NG Gemeente Moorreesburg

Die gemeente se derde kerk is in 1952 voltooi.

Gestig

3 Desember 1879

Ring

Piketberg

Adres

Kerkstraat, Moorreesburg

Sluit in

Moorreesburg en distrik

Eerste predikant

J.D. Retief (1882–1915)


Die NG Gemeente Moorreesburg is ’n gemeente op die gelyknamige Swartlandse dorp wat ressorteer onder die Ring van Piketberg en die Sinode van Wes-Kaapland.

Op 3 Augustus 1879 het ’n brief voor die kerkraad van Swartland gedien waarin die wyk Hooikraal vra om “eene afsonderlyke gemeente te stichten. De Kerkraad geeft daartoe van zynen kant verlof.” Die stigting het presies vier maande later, op 3 Desember, plaasgevind. Dit was nagenoeg nege maande ná die stigting van nog ’n Swartlandse gemeente, Porterville. Ds. J.C. Le Febre Moorrees, van 1833 tot 1881 ’n volle 48 jaar lank die geestelike vader van die Swartland in sy hoedanigheid aan predikant van die moedergemeente, is vereer en vernoem, want “de Kerkeraad is eenparig van oordeel dat deze nieuwe gemeente bekend zal staan onder den naam van Moorreesburg”.

Moorreesburg se tweede NG kerk is in 1895 ingewy.

Die eerste leraar van die jong gemeente, ds. J.D. Retief, is op 12 Januarie 1882 georden en bevestig. Dertig jaar lank het die hulpkerk, wat maar £675 gekos het en wat nog dekades lank as saal gebruik is, as kerkgebou diens gedoen. Op 12 Desember 1894 is die hoeksteen van die tweede kerkgebou gelê. Dié gebou is op 18 Desember 1895 ingewy. Die boukoste het £3 914 beloop.

Ds. Retief was, volgens die gemeente se medewerker aan Ons gemeentelike feesalbum, “’n liefdevolle vader vir sy gemeente, minsaam in die omgang, versigtig in sy oordeel, deeglik in sy bearbeiding”. Die gevreesde maagkoors het sy hart aangetas en skielik, op 12 September 1915, is “die vrome stryder” tot hoër diens opgeroep.

Binne ses maande is die vakature gevul in die persoon van ds. G.L. van Heerde, later Algemene Sendingsekretaris. Op 12 April 1916 is hy en sy eggenote ontvang. Belangrik van sy dienstyd is die brandende sendingywer waarmee hy die gemeente geïnspireer het, die oprigting van Het Kinderhuis vir verwaarloosde en verweesde dogters (wat later na hom genoem is), en die oprigting van die hoërskool.

Op 24 Junie 1924 word ds. J.A.R. Volsteedt bevestig. Langer as 16 jaar het die Volsteedt-egpaar met groot seën en vrug gearbei. In sy tyd het die kerkraad amptelik besluit om Afrikaans as kanseltaal te erken. ’n Nuwe sendingkerk is gebou, asook ’n skoolkoshuis vir £5 000. Nadat ds. M.S. Louw drie jaar lank as hulpprediker gedien het, is hy in Julie 1939 as medeleraar beroep. Ds. Volsteedt het sy emeritaat op 1 Desember 1940 aanvaar, en is opgevolg deur ds. J.C. Cronje, wat op 15 Februarie 1941 bevestig is. “As ernstige godsman en wetenskaplike Bybelstudent het hy ‘n onuitwisbare indruk op die gemeente gelaat,” skryf die feesalbum se medewerker.

Ds. E.H. Botha het die nuwe kerk, wat ten bedrae van £42 000 opgerig is, se hoeksteen op 29 Maart 1951 gelê. Die argitekte was Keet, Green en Lochner. Omstreeks dieselfde tyd is ’n nuwe meisiekoshuis deur die gemeente opgerig.

Predikante

  • Johannes Daniël Retief, 12 Jan. 1882 – 20 Sep. 1915 (oorlede; sy enigste gemeente)
  • Gerrit Lodewyk van Heerde, 13 Apr. 1916 –1924
  • Johannes Albertus Roux Volsteedt,  20 Jun. 1924 – 1 Des. 1940 (emeritus; 4 Sep. 1946 oorlede)
  • Marthinus Smuts Louw, 30 Sep. 1939 – 1944
  • Johannes Christoffel Cronjé, 15 Feb. 1941 – 1943
  • Theunis Christoffel Botha Stofberg,  11 Mrt. 1944 – 1947
  • Johannes Gert Stephanus van Jaarsveld, 10 Feb. 1945 –1948
  • Eduard Hauman Botha, 7 Feb. 1948 – 1956
  • Willem Johannes du Toit, 3 Des. 1949 – 1954
  • Pieter De Vos Grobbelaar, 10 Nov. 1956 –
  • Willem Jacobus le Roux, 9 Jul. 1954 –1959