jagersfontein voor te stel dat hulle die verantwoordelikhede ten opsigte van ds. Robertson, hulpleraar, op hulle neem, naamlik £200 aan salaris.
Ons gemeentelike feesalbum vervolg: “Ná rype beraadslaging het die lidmate van Jagersfontein hulle gewillig verklaar hiervoor en is J.G. Brink as scriba van die kerkraad van Jagersfontein gekies. Uit die notule blyk dit ook baie duidelik dat Jagersfontein reeds op 1 November as ’n aparte gemeente afgestig is.”
Op ’n gemeentevergadering van 29 Julie 1893, waarop ds. A. Murray van Jacobsdal gepresideer het, is die volgende besluite geneem: (a) Eers te wag met die bou van ’n pastorie. (b) Om dadelik ’n beroep uit te bring. Hieraan is uitvoering gegee. Prop. A.J. Malherbe het tydelik met die werk begin, maar op 23 April 1894 word hy beroep en het hom die beroep laat welgeval. (Hy was later die toegewyde en onvergeetlike predikant van Boshof asmede moderator van die Sinode in die OVS.)
Kort ná sy bevestiging is die huis van broer De Klerk as pastorie vir die som van £300 aangekoop. Uit die notules blyk dat veral aandag gegee is aan sulke sake soos die sendingwerk hier ter plaatse, Sondagsontheiliging onder meer deur ’n “band” (orkes) wat op Sondae musiek gemaak het, ensovoorts.
Tweede Vryheidsoorlog en daarna
Maar die tyd van voorspoed en sonskyn was van korte duur. Die oorlogswolke het ál meer saamgepak, en eindelik was die dorp nie net leeg nie, maar ook verwoes. (Die kerkgebou het wel behoue gebly.) Op 23 Augustus 1903 is prop. J.P. van Huyssteen hier bevestig. Sy bediening was langer as sy voorganger s’n, naamlik tot 1910, en gedurende dié tyd is die huidige kerkgebou vergroot deurdat twee vleuels aangebou is (1909). Dit het die kerk se vorm na dié van ’n kruiskerk verander met ruimte vir twee galerye en omtrent 600 sitplekke.
Sy opvolger was ds. W.J. Meyer, van 1910 tot 1912. In ds. P.A. Roux se tyd (1914–’21) is die nuwe pastorie vir £1 500 (1915) aangekoop. Kort voor die einde van ds. J.C. du Plessis se vierjarige bediening (1924–’28) is die nuwe orrel aangekoop en geïnstalleer. Ook sy opvolger, ds. I.J. Minnaar se dienstyd was betreklik kort (1929–’31).
Ná ’n lang vakature van byna twee jaar is ds. D.J. van der Merwe op 8 Julie 1933 hier bevestig. Die depressie en die sluiting van die myn het hulle nou op meer as een gebied op ’n wrede wyse laat geld; tog het ds. Van der Merwe saam met sy kerkraad nie net die skuld afgewerk nie; ook het hulle kop bo water gehou. Ds. Van der Merwe het in die winter van 1937 na Lückhoff vertrek.
Sy opvolger, ds. B.J.B. Roux se bediening (1937–’42) was ’n tyd van gevestigde opbouing. Nadat M.H. Visser, wat op 1 Augustus 1942 hier in sy eerste gemeente bevestig is, in September 1946 na Colesberg vertrek het, is ds. J.J. Lubbe van Vredefort op 22 Februarie 1947 bevestig. Die gemeente en gemeenskap kon nuwe moed skep danksy die heropening van die myn. Die kerkgebou is herstel en van ’n groot nuwe klok in die kerktoring voorsien. ’n Nuwe sendingkerk is gebou en ’n sendeling in die persoon van eerw. H. Page saam met Fauresmith beroep.
Ook dié oplewing was tydelik, want weer het die myn gesluit en die gemeente se lidmaattal gedaal, ook weens ander faktore, van 500 in 1960 tot 402 in 1985 en 168 in 2015. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Albertus Jacob Malherbe, 1894 – 1903
- Jacobus Petrus Johannes Wentzel van Huyssteen, 1903 – 1910
- Justus Wilhelm Meyer, 1910 – 1912
- Petrus Albertus Roux, 1914 – 1921
- Jan Christoffel du Plessis, 1924 – 1928
- Izak Joshua Minnaar, 1929 – 1931
- Daniel Jacobus van der Merwe, 1933 – 1937
- Barend Jacobus Bester Roux, 1937 – 1942
- Michiel Hendrik Visser, 1942 – 1946
- Johann Joachim Lubbe, 1947 – 1956
- Frederik Johannes van der Merwe, 1956 – 1962
- Louis Louw, 1963 – 1967
- Johannes Dewald van der Merwe, 1967 – 1972
- Barend Jacobus Cronjé, 1972 – 1976
- Pieter Jacobus Janse van Rensburg, 10 Desember 1976 – 1983
- Theunis Reitz Kriek, 1984 – 1989
- Jan Ferdinand Zwiegelaar, 2012 – hede